Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
5 vra nie borgtog ná verkragting, moord op 14-jarige

Die vyf beskuldigdes wat in verband met die moord en verkragting van ’n tienermeisie in Port Elizabeth se noordelike voorstede aangekla is, het nie om borgtog aansoek gedoen nie.

Hulle het Maandag vir die eerste keer in die landdroshof in Port Elizabeth verskyn waar hulle vir die moord en verkragting van Patronicia (Mandy) Jordaan (14) aangekla is.

Die polisie sê die bewering is dat Mandy verlede week in ’n huis in Gelvandale om die beurt deur ’n groep mans verkrag is voordat sy vermoor is. Haar lyk is Donderdagoggend met verskeie steekwonde in ’n beboste gebied tussen Algoapark en Gelvandale gekry.

Die vyf beskuldigdes van tussen 18 en 33 jaar oud, is Saterdag by drie huise in die noordelike voorstede deur die polisie vasgetrek.

Patronicia (Mandy) Jordaan is verlede week in Port Elizabeth se noordelike voorstede vermoor. Haar lyk is Donderdag in bosse tussen Gelvandale en Algoapark aangetref. Foto: Facebook, S.N.A.K. (Northen Alliance)

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê die beskuldigdes het besluit om nie om borgtog aansoek te doen nie, waarna die saak tot 24 Maart uitgestel is.

Hul name word weerhou totdat hulle op die seksuele aanklagte gepleit het.

Naidu sê die polisie se ondersoek vir verdere inhegtenisnemings het Maandag voortgeduur.

Gary van Niekerk, president van die nuutgestigte Northern Alliance-party in die noordelike voorstede, het sy kommer oor die onlangse moorde op vroue in die gebied uitgespreek.

Benewens Mandy, is nog twee vroue binne twee weke hier vermoor.

Samantha Bantom (28) van Salt Lake is op Kersdag vol bloed in die bosse by Pamplinstraat deur ’n verbyganger gekry. Sy is glo aangerand en verkrag voordat sy vir die dood agtergelaat is. By die hospitaal is sy breindood verklaar.

Twee dae later is die lyk van Salvana Jeanette Seloane (37) in Van Durrenstraat in Gelvandale aangetref. Sy is ook glo verkrag voordat sy vermoor is. Haar lyk is deur haar moordenaar aan die brand gesteek.

Uit die drie moorde het die polisie nog net mense vasgetrek in verband met die moord op Mandy.

Van Niekerk sê weens die moorde wat oor ’n kort tydperk in dieselfde gebied gebeur het, moet die moontlikheid van ’n reeksmoordenaar ondersoek word.

Naidu sê egter die polisie ondersoek die moorde as geïsoleerde gevalle en vermoed nie tans dat ’n reeksmoordenaar betrokke is nie.

Leidrade word in al die sake opgevolg, sê Naidu, wat verwag dat nog ’n deurbraak binnekort kan kom.

Intussen word bewusmakingsveldtogte teen geslagsgeweld vir die noordelike voorstede beplan. Van Niekerk meen die toename in misdaad kan toegeskryf word aan ’n tekort aan polisiehulpbronne en swak dienslewering in die gebied.

“Daar is net twee polisiekantore wat ’n baie groot gebied moet bedien. Boonop is daar talle straatligte wat buite werking is en genoeg donker plekke laat vir misdaad om te gebeur.

“Die wetteloosheid in die noordelike voorstede is ’n direkte nagevolg van wanadministrasie in die plaaslike regering en dit is tyd vir ’n verandering.”

Hy waarsku teen ’n tyd dat inwoners gaan dink optogte en praat het nie meer die gewenste impak nie en dat hulle dan na ernstiger dade sal neig.

“Ons wil nie hê die gemeenskap moet die reg in eie hande neem nie. Ons moet dit ten alle koste vermy. Wanneer mense voel daar word nie meer omgegee oor misdaad en moorde nie, raak dit gevaarlik en daarom glo ek meer polisie vir die gebied kan ’n verskil maak.”

Meer oor:  Borgtog  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.