Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
9 van Baai vrygelaat op borgtog

Nege mense wat Vrydagoggend in hegtenis geneem is op aanklagte van bedrog, en wat sakelui en munisipale amptenare van die Nelson Mandelabaai-metro insluit, is almal op borgtog vrygelaat nadat hulle later die dag in die hof verskyn het.

Onder hulle is Walter Shaidi, hoof van die metro se afdeling vir infrastruktuur en ingenieurswese, Thando Ngcolomba, voormalige onderburgemeester van die metro, en Zandisile Qupe, voormalige streeksekretaris van die ANC en tans ’n raadgewer vir die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane.

Mongameli Bobani, voormalige burgemeester van die metro, wat verlede week aan Covid-19 dood is, sou volgens die Valke ook Vrydag in verband met die saak aangekeer word.

Die saak hou verband met beweerde bedrog rakende die geïntegreerde openbare vervoerdiens (IPTS)-projek van 2010 in die metro.

Op pad hof toe van die Mountweg-polisiekantoor, sit Zandisile Qupe (agter links) en Thando Ngcolomba (regs voor), terwyl die ander beskuldigdes hul gesigte wegsteek. Foto: Lulama Zenzile

Die groep beskuldigdes en ses entiteite is Vrydag in die stad se landdroshof aangekla terwyl Bobani uit die plaaslike Veremark-saal begrawe is. Bantu Holomisa, leier van die UDM, het Bobani as ’n vegter teen korrupsie beskryf.

Die groep beskuldigdes staan tereg op aanklagte van die oortreding van die Wet op die Bestuur van Munisipale Finansies (MFMA), bedrog, korrupsie en geldwassery van meer as R56,4 miljoen, terwyl die potensiële verlies sowat R200 miljoen beloop, het kol. Philani Nkwalase, Valke-woordvoerder, in ’n verklaring gesê.

Saam met die politici het die sakelui Fareed Fakir, Andrea Wessels, Rukaard Abrahams, asook Dawid le Roux, ’n prokureur, Mhleleli Mlungisi Tshamase, ’n voormalige IPTS-projekbestuurder, en Nadia Gerwel, ’n voormalige hooggeplaaste in die metro se finansiële departement, hulself vroeg Vrydagoggend op versoek van die Valke by die Mountweg-polisiekantoor oorgegee.

Dié saak spruit uit die Valke se aanvanklike ondersoek na bedrog en verkwiste geld van die IPTS.

Die beskuldigdes in die bedrogsaak verlaat Vrydagoggend die Mountweg-polisiekantoor. Voor stap Dawid le Roux, ’n prokureur. Agter hom is Walter Shaidi, hoof van die metro se afdeling vir infrastruktuur en ingenieurswese, met nog beskuldigdes wat aangestap kom. Foto: Lulama Zenzile

In April 2017 is Cheeky Watson, voormalige OP-rugbybaas, aangekeer saam met Mandisi Mkaza, voormalige direkteur van die Laphumilanga-taxivereniging, en Stephen Pretorius, voormalige uitvoerende hoof van Access Management wat toe aan die stuur van die Nelson Mandelabaai-stadion was.

Gerwel en Wessels is ook toe in hegtenis geneem en word onder meer van bedrog en geldwassery van sowat R12 miljoen aangekla. Die saak is steeds voor die hof.

In die jongste saak wat Vrydag voor die hof gebring is, word beweer munisipale ampsdraers het hul politieke mag in die metro se strukture misbruik om besluite rondom verkrygingsprosesse te beïnvloed.

Luidens ’n verklaring van Sipho Ngwema, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), word beweer die groep verdagtes het tussen 2013 en 2015 as ’n sindikaat gewerk om spesifieke verskaffers en konsultante onregmatig aan te stel en sodoende te bevoordeel.

’n Foto van Mongameli Bobani, voormalige burgemeester vir die Nelson Mandelabaai-metro, by sy begrafnisdiens. Foto: Lulama Zenzile

Volgens Ngwema het die staat nie borgtog teengestaan vir die nege beskuldigdes nie, maar omdat dit ’n bylae 5-misdryf is, moes die beskuldigdes ’n amptelike borgtogaansoek bring.

Almal is op borgtog van tussen R5 000 en R100 000 vrygelaat. Die saak is tot 12 Maart 2021 uitgestel.

Die staat sal intussen ’n versoek aan die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) rig om beskuldigdes op aanklagte van rampokkery in die hooggeregshof te vervolg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.