Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Poena-skietdood: ‘Ja, ek het hulle geskiet’
Retief Liebenberg, sy vrou, Rozanne, en sy seun Sheldon. Foto: Lisa Hnatowicz

“Ja, ek het hulle geskiet. Hulle lê binne-in die huis.”

Dit het Retief Liebenberg, die sakeman van Benoni wat op twee moordklagte tereg staan, op die skiettoneel aan ’n veiligheidsbeampte gesê.

Petrus van Rooyen het Woensdagoggend vir die staat in Liebenberg se verhoor in die Noord-Gautengse hooggeregshof getuig.

Liebenberg word daarvan aangekla dat hy op 31 Oktober 2013 Poena Visser (19) en dié se pa, Dewald Visser (47), opsetlik en onwettig by sy huis op die Ebotse-landgoed in Benoni doodgeskiet het.

Poena se lyk is met vier skietwonde in Liebenberg se kombuis gekry en Visser sr. se lyk met vyf skietwonde by trappe in die huis naby die voordeur.

Liebenberg voer aan hy is erg deur die twee mans uitgelok en albei het hom aangerand. Hy het uit selfverdediging en onwillekeurig geskiet.

Poena en Liebenberg se dogter, Chevonne (nou 22), was destyds in ’n verhouding waarteen haar ouers gekant was.

Luidens vroeëre getuienis vir die staat het Poena en Chevonne dié dag in haar ouerhuis gestry en haar pa het Poena gevra om die huis te verlaat.

Poena se pa het glo opgedaag en die Visser-mans het Liebenberg geslaan. Liebenberg het toe geskiet.

Van Rooyen het getuig hy het destyds vir die CMS-veiligheidsmaatskappy gewerk wat patrolliewerk binne-in die landgoed gedoen het.

CMS het ’n oproep gekry oor skote wat geskiet is.

'n Foto van Dewald Visser se lyk is deur die staat ingedien in die verhoor van Retief Liebenberg. Die lyk is by die trappe in die portaal van Liebenberg se huis op die Ebotse-landgoed in Benoni gekry. Foto: Verskaf
'n Foto van die huis van Retief Liebenberg op die Ebotse-landgoed in Benoni, is deur die staat by die Noord-Gautengse hooggeregshof ingedien.

Van Rooyen het gesê toe hy by Liebenberg se huis opgedaag het, het hy “vroulike gille” gehoor. Dit was net vóór 21:00.

Hy het uitgeklim en die huiseienaar (Liebenberg) het uitgekom. ’n Paar mense het op die erf gestaan.

Liebenberg het “reguit na my toe gekom”.

Van Rooyen het getuig hy het aan Liebenberg gesê CMS het ’n oproep gekry oor skote.

Liebenberg het geantwoord: “Ja, ek het hulle geskiet. Hulle lê binne-in die huis.”

Van Rooyen het getuig hy het in die huis ’n “ouerige meneer” (Visser sr.) by die trappe gesien sit “met sy kop op sy arms”.

Hy het dadelik die paramedici ontbied. Hy het ’n vuurwapen, waarvan die hamer teruggetrek was, op ’n tafeltjie gesien lê.

“Nog ’n persoon (Poena) het op sy maag in die kombuis gelê.”

Van Rooyen het getuig hy wou by Liebenberg nog inligting gaan kry het. Dié was toe op sy selfoon besig en het beduie hy (Van Rooyen) moet wag.

Toe Liebenberg die foon neergesit het, het hy gesê: “Ja, ek kan niks verder sê nie. My prokureur het gesê ek moet stilbly.”

Die saak duur voort.

Meer oor:  Poena Visser  |  Retief Liebenberg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.