Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
5 polisielede op borgtog ná man se dood

Vyf polisiebeamptes van Louwville in Vredenburg aan die Weskus, wat verlede week deur ondersoekers van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) op ’n klag van moord in hegtenis geneem is, is Donderdag op borgtog van R1 500 elk vrygelaat.

Die vyf polisielede, konst. Alvin Koopman, sers. Franklin van Rooyen, sers. Mzamo Mbovane, ao. Guilliam (Fanie) van Zyl en konst. Ronaldo Joubert, word daarvan beskuldig dat hulle die 25-jarige Jason Heyns van Hopland in Vredenburg op 23 Oktober vanjaar aangerand het toe hulle hom in hegtenis geneem het.

Ndileka Cola, Opod-woordvoerder, het in ’n verklaring gesê die polisielede het Heyns vir mediese behandeling na die Vredenburg-hospitaal geneem. Weens die erns van sy beserings is hy egter dadelik oorgeplaas na die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad, waar hy sewe dae later beswyk het.

Cola het gesê die polisie het nie die voorval ingevolge Opod-wetgewing aangemeld nie.

Konst. Alvin Koopman Foto: Facebook
Sers. Franklin van Rooyen Foto: Facebook
Sers. Mzamo Mbovane Foto: Facebook
Konst. Ronaldo Joubert Foto: Facebook
Ao. Guilliam (Fanie) van Zyl Foto: Verskaf

Opod het daarvan te hore gekom nadat Heyns se familie sy dood op 3 November by die polisie aangemeld het.

Sy het gesê dat Opod se ondersoekers begin het om die voorval te ondersoek en die vyf polisielede is geïdentifiseer en verlede Woensdag in hegtenis geneem.

Hulle het Donderdag hul eerste verskyning in die hof gemaak. Die saak is toe tot Donderdag 3 Desember vir aansoeke om borgtog uitgestel.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het Donderdag bevestig dat die beskuldigdes op borgtog vrygelaat is.

As deel van hul borgtogvoorwaardes mag hulle nie enige getuies kontak nie. Hulle mag vir die duur van die saak ook nie na die Louwville-polisiekantoor terugkeer nie, maar hul bevelvoerder vra om hulle na ander polisiekantore te ontplooi. Hulle mag ook nie die Wes-Kaap sonder die toestemming van die hof verlaat nie.

Ntabazalila het gesê die staat het borgtog teengestaan, maar dat die landdros gesê het dit is in hierdie stadium nie sy werk om te besluit wat op die toneel gebeur het nie.

Hy het gesê dit is in die beste belang van geregtigheid vir die beskuldigdes om op borgtog vrygelaat te word.

Die saak is tot 27 Januarie 2021 vir verdere ondersoek uitgestel.

Meer oor:  Jason Heyns  |  Vredenburg  |  Weskus  |  Polisiegeweld  |  Aanranding  |  Opod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.