Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
42 km net spoorloos

’n Voormalige waarnemende hoof van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) word van bedrog en geldwassery beskuldig wat verband hou met die diefstal van 42 km spoorlyn tussen Maclear en Sterkstroom in die Oos-Kaap.

Die trajek, wat deur spoorentoesiaste beskryf word as een van die mooiste in die wêreld, was ten tyde van die diefstal bestem vir herstel, omdat Transnet dit aan private kontrakteurs wou verhuur.

Een van die potensiële kliënte was die Apple Express Rail Company wat gehoop het om toere vir stoomtreingeesdriftiges op dié lyn aan te bied. Nerina Skuy, uitvoerende hoof van die Apple Express, is oortuig dat hulle tussen 1 000 en 2 000 stoomtreingeesdriftiges en -fotograwe van oor die wêreld heen kon lok om op dié trein te ry. Nog ’n potensiële kliënt was die steenkoolmyn by Indwe, sowat 100 km oos van Sterkstroom.

Van die ambisieuse planne het egter niks gekom nie nadat die spoorstawe en dwarslêers na bewering vir skroot verkoop is deur Mthuthuzeli Swartz, wat in November 2018 van sy pligte as waarnemende hoof van Prasa onthef is, en sy medepligtige, Syed Nadhir Mohiudeen.

‘Hy is eenvoudig oneerlik . . .’

Volgens die klagstaat het Mohiudeen in September 2012 ’n maatskappy met die naam Akisisa, waarvan Adrian Samuels ’n direkteur was, gekontak met die aanbod van 360 000 ton gebruikte “spoorwegmateriaal” – ou spoorstawe en dwarslêers. Akisisa het blykbaar ’n Turkse kliënt vir die staal gehad. Mohiudeen het toe vir Samuels spoorwegskroot in die spoorwegwerf in Wood­stock in Kaapstad gaan wys waarna hulle saam met Swartz gaan koffie drink het.

Gedurende dié ontmoeting het Samuels en sy neef Cedric, wat ook vir Akisisa gewerk het, ’n skriftelike aanbod van R5 miljoen vir die materiaal aan Swartz en Mohiudeen gemaak.

Toe die Samuels-neefs egter in Oktober 2012 opdaag om die staal en dwarslêers te laai, was daar verskeie verskonings waarom dit nog nie beskikbaar is nie. Nogtans het Mo­hiudeen, Swartz en die Samuels-neefs in die V&A Waterfront in Kaapstad vergader waar Swartz vir ’n voorafbetaling van R1,5 miljoen gevra het. Die bedrag is betaal en Mohiudeen het die kwitansie onderteken. Maar steeds kon Swartz en Mohiudeen nie hul belofte gestand doen om die materiaal te lewer nie – soos dit later sou blyk, omdat dit nie hulle s’n was om te verkoop nie.

‘Hy is eenvoudig oneerlik . . .’

Swartz het toe met ’n ander plan vorendag gekom: Om die ongebruikte spoorlyn tussen Maclear en Sterkstroom te gaan lig.

In November 2012 het ’n arbeidsmag van Akisisa begin om die stawe en dwarslêers te lig en dit meer as 400 km per pad na Durban te vervoer waarvandaan dit uitgevoer is. Ongeveer drie maande later, op 8 Februarie 2013, het sekerheidswagte van Transnet op die werkers afgekom nadat hulle reeds 42 kilometer spoorstawe en -lêers weggery het.

Akisisa het onmiddellik onskuld gepleit en aan Transnet gesê hulle het die materiaal by Swartz en Mohiudeen gekoop.

Swartz is eindelik in Januarie vanjaar in hegtenis geneem, en Mohiudeen se arrestasie het in Februarie gevolg.

Mthuthuzeli Swartz, voormalige waarnemende hoof van Prasa.

Albei is uit op borgtog van R2 000.

Die saak sal op 6 September in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Port Elizabeth voortgaan.

Swartz is in November 2018 as waarnemende hoof van Prasa afgedank omdat hy “die werwings- en dissiplinêre prosesse van Prasa misbruik het om diegene wat nie met hom wou saamstem nie te viktimiseer, te teister en hul werk onuithoudbaar te maak.

“Hy is eenvoudig oneerlik . . .

“Daar kan van geen werknemer verwag word om so ’n werknemer in sy diens te hou nie,” het Theo Mokhatla, voorsitter van die dissiplinêre komitee, destyds beslis.

Die spoorlyn tussen Maclear en Sterkstroom in die 1980’s. Foto: A Gerrard

Swartz het ook in Februarie 2007 sy senior pos by die Kaapstad-metro verloor weens sy rol in ’n omstrede tender van oor die R8 miljoen. Hy het teen sy afdanking geappelleer, maar dit is onbekend of dit suksesvol was.

Prasa wou nie kommentaar lewer nie omdat Swartz nie meer ’n werknemer is nie.

Swartz en Mohiudeen het nie op die koerant se navrae reageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.