Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Poena-saak: ‘Bel die polisie!’
Chevonne Liebenberg Donderdag by die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria. Foto’s: Lisa Hnatowicz
Sherese Visser, ma van wyle Poena Visser en vrou van wyle Dewald Visser, kom Donderdag by die hof aan. By haar is Poena se broer, Jayson Shokkos.
Retief Liebenberg (links), wat op borgtog is, sy tweede vrou, Rozanne, en sy seun, Sheldon, kom gister by die hof aan.

Regter Mahomed Ismail het Donderdag gesê die “64 miljoendollar-vraag” is waarom Retief Liebenberg nie die polisie gebel het toe Poena Visser hom in sy huis gedreig het nie.

Liebenberg (50) staan in die Noord-Gautengse hooggeregshof tereg op twee moordklagte.

Die staat sê Liebenberg het Poena (19) en dié se pa, Dewald (47), vermoor. Liebenberg sê hy het op 31 Oktober 2013 in sy huis in die Ebotse-landgoed in Benoni uit selfverdediging geskiet.

Liebenberg se dogter, Chevonne (nou 20), was sowat vier maande lank in ’n verhouding met Poena.

Liebenberg het Donderdag getuig: “Ek was bang vir die Vissers. Hulle was aggressiewe mense.”

Hy het getuig Poena het vertel van ’n voorval waar “hulle” ’n pistool in ’n seun se mond gedruk het.

“Ek het vir Chevonne gesê sy’s deurmekaar met die verkeerde mense.”

Toe hy die aand van die skietery Chevonne in haar kamer gaan roep het vir ete, was Poena daar. Poena en Chevonne het gestry.

Poena, wie se motor nie by hul huis gestaan het nie, het gesê “hy gaan my opf*k”.

Hy het Poena “mooi” gevra om te gaan. Poena het geantwoord hy gaan Chevonne saamvat.

“Ek het vir hom gesê: ‘Jy kan nie my kind vat nie.’ ”

Volgens Liebenberg het hy sy prokureur gebel.

Poena het Visser sr. gebel, gesê hy gaan (ene) meneer G. bel en “vanaand gaan ons moeilikheid hê”.

Volgens Liebenberg het hy onthou sy oorgehaalde pistool is op die yskas waar hy dit die vorige dag vergeet het.

“Ek het verwag daar gaan baie mense kom en ons aanval. Daarom het ek die wapen by my gehou (wat hy in sy broek gedruk het).”

Ismail het Liebenberg gevra: “U is ’n redelik suksesvolle sakeman met ’n redelike intelligensie. As u dink iemand bedreig u, wat doen u eerste? Die eerste ding wat ’n redelike mens sal doen, is om die polisie te bel,” het Ismail gesê.

Liebenberg het geantwoord: “Dit was my intensie.”

Ismail het gesê: “Dis die kern van die saak. Waarom bel u nie die polisie nie?”

Liebenberg het geantwoord Chevonne het gesê sy en Poena sal die situasie onder beheer bring.

Ismail het gesê Liebenberg moes eerder beheer van die situasie geneem het.

“U is reg,” het Liebenberg geantwoord.

Ismail het gesê: “U het sóveel geduld gehad (met Poena), maar baie min logika.”

Liebenberg het geantwoord: “Ek was emosioneel. Ek het gedink Poena het haar seergemaak.”

Ismail het daarop gesê: “Soveel méér rede om die polisie te bel. Nieteenstaande die verergering van die situasie bel u nie die polisie nie.”

Visser sr. het ná Poena se oproep by die huis opgedaag, waarna Liebenberg die twee mans geskiet het.

Meer oor:  Poena Visser  |  Dewald Visser  |  Retief Liebenberg  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.