Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
8 maatskappye sleep Eskom hof toe

Agt maatskappye wat grootskaalse nywerhede bedryf en ’n konstante, ononderbroke elektrisiteitstoevoer nodig het, het Eskom in die dringende hof gepak oor sy plan om die Madibeng-munisipaliteit (Brits) se krag op geskeduleerde tye elke dag af te sny.

Die maatskappye se hofaansoek Maandag in die hooggeregshof in Pretoria het gelei tot ’n ooreenkoms dat die kragreus nie Madibeng se krag tot 26 Januarie sal afsny nie.

Die maatskappye is Bridgestone SA, Bosch SA, Syngenta Crop Protection, Inergy Automotive Systems SA, Mpact Brits Plastic Containers, Polystar Tape and Fabric, Polymark Recycling en Kromberg and Schubert.

Die aansoekers het Maandag ’n dringende, tussentydse interdik teen Eskom by die hof gevra, wat vir eers van die rol verwyder is weens die ooreenkoms. Dit kan later weer op die hofrol geplaas word.

Agt maatskappye wat grootskaalse nywerhede bedryf het Eskom in die dringende hof gepak. Foto: Gianluigi Guercia, AFP

Die maatskappye vra in dié aansoek dat Eskom beveel word om sy gedetailleerde besluit om die krag af te sny, asook die redes vir die besluit, verskaf. Die maatskappye vra ook dat Eskom nie die kragvoorsiening aan Madibeng afsny of onderbreek voordat Eskom sy besluit en die redes daarvoor verskaf nie.

Die maatskappye vra die hof dat die krag nie afgesny word totdat hulle hoofhofaansoek om Eskom se besluit tersyde te laat stel, afgehandel is nie. Dié hoofaansoek moet nog by die hof ingedien word.

Maandag se ooreenkoms, wat ’n hofbevel gemaak is, bepaal dat Eskom nié sy kennisgewings van 2 Desember 2016 en 10 Januarie vanjaar om Madibeng se krag af te sny tot 26 Januarie om 17:00 sal uitvoer nie.

Gerrit Greyling, administratiewe mensehulpbronbestuurder van Bridgestone, het in hofstukke gesê die dringende aansoek kom teen die agtergrond van Eskom se aanhoudende stryd om sy “onvermoë” om elektrisiteit aan die Suid-Afrikaanse publiek te voorsien, te oorkom.

Eskom het die gelisensieerde monopolie oor kragvoorsiening in Suid-Afrika. Die munisipaliteite is op hul beurt gelisensieer deur die Nasionale Energiereguleerder om die elektrisiteit te versprei aan die eindverbruikers, soos dié maatskappye.

Munisipaliteite is berug daarvoor dat hulle Eskom nie vir hul kragverbruik betaal nie en Madibeng het ’n “deurlopende geskiedenis” van wanbetaling aan Eskom.

Greyling sê die hofaansoek is dringend, want Eskom wil Madibeng se krag tussen 06:00 en 08:00 afsny en 17:00 tot 19:30 van Maandae tot Vrydae en oor naweke tussen 08:30 tot 11:00 en 15:00 tot 17:30, totdat Madibeng sy skuld aan Eskom delg.

Die afsnytydperk kan onbepaald of minstens baie lank wees.

Dit sal katastrofies vir die maatskappye se sake wees.

Dít beteken die maatskappye sal vir vier en ’n halfuur per dag in die week en vyf uur per naweeksdag nie elektrisiteit kry nie.

Dit sal ’n ramp vir die maatskappye en hul sowat 2 400 werknemers afgee

Ononderbroke kragvoorsiening vir dié groot nywerhede is noodsaaklik vir hul operasionele volhoubaarheid.

"Dit sal ’n ramp vir die maatskappye en hul sowat 2 400 werknemers afgee.

"Baie van dié mense sal hul werk verloor. Dit sal verwoestend wees vir die ekonomie in Madibeng en omgewing."

Die maatskappye sê hulle het ’n grondwetlike reg om hulself teen inmenging van hul regte op handel en besit van eiendom te beskerm.

Dat Madibeng daarin misluk om Eskom te betaal vir krag, het dié regte in gedrang gebring.

Greyling sê Eskom was verplig om “alle alternatiewe” en minder drastiese stappe te oorweeg om Madibeng se skuldvereffening uit hom te dwing.

“Minder drastiese opsies kon insluit: die terugtrekking van Madibeng se lisensie (om elektrisiteit te versprei) en die oorname van die elektrisiteitsvoorsiening deur Eskom.”

Die maatskappye meen Eskom was verplig om hulle te raadpleeg in sy besluite oor die maniere om die skuld uit Madibeng te dwing. Eskom het dit nie gedoen nie en eensydig die besluit geneem.

Die maatskappye sê Eskom se besluit is irrasioneel. Dit gaan verwoestende gevolge vir onskuldige eindverbruikers hê wat die plaaslike en nasionale ekonomie ondersteun.

Meer oor:  Pretoria  |  Hooggeregshof  |  Maatskappye  |  8  |  Hof  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.