Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
7 in hof ná hulle NW-amptenaar glo met dood dreig

Die polisie in Noordwes het die afgelope naweek sewe mense vasgetrek wat glo kontrakteurs in die provinsie gekeer het om voort te gaan met onder meer herstelwerk aan paaie omdat hulle self hierdie regeringskontrakte wil hê.

Hulle is almal op aanklagte van intimidasie en afpersing in ’n nedersetting naby Mahikeng in hegtenis geneem, sê brig. Sabata Mokgwabone, provinsiale polisiewoordvoerder, in ’n mediaverklaring.

Die sewe het na bewering ook tussen September en Oktober regeringsamptenare geïntimideer. Volgens Mokgwabone het hulle beweer hulle is lede van die Mahikeng-sakeforum.

Die sewe, almal tussen 31 en 53 jaar oud, sou na verwagting Maandag in die landdroshof in Mmabatho verskyn het.

Die lede van die ‘sakeforum’ het glo geëis dat tenders aan hulle toegeken word en doodsdreigemente gemaak teen die administrateur en van sy personeel.

Tydens een van die voorvalle op 8 Oktober het die verdagtes glo in ’n regeringsamptenaar se kantoor gestorm terwyl hy in ’n vergadering met die departement van openbare werke was. Hulle het glo gekla dat die departement nie tenders aan hulle toegeken het nie.

“Een van die verdagtes het glo, voordat hulle die kantoor verlaat het, gedreig om die amptenaar te skiet.”

In nog ’n beweerde voorval twee dae later is die verdagtes wéér na die departement van openbare werke se kantoor waar hulle glo op ’n ongeskikte trant met ’n amptenaar gepraat en hom ook met die dood gedreig het.

Vuyisile Ngesi, woordvoerder vir dr. Job Mokgoro, Noordwes se premier, het vroeër gesê Samuel Thobakgale, administrateur van die departement, en sy ondersteunende personeel is in van die voorvalle geteiken.

“Die lede van die ‘sakeforum’ het glo geëis dat tenders aan hulle toegeken word en doodsdreigemente gemaak teen die administrateur en van sy personeel,” het Ngesi kort ná die voorval in Oktober gesê. “Hulle het ook daarop aangedring om met Thobakgale te vergader.”

Die polisie is ontbied om die situasie te ontlont. Die groep het die gebou toe verlaat, maar glo gedreig om later terug te keer. Thobakgale het gesê hy het besluit om die gebeure by die polisie aan te meld weens die ernstige dreigemente, wat glo ingesluit het dat hy doodgeskiet sal word.

Die lede van die groep het glo kontrakte vir veral paaieprojekte geëis, wat onmoontlik is omdat dit ’n oortreding is van verkrygingsprosedures, het Thobakgale gesê.

Departementele projekte en tender-inligtingsessies is glo ook voorheen ontwrig, wat onder meer tot vertragings met dié projekte gelei het. “Die groep se ontwrigting van paaieprojekte stel padgebruikers se lewe in gevaar omdat daar nie tyd is om gepaste veiligheidsmaatreëls in werking te stel wanneer kontrakteurs projekte inderhaas (weens intimidasie) moet verlaat nie,” het Thobakgale gesê.

Volgens hom maak die departement goeie vordering met paaieprojekte in dié provinsie wat berug is om sy swak paaie.

“Altesame 64 kontrakteurs uit die provinsie is aangestel. Ons adverteer ook nou vir die aanstelling van ’n verdere 150 kontrakteurs binne die volgende drie jaar.”

Meer oor:  Mahikeng  |  Brig. Sabata Mokgwabone  |  Noordwes  |  Dreig  |  Kontrakteurs  |  Intimidasie  |  Afpersing  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.