Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
VBS: Beskuldigdes kry elk borgtog van R100 000

Sewe beskuldigdes het Donderdag in die streekhof in Palm Ridge in Johannesburg verskyn in verband met onder meer grootskaalse bedrog by VBS Mutual Bank.

Tshifhiwa Matodzi, voormalige voorsitter van VBS; Andile Ramavhunga, uitvoerende hoof, Phophi Mukhodobwane, tesourier; Paul Magula en Ernest Nesane, albei destyds verteenwoordigers van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) op VBS se direksie; lt.genl. Phalaphala Avhashoni Ramikosi , oud- finansiële hoof van die polisie en ’n nie-uitvoerende direkteur van VBS; en Nhlanhla (Sipho) Malaba, afgedankte ouditeursvennoot van KPMG, het in die beskuldigdebank gestaan.

Die agtste beskuldigde in die saak, Philip Truter, finansiële hoof van die bank, kon nie die hofverrigtinge bywoon nie nadat hy positief getoets het vir die koronavirus.

Tshifhiwa Matodzi. Foto: Lucky Morajane
Netwerk24

Die agt word onder meer aangekla van bedrog, korrupsie en geldwassery. Hul inhegtenisneming kom 'n bietjie meer as twee jaar nadat VBS in kuratele geplaas is.

Die Valke se ondersoek dui daarop dat hulle na bewering regstreeks of onregstreeks voordeel ter waarde van R120 miljoen uit die bedrog getrek het.

VBS is ’n onderlinge bank wat meestal in Limpopo sake gedoen het. Nagenoeg R2,3 miljard het by VBS “verdwyn” en duisende bejaarde en arm mense van veral Limpopo het hul spaargeld verloor toe die bank gelikwideer moes word.

Hein van der Merwe, staatsaanklaer, sê die staat sal nie borgtog teenstaan nie. Al die verdagtes is tans in polisieaanhouding. Volgens Van der Merwe sal dit ’n bylae 5-borgtogaansoek wees.

Matodzi se regsverteenwoordiger het aan die hof gesê sy kliënt sal vir die doeleindes van die borgtogaansoek skuld ontken op die aanklagte teen hom. Matodzi sê in sy beëdigde verklaring hy is gesekwestreer en tans werkloos. Diabetes is onlangs by hom gediagnoseer en hy loop 'n groter gevaar om Covid-19 op te doen as hy langer in aanhouding is.  

Ramavhunga se regsverteenwoordiger sê ook hy sal skuld ontken. Hy sê in sy beëdigde verklaring dat ook hy gesekwestreer is, maar dat hy R30 000 per maand verdien uit beleggings en as direksielid van 'n aantal maatskappye.

* Die hof is Donderdagoggend verdaag. Landdros Brian Nemavhidi het gesê hy sal nie verder met die saak voortgaan alvorens daar nie ’n veilige afstand tussen hofgangers gehandhaaf kan word nie. Talle mense is gevra om die hof te verlaat.

12:22

Die beskuldigde Mukhodobwane sê in sy verklaring hy vertrou die feite in die hofsaak sal wys dat hy onskuldig is. In sy verklaring, wat deur sy regsverteenwoordiger voorgelees is, sê hy verder hy sal nie die staat se voorgestelde borgtog van R100 000 kan betaal as hy borgtog kry nie. Hy sê hy is werkloos en sal met die hulp van vriende en familie net R20 000 bymekaar kan kry.

12:32

Malaba sê hy sal net borgtog van R10 000 kan bekostig. Hy is, volgens sy verklaring, 'n werkende geoktrooieerde rekenmeester wat 'n netto salaris van R25 000 per maand verdien. Malaba besit ook 'n Land Rover ter waarde van meer as R300 000 en twee Audi's.

12:39

Ramikosi sê hy sal ook vir borgtogdoeleindes skuld ontken. In sy verklaring, wat deur sy regsverteenwoordiger voorgelees is, sê Ramikosi hy werk as 'n private belastingkonsultant. Hy was, luidens die verklaring, voorheen 'n finansiële beampte van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Hy beklemtoon ook dat hy homself aan die Valke oorgegee het.

12:48

Nesane sal ook skuld ontken. Hy sê hy is werkloos en help sy vrou met haar sakeonderneming. Hy het ook drie minderjarige kinders.

12:53

Magula sal ook vir borgtogdoeleindes skuld ontken. Hy sê hy is werkloos en sal slegs borgtog van R15 000 kan bekostig. Hy het, luidens sy verklaring, sy pensioengeld onttrek om sy vrou en drie minderjarige kinders te versorg.

13:15

Hein van der Merwe, staatsaanklaer, lees nou die verklaring van lt.genl. Louis Schneller, hoofondersoekbeampte in die saak. Daarin sê hy dat Truter, Matodzi, Ramavhunga en Mukhodobwane reeds op 4 Julie 2017 geweet het dat VBS insolvent is en dat die finansiële state van 31 Maart 2017 dus vals is. Die bank sou geen uitbetalings kon maak nie.

Luidens die verklaring word meer as 20 munisipaliteite in vier provinsies betrek wat van hul geld by VBS belê het. Ramikosi, as nie-uitvoerende direkteur, het ook hiervan geweet. Luidens die verklaring het Magula en Nesane, as verteenwoordigers van die OBK in VBS se direksie, die OBK op grond van die valse state mislei om geld te belê in die bank. 

13:21

14:36

Landdros Brian Nemavhidi het borgtog van R100 000 elk aan die sewe beskuldigdes in die VBS-hoofsaak toegestaan. Die beskuldigdes het tot Donderdag om 16:00 om dit te betaal, anders sal hulle by die polisiekantoor in Midrand aangehou word. Die saak is uitgestel tot 8 Oktober.

14:40

Nemavhidi sê die beskuldigdes het aan die hof voorgehou dat hulle weens 'n gebrek aan inkomste nie die 'n hoë bedrag borgtog sal kan betaal nie. "Maar julle kan nie armoede as verweer aanbied terwyl julle teregstaan op aanklagte rakende die bedrag van R2,3 miljard nie," het die landdros gesê. 

Meer oor:  Vbs Bank  |  Vbs-Plundering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.