Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Opset vir moord of nie?
Retief Liebenberg se 80-jarige ma (links), wie se naam nie bekend is nie, het sy verhoor bygewoon. Voor stap Liebenberg se tweede vrou, Rozanne. Foto: deaan vivier

Regter Mahomed Ismail sal moet bepaal of Retief Liebenberg (50) moord gepleeg het, uit selfverdediging opgetree het of nie geweet het wat hy doen nie.

’n Ure lange warm regsdebat is Vrydag in die Noord-Gautengse hooggeregshof tussen Ismail, die staat en die verdediging gevoer toe die finale argumente in Liebenberg se verhoor gelewer is.

Ismail gee op 19 November uitspraak.

Die staat kla Liebenberg, ’n sakeman met ’n onderneming wat bykomstighede aan voertuie sit, van moord aan.

Die staat sê Liebenberg het Poena Visser (19) en dié se pa, Dewald (47), op 31 Oktober 2013 opsetlik en onregmatig by sy huis in die Ebotse-landgoed in Benoni doodgeskiet.

Poena het sonder sy skoene en met vier koeëlwonde in Liebenberg se kombuis gelê.

Visser sr. het met vyf wonde by die trappe net binne die voordeur gelê.

Poena en Liebenberg se dogter, Chevonne (nou 22), was toe vier maande in ’n verhouding wat haar pa nie goedgekeur het nie.

Sherese Visser, ma van Poena Visser, stap Vrydag by die hof uit. Foto: deaan vivier
Richard Liebenberg, een van Retief Liebenberg se broers, Vrydag buite die hof. Foto: deaan vivier
Retief Liebenberg Woensdag by die hof. Foto: Lisa Hnatowicz

Volgens Liebenberg was hy bang vir die Vissers.

Hy het Poena in Chevonne se kamer aangetref. Daarna het Visser sr. by die voordeur ingestap.

Die Vissers het hom aangerand en die skote het gevolg.

Adv. Phyllis Vorster, aanklaer, het gesê Liebenberg het gesien hy gaan waarskynlik teenstand van die Vissers kry en het sy pistool wat oorgehaal op die yskas gelê het, gaan haal. Só het hy opset (vir moord) gevorm.

Sy het gesê Liebenberg het ’n konstante haat vir Poena gehad. Weens die haat wou hy hom doodmaak.

Sy het gesê sy aanvaar die Vissers het Liebenberg aangerand, maar nie dat hy hulle gevrees het nie. Hy het direkte opset gehad om die Vissers dood te maak, het sy gesê.

Ismail het gesê dis ’n “onlogiese gevolgtrekking” dat Liebenberg opset gehad het om te skiet toe hy sy wapen gaan kry het.

Liebenberg het ’n reg om sy wapen by hom te hou. Hy kan dit selfs saamneem bed toe.

Hy het wel probleme verwag, maar nie geweet watter aard dit sou aanneem nie.

Vorster het geantwoord dis wel verdag dat Liebenberg die wapen gaan haal het.

Ismail het hierop gesê: “Ek kan nie iemand skuldig bevind op grond van agterdog nie.”

Vorster het gesê Liebenberg moet steeds aan moord skuldig bevind word omdat hy die grense vir selfverdediging oorskry het.

Ismail het gesê in so ’n geval kon Liebenberg nie direkte opset (dolus directus) gehad om dood te maak nie, maar dat die opsetvorm dié van dolus eventualis is.

Stilswye
Al die familielede van Retief Liebenberg wat by was toe hy die twee Visser-mans geskiet het, is stil oor die skietery.

Só het regter Mahomed Ismail Vrydag gesê tydens die staat en verdediging se finale argumente in Liebenberg se verhoor.

Toe Liebenberg Poena (19) en Dewald Visser (47) doodgeskiet het, was sy dogter, Chevonne, sy vrou, Rozanne, en sy broer, Richard, teenwoordig.

Ismail het gesê dit lyk of al dié familielede in ’n beswyming was. “Niemand het die skietery gesien nie.”

Al drie het die Vissers se aanranding op Liebenberg gesien, maar hulle is “stil” oor die skietery daarna.

Ismail het gevra of Rozanne dalk nie die skietery wóú sien nie omdat sy Liebenberg se vrou is.

Ismail se taak
As Retief Liebenberg wel uit selfverdediging geskiet het, moet bepaal word of hy die grense daarvan oorskry het.

“Dít is die uitdaging vir my,” het regter Mahomed

Ismail Vrydag gesê.

“Die ballistiek (op die toneel) gaan my nie help nie.”

Dis in Liebenberg se getuienis en in dié van die kliniese sielkundige prof. Jonathan Scholtz waar hy die antwoorde moet gaan soek, het Ismail gesê. 

Meer oor:  Poena Visser  |  Retief Liebenberg  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.