Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Henri van Breda-saak
Het Henri gesit en wag dat Marli sterf?
Henri van Breda staar voor hom uit in die hooggeregshof in Kaapstad, voordat die saak ná byna twee maande Maandag hervat het. Foto: Jaco Marais

Het Henri van Breda drie sigarette gerook in ’n poging om te wag vir sy suster om dood te gaan?

Dít was een van die kwessies wat die staat aangevoer het in sy argument waaroor Van Breda nie eerlik was nie en dat dit wel gebeur het, omdat hy haar wou dood hê.

Van Breda staan tereg op drie aanklagte van moord, een klag van poging tot moord en een klag van regsverydeling.

Die staat voer aan Van Breda het sy ouers, Martin en Teresa, en sy ouer broer, Rudi, met ’n byl vermoor en ook vir Marli probeer vermoor.

Die staat voer ook aan dat Van Breda nie sy gesin probeer help het nie. Hy het eerder in die kombuis gaan sit en drie sigarette gerook voordat hy sy 16-jarige vriendin, eerder as die nooddienste, gebel het.

Adv. Susan Galloway, staatsaanklaer, kom op haar voete voordat sy haar slotbetoog lewer.Foto: Jaco Marais

Adv. Susan Galloway, staatsaanklaer, het Maandag haar slotbetoog in die hooggeregshof in Kaapstad gelewer. Sy het gesê die staat se saak bestaan grootliks uit omstandigheidsgetuienis en sy het stap vir stap deur die getuienis gegaan.

Volgens haar voer die staat aan Van Breda het die moorde met opset gepleeg en dat hy dit beplan het. Dit dra ’n minimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf.

Verder het Van Breda die polisie se werk belemmer deur die toneel te manipuleer. Galloway het gesê die selftoegediende beserings aan Van Breda se lyf en die leuens wat hy vertel het, is alles bewyse dat hy die polisie se werk probeer belemmer het.

Regter Siraj Desai het vir Galloway gevra, indien hy bevind Van Breda het sy wonde self toegedien, wat die hof hieruit moet aflei.

Adv. Susan Galloway, staatsaanklaer, is slaggereed om haar saak te stel. Foto: Jaco Marais

Galloway het gesê indien die hof dit as ’n feit bevind, beteken dit Van Breda se hele verweer is vals. Dan was daar nie ’n aanvaller in die huis wat sy gesin met ’n byl doodgekap het nie en ook nie een wat hom met ’n mes gesteek en beseer het nie.

Oor die verdediging se getuies het Galloway aangevoer hulle het geen feite voorgehou nie en hul getuienis moet as spekulasie gesien word.

Desai het Galloway kort-kort vrae gevra en sekere scenario’s aan haar gestel, soos die feit dat geen van die gesinslede om hulp geskree het tydens die aanval nie. Galloway het gesê dit kon wees omdat die gesin die aanvaller geken het.

Verder is dit ook vreemd dat daar geen vreemde voetspore gevind is nie en dat die gesin se hond, Sasha, geen voetspore agtergelaat het nie.

Galloway het begin deur te sê daar was geen bewyse dat die landgoed se sekerheidstelsel foutief was of dat daar daarmee gepeuter is nie. Daarbenewens is die gesin se huis in die middel van die kompleks, tussen verskeie ander huise.

Daar is ook niks uit die huis gesteel nie en die aanvaller sou nie wapens by die huis gekry het en dit agtergelaat het nie.

Die hof moet nou besluit of Van Breda “die dade gepleeg het en of hy ’n getuie tot die aanvalle was” het Galloway gesê.

Die verdediging sal Dinsdag sy betoog lewer.

’n Haarstyl so reg vir die tronk

Sommige bylmoordbeskuldigdes sou dalk weggeskram het van ’n drasties nuwe voorkoms laat in die verhoor. Veral ’n poenskop wat nie ’n bles verbloem, soos soms die geval by ouer mans is nie, maar eerder ’n haarstyl wat, soos een leser opgemerk het op Netwerk24, soos dié van iemand wat deur ’n tronkbarbier getakel is.

Op die vooraand van slotbetoë wil ’n mens dalk net laag lê in die beskuldigdebank, terwyl jou regspan vir oulaas jou kant van die saak probeer stel.

Maar Henri van Breda het homself al as eiesinnig bewys. Adv. Pieter Botha het oënskynlik verlede jaar gevoel sy kliënt moet nie self getuig nie, maar laat in die verrigtinge het Henri besluit hy wil tog self praat oor die nag toe drie lede van sy gesin met ’n byl vermoor is. Indien regter Siraj Desai Maandag verras was deur Henri se nuwe voorkoms, het hy niks laat blyk met sy aankoms in hof 2 by die hooggeregshof in Kaapstad nie.

Aan minder taktvolle of meer nuuskierige joernaliste het Van Breda gesê dis sy manier om water te bespaar. G’n harewas vir Henri dus. Maar in die hof van openbare menings is dié stap van waterbesparing voorwaar ’n vreemde keuse.


Meer oor:  Marli Van Breda  |  Henri Van Breda  |  Bylmoord  |  Sterf  |  Sigarette  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.