Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Henri van Breda-saak
Epilepsie kon weens stres van hofsaak wees, sê dokter

Henri van Breda se epilepsieaanvalle kan veroorsaak word deur die stres wat hy ervaar oor die moordverhoor.

Dr. James Butler, neuroloog wat spesialiseer in epilepsie, het Woensdag vir ’n derde dag in die hooggeregshof in Kaapstad getuig.

Nadat die staat sy kruisondervraging afgehandel het en sy saak gesluit het, was dit regter Siraj Desai se beurt om vrae te vra.

Henri van Breda staar voor hom uit op die laaste dag van sy verhoor. Die verdediging het hul saak Woensdag gesluit. Slotbetoë sal in Februarie aangehoor word. Foto: Adrian de Kock

Desai het begin deur die geskiedenis van Van Breda se aanvalle uiteen te sit. Die eerste was ná die moorde, die tweede in Februarie 2016 toe hy met sy meisie, Daniella Janse van Rensburg, oor die saak gepraat het en die derde was toe Van Breda vir Janse van Rensburg vertel het oor die stres wat die hofsaak veroorsaak.

“Volg dit dan dat Henri die aanvalle gekry het as gevolg van die saak?” het Desai gevra.

Butler het dit bevestig en gesê die tersaaklike punt wat Desai nie moet vergeet nie, is die feit dat stres ’n faktor is wat tot ’n aanval kan lei.

Hierna het Desai vir Butler gevra oor die diagnose en die tyd wanneer hy die diagnose gemaak het.

“Jy maak ’n diagnose sowat drie jaar ná die voorval, in die middel van ’n baie omstrede verhoor. Dit maak die diagnose seker vir jou baie moeilik?”

“Ja, ek verstaan die ingewikkeldheid van die saak, maar ek het juis deur onafhanklike maniere probeer om die diagnose te maak,” het Butler gesê.

Vroeër, voor Desai hom ondervra het, het adv. Pieter Botha, Van Breda se regsverteenwoordiger, vir Butler ’n vraag gevra oor Van Breda se diagnose.

“Ek het dit sterk betwyfel toe ek Henri as ’n pasiënt gekry het, weens die hofsaak, maar as dit ’n gewone persoon was, sou ek die pasiënt reeds die Vrydag gediagnoseer het. Omdat hy by die saak betrokke is, het ek ander onafhanklike toetse gedoen om seker te wees dat Henri wel epilepsie het,” het Butler gesê.

Botha het wel die punt gemaak, deur Butler wat dit bevestig het, dat Van Breda die Vrydag sy simptome aan Butler beskryf het en dat Butler eers die Sondag ’n diagnose gemaak het en Van Breda daarvan ingelig het. Van Breda het eers sy simptome beskryf voordat hy geweet het wat fout is met hom.

Botha het, nadat Desai sy vrae aan Butler gestel het, vir die getuie gevra hoe seker hy is oor Van Breda se epilepsie.

“Ek is so seker oor sy epilepsie as oor enige ander persoon s’n,” het Butler gesê.

Nadat Butler verskoon is, het die partye Desai in sy kamers gaan sien oor moontlike datums vir slotbetoë.

Desai het die saak tot 12 Februarie vir slotbetoë uitgestel.

Desai het gesê daar sal dan ’n verdaging van ’n paar weke wees voordat hy sy uitspraak sal lewer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.