Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
7 grenspos-polisielede swaar gestraf oor korrupsie

Sewe polisiebeamptes van die Vrystaat is Woensdag gevonnis nadat hulle vroeër op aanklagte van korrupsie, rampokkery en oortredings van die immigrasiewet skuldig bevind is.

Regter Martha Mbhele het Philemon Moloi (32), Lapapa Gert Thithi (37), Dumisane Jeffrey Matobako (35), Shale Vincent Mokhitli (37), Modise Abel Malefane (37) en Manthoto Edith Qasha (35), almal van Ficksburg, en Malefetsane Amos Khala (33) van Bethlehem, in die hooggeregshof in Bloemfontein gevonnis.

Mbhele het die beamptes, wat almal by die Ficksburg-grenspos tussen Suid-Afrika en Lesotho gestasioneer was, verlede maand skuldig bevind.

Moloi is saam met Khala tot 174 jaar tronkstraf gevonnis terwyl Thithi tot 201 jaar tronkstraf gevonnis is, Matobako tot 207 jaar en Mokhitli tot 265 jaar tronkstraf. Malefane en Qasha is onderskeidelik 149 en 88 jaar tronkstraf opgelê.

Die vonnisse sal samelopend uitgedien word met Moloi, Khala, Thithi, Matobako, Mokhitli en Malefane wat almal effektief 12 jaar tronkstraf sal uitdien en Qasha, die enigste vrou tussen hulle, wat ses jaar tronkstraf sal uitdien.

Hulle het gedurende die tydperk wat hulle die misdade gepleeg het, sowat R60 400 uit hul korrupte aktiwiteite gemaak.

Die polisiebeamptes het tereggestaan op 60 aanklagte van onderskeidelik korrupsie, rampokkery en oortredings van die Wet op Immigrasie.

Nie almal het op al die aanklagte tereggestaan nie, maar al sewe is wel skuldig bevind aan rampokkery en die oortreding van die Wet op Immigrasie.

Die staat het aangevoer dat die geregsdienaars, wat in Maart 2017 in ’n operasie deur die Valke in hegtenis geneem is, geld aanvaar het om Lesotho-burgers sonder die nodige dokumente tussen Suid-Afrika en Lesotho te laat reis.

Verder het hulle in die pleeg van hul misdade as ’n onderneming opgetree. Hulle het mense tussen R100 en R250 gevra om die grens oor te steek sonder wettige dokumente. Al die geld wat ingesamel is, sou dan tydens die skof aan een persoon gegee word. Nadat die skof geëindig het, is die geld tussen die sewe verdeel. Die beamptes het tussen R100 en R2 500 per dag verdien.

Hulle het gedurende die tydperk wat hulle die misdade gepleeg het, sowat R60 400 uit hul korrupte aktiwiteite gemaak.

Adv. Mvuseni Ponye, vir die staat, het die hof in sy betoog ter strafverswaring versoek om die beskuldigdes ’n swaar straf op te lê omdat hulle polisiebeamptes was en daar van hulle verwag was om reg en orde te handhaaf. Hulle het ook die verantwoordelikheid gehad om te verseker dat almal wat die land binnekom, die vereiste dokumente het.

“Dit gaan nie oor die bedrag geld wat betrokke is nie, maar oor die misdadige optrede van die polisiebeamptes en die skade wat hulle die land berokken het.

“Hul misdadige optrede het die lewe van baie Suid-Afrikaners in gevaar gestel. Hulle het selfs toegelaat dat voortvlugtendes Suid-Afrika binnekom.

“Die enigste straf wat die hof hulle kan oplê, is direkte langtermyntronkstraf,” het Ponye betoog.

Adv. Navilla Somaru, waarnemende direkteur van openbare vervolgings in die Vrystaat, het Ponye en adv. Thokozile Zumane, die vervolgingspan, sowel as kapt. Michael Kortman van die Valke, geloof vir hul goeie werk wat daartoe gelei het dat die beskuldigdes aan die pen ry.

Meer oor:  Lesotho  |  Bethlehem  |  Ficksburg  |  Bloemfontein  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.