Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Aanklagte teen Toanette voorlopig teruggetrek

Al die aanklagte teen Toanette Els (23), een van die topvyf-deelnemers aan die werklikheidsreeks Boer soek ’n vrou, is voorlopig teruggetrek terwyl daar gewag word op ’n finale besluit deur die direkteur van openbare vervolging.

Els sê sy beplan om ’n gróót partytjie te hou wanneer die saak finaal afgehandel is.

Sy het Vrydag een stap nader gekom aan dié partytjie. Sy het in die landdroshof in Modimolle verskyn op aanklag van bedrog en ’n alternatiewe klag van diefstal. Haar pa, Anton, en haar broer, Marcus, was saam met haar by die hof en is ook baie verlig oor die hof se besluit.

“Ons het eintlik geweet dit gaan gebeur, maar ek is baie bly en verlig dat die saak nou amper op ’n einde is,” het Els buite die hof gesê.

Toanette Els buite die landdroshof in Modimolle.. Foto: Isabel Venter

Sy het by ’n vroeër hofverskyning vertoë gerig waarin sy redes aangevoer het oor hoekom sy nie vervolg moet word nie.

Die saak spruit uit ’n klag deur Jana Smit van Modimolle dat Els haar nie R10 000 terugbetaal het nadat ’n veldwagterskursus wat haar dogter sou bywoon, gekanselleer is nie.

Smit het intussen haar geld teruggekry.

“Die kanse is goed dat die aanklagte teen Els binnekort permanent teruggetrek sal word,” sê Alicia Viljoen, haar prokureur.

Dit was vir Els ’n moeilike tyd. “Party dae was dit nie so maklik om jou kop hoog te hou nie. Weens al die media-aandag het baie mense ’n mening oor die saak gehad en nie gehuiwer om dit te lug nie.”

Haar ma is in September dood ná ’n stryd van vier jaar teen limfklierkanker.

Die wildboer sê sy sien nou uit daarna om weer met haar veldwagterskursusse te begin. Sy is betrokke by Rangers in Training, wat onder meer dié kursusse aanbied.

Toanette Els Vrydagoggend saam met haar broer, Marcus, en haar pa, Anton, by die landdroshof in Modimolle. Foto: Isabel Venter

Die hofsaak het verhoed dat sy kursusse kon aanbied. Sy hoop om in Desember weer volstoom aan die gang te wees.

Sy het by die hof gesê sy is dankbaar vir die ondersteuning wat sy van die vervaardigers van Boer soek ‘n vrou en van haar mededeelnemers ontvang het.

“Daar was vrae aan die begin. ’n Mens wonder mos maar wat gebeur het, maar die ondersteuning wat ek ontvang het was great.”

Sy het nog nie besluit of sy vir Smit of die staat sal dagvaar vir onregmatige vervolging nie.

* Els het in ’n onderhoud met Kwêla gesê sy bied die kursusse vir R35 000 aan. Sy het ’n reëling met Smit getref dat sy dit kan afbetaal, waarna Smit ’n eerste paaiement van R10 000 betaal het. Die dag waarop die kursus sou begin, was Smit se dogter glo in ’n motorongeluk. Die meisie het nooit die kursus bygewoon nie en Smit het ook nie die res van die kursusgeld betaal nie.

Toanette, Marcus en Anton Els kom Vrydagoggend by die landdroshof in Modimolle aan. Foto: Isabel Venter

Meer oor:  Boer Soek 'N Vrou  |  Toanette Els  |  Bedrog  |  Hofsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.