Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
61 aanklagte teen Modack
Nafiz Modack, Zane Kilian en Jacques Cronje Vrydag in die beskuldigdebank in die streekhof in Blue Downs. Foto: Maygene de Wee

’n Totaal van 61 aanklagte, waaronder dié van moord op lt.kol. Charl Kinnear (52) op 18 September 2020, kan teen Nafiz Modack, vermeende sleutelfiguur in die Kaapse onderwêreld, ingedien word.

Modack is Vrydag van Kinnear se moord aangekla. Volgens die gewysigde en saamgestelde klagstaat word hy ook deur aanklagte wat verband hou met georganiseerde misdaad in die gesig gestaar. Dit sluit in die bestuur van ’n misdaadbende, deelname aan so ’n misdaadbende en rampokkery.

Ander aanklagte is dié van sameswering om moord te pleeg, poging tot moord, sameswering om plofstowwe te besit, die aanskaf van plofstowwe sonder die nodige permitte, korrupsie, geldwassery, intimidasie, ontvoering, afpersing, kwaadwillige saakbeskadiging en die onderskepping van kommunikasie.

Modack het Vrydag saam met Zane Kilian, Jacques Cronje, Ricardo Morgan en sers. Ashley Tabisher in die streekhof in Blue Downs verskyn.

Van die aanklagte van sameswering om moord te pleeg en poging tot moord hou onder meer verband met die mislukte handgranaat-aanval op Kinnear se huis in November 2019.

Modack word daarvan beskuldig dat hy saam met Amaal Jantjies, Janick Adonis en Faeez Smith die aanval op Kinnear se huis wou uitvoer en daarmee vir Kinnear, sy vrou, Nicolette Kinnear, hul twee seuns, Carlisle en Cashleigh, en twee lede van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid wat statiese beskermingsdienste by Kinnear se huis verrig het, wou vermoor.

Kinnear is op 18 September 2020 voor sy huis in Gearingweg, Sidneyvale, in Bishop Lavis deur ’n nog onbekende man doodgeskiet.

Ricardo Morgan (36), wat in ’n ander saak saam met Modack teregstaan op aanklagte van sameswering om moord te pleeg, poging tot moord, die onderskep van kommunikasie, ontvoering, geldwassery en intimidasie, is ook Vrydag by die Kinnear-saak gevoeg.

Die aanklagte van intimidasie, ontvoering, geldwassery, sameswering om moord te pleeg en poging tot moord hou verband met die ontvoering van Sameer Vallie in Maart 2020 en die mislukte huurmoordaanval op William Booth, ’n bekende Kaapse strafregprokureur, in April 2020.

Die staat voer aan Modack het Kilian betaal om Kinnear se selfoon na te spoor en dat hy betaal het om Kinnear te laat vermoor.

Kilian is reeds vier dae ná Kinnear se moord in hegtenis geneem en is sedert September verlede jaar in aanhouding.

Daar is ook ’n magdom aanklagte wat verband hou met die onderskep van kommunikasie.

Luidens die klagstaat het Modack en Kilian sedert Maart 2020 nie net Kinnear en Booth se selfoonseine onderskep nie, maar ook verskeie kollegas van Kinnear, soos sers. Leatitia van der Horst, konst. Filton Abrahams, sers. Wayne Leukes, kapt. Althea Jeftha, genl.maj. Andre Lincoln, sowel as dié van genl.maj. Jeremy Vearey en JP Smith, burgemeesterskomiteelid van die Kaapstad-metroraad.

Modack en Kilian word ook daarvan aangekla dat hulle die selfone van Joel Booysen, Mark Lifman, Jerome “Donkie” Booysen, Andre Naude, kol. Paul Hendricks van die Valke en dié van Ralph Stanfield nagespeur het.

Joel is Jerome Booysen se seun. Lifman, Naude en Booysen word algemeen beskou as Modack se vyande. Stanfield is die vermeende leier van die 28-bende van Beacon Valley in Mitchells Plain en Valhalla Park op die Kaapse Vlakte.

Luidens die klagstaat was Modack ook saam met Jantjies en Tabisher in ’n korrupte verhouding. Die staat beweer dat Modack vir Tabisher R10 000 betaal het en ’n selfoon van R3 500 gegee het sodat hy (Tabisher) inligting oor klopjagte en operasies teen hom (Modack) vir hom kon gee.

Die geld en selfoon het Modack volgens die staat via Jantjies aan Tabisher gegee.

Modack se regsverteenwoordiger, adv. Dirk Uys SC, het Vrydag beswaar by die hof aangeteken en gesê die staat het nog nie ’n opsomming van sy saak teen hulle aan die verdediging gegee nie.

Hy het gesê die borgtogaansoek gaan Maandag begin, maar dat die naweek nie genoeg tyd is om voor te berei nie, veral as hulle nie weet wat die aanklagte is nie. “Waarop moet ons voorberei?” wou hy weet.

Die staatsaanklaer, adv. Blaine Lazarus, het daarop gesê die staat het die saamgestelde klagstaat vir die verdediging gegee en die aanhef tot al die aanklagte gee ’n duidelike idee van dít waarop die beskuldigdes teregstaan.

Morgan is die enigste van die beskuldigdes wat Vrydag op borgtog vrygelaat is. Die staat het glo ná ’n gesprek met sy regsverteenwoordiger, Bruce Hendricks, besluit dat hulle nie borgtog vir hom gaan teenstaan nie.

Hy is egter onder streng voorwaardes vrygelaat en moet sy paspoort en alle ander reisdokumente indien. Hy mag ook nie die provinsie sonder die toestemming van die ondersoekbeampte, kol. Eddie Clarke, verlaat nie. Hy mag ook nie van adres verander sonder Clarke se medewete nie en moet hom Maandae en Vrydae tussen 06:00 en 18:00 by sy plaaslike polisiekantoor aanmeld.

Hy is ook in huisarres vanaf 18:00 tot 06:00.

Die saak is tot Maandag uitgestel vir hul borgtogaansoek om te begin. Hulle bly in aanhouding.

Meer oor:  Zane Kilian  |  Nafiz Modack  |  Charl Kinnear
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.