Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Pa se oë glaserig nadat hy skiet
Retief Liebenberg met ’n vorige verskyning in die Benoni-landdroshof. Foto: bongiwe gumede

Retief Liebenberg het blindelings baie skote direk ná mekaar geskiet. Daarna was sy oë glaserig en blank.

So het Richard Liebenberg, Retief se broer, Dinsdag in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria getuig.

Retief (50), ’n sakeman, staan tereg op twee aanklagte van moord ná die skietery op 31 Oktober 2013 in sy huis op die Ebotse-gholflandgoed in Benoni.

Poena Visser (19) en dié se pa, Dewald (47), is dié aand weens veelvuldige skietwonde op die grondverdieping van Retief se spoghuis dood.

Retief, wat skuld op aanklag van moord ontken, sê in sy pleitverduideliking daar was “ekstreme provokasie” deur die Vissers en albei het hom aangerand.

Hy was vreesbevange en het uit selfverdediging en strydig met sy persoonlikheid opgetree.

Hy het die skote onwillekeurig afgevuur.

Volgens staatsgetuienis het Retief se dogter, Chevonne (nou 22), teen haar ouers se wens in ’n verhouding met Poena gehad.

Poena het dié dag by Chevonne se ouerhuis opgedaag en die twee het in Chevonne se slaapkamer rusie gemaak.

Retief het Poena versoek om die huis te verlaat.

Poena het geweier en sy pa gebel.

Richard het getuig Retief het hom ontbied weens ’n “voorvalletjie” wat tussen Chevonne en Poena aan die gang was.

Toe hy opdaag, het Retief gesê hy moet eers in die voorportaal wag, want Chevonne en Poena is besig om hul twis op te los.

’n Foto van Retief Liebenberg se huis op die Ebotse-landgoed in Benoni, is deur die staat by die Noord-Gautengse hooggeregshof ingedien.
Só berig Beeld destyds oor Poena.
Só berig Beeld destyds oor Poena. Foto:

Volgens Richard het hy ’n geskree gehoor en is die trappe op na Chevonne se kamer. Hy het aan Poena gesê dié moet ry, maar Poena het geantwoord sy pa is op pad “om julle op te donder”.

Richard het getuig Visser sr. en ’n “groot ou” het in ’n bakkie opgedaag.

Visser sr. het ingestap, gevloek en gesê hy gaan Retief slaan. Retief het gesê “wees kalm”, het Richard getuig.

Visser sr. het Retief met die vuis op die kakebeen geslaan.

Chevonne het flou geword en haar pa wou haar ophelp toe die Vissers Retief op die kop slaan.

“Toe begin die skote,” het Richard getuig.

Rozanne Liebenberg, Retief se tweede vrou, het huilend oor die Vissers se beweerde aanranding getuig Retief was op sy hurke toe Poena “in die lug gespring het met sy vuis af (na Retief)”.

Ná die skote was Poena se lyk in die kombuis en Visser sr. s’n by die trappe.

Retief se lip was stukkend en hy het ’n knop op die kop gehad, het sy getuig.

Retief het op en af geloop. Sy het sy selfoon gevra om die polisie te bel.

Die staat sê in die klagstaat
Visser sr. is vyf keer deur Retief se gelisensieerde 9-mm-pistool getref en Poena vier keer.

Die verhoor duur voort.

Meer oor:  Dewald Visser  |  Retief Liebenberg  |  Doodgeskiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.