Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Aanranding: ‘Breker’ Leibrandt gaan pleitooreenkoms aan

Francois Leibrandt en sy (nou gewese) meisie het ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan, waarin hulle vermoedelik sal erken dat hulle in 2019 ’n polisiekonstabel en sy broer ernstig aangerand het.

Dit volg op ’n mediasieproses tussen die partye waartydens daar op ’n pleitooreenkoms met ’n “aanvaarbare” vonnis ooreengekom is.

Konst. Leon Mentz kort ná die aanval.Foto: Verskaf

Die saak is tot Vrydag uitgestel sodat Leibrandt (24) en Cindy Esterhuizen (26) in die landdroshof in Pretoria-Noord kon pleit. Dit het egter nie gebeur nie omdat Esterhuizen se regsverteenwoordiger nie by die hof was nie.

Dit blyk dat aanklagte teen die derde beskuldige, Jacques van der Merwe, teruggetrek gaan word.

Die drie is in Junie 2019 in hegtenis geneem op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat konst. Leon Mentz van die Sinoville-polisiekantoor in Pretoria, en sy broer, Arrie, by ’n kuierplek aangerand, met ’n bottel geslaan en die konstabel met ’n stukkende drinkglas in die gesig gegooi is.

Omstanders moes glo die aanvallers van die broers aftrek.

Francois Leibrandt tydens ’n vroeëre hofverskyning in die beskuldigdebank. Foto: Deaan Vivier

Mentz moes daarna ’n oogspesialis gaan sien, verskeie operasies ondergaan en ongeveer 82 steke aan sy gesig en byna 20 aan die agterkant van sy kop en aan sy een oor kry.

Daar is later gevind dat die glas ’n deel van sy een oogbal afgesny het, wat permanente skade aan sy sig aangerig het.

Sy broer het agt steke in sy gesig kry.

Tydens die drie beskuldigdes se borgtogaansoek het die hof gehoor daar is verskeie ander soortgelyke sake in Pretoria teen Leibrandt.

Hy was ten tyde van die aanval op die Mentz-broers in al die ander sake of op borgtog of op waarskuwing vrygelaat.

Gevolglik is Leibrandt in die Mentz-saak borgtog geweier, terwyl Esterhuizen en Van der Merwe elk op borgtog van R1 000 vrygelaat is.

Francois Leibrandt, Jacques van der Merwe en Cindy Esterhuizen tydens ’n vorige hofverskyning.Foto: Deaan Vivier

Die saak is daarna verskeie kere uitgestel, hoofsaaklik omdat Leibrandt ná ’n rukkie in die tronk besluit het om skuld te beken en sy saak toe van Esterhuizen en Van der Merwe s’n geskei moes word.

Later het hy ’n nuwe regsverteenwoordiger gekry.

Daar is vroeër vanjaar gevra of hy met die Mentz-familie in ’n mediasieproses betrokke kan raak.

Die uiteinde was die pleitooreenkoms. Dit is onbekend wat die voorgestelde vonnis is.

Liebrandt en sy regsverteenwoordiger, adv. Letsile Thaga, was Vrydag ooglopend gretig om die formaliteite af te handel.

Net voordat die saak geroep is, is verneem dat Esterhuizen se regsverteenwoordiger nie by die hof is nie.

Thaga wou weet of die verhore nie geskei kan word en Leibrandt se pleit afgehandel kan word nie, “want my kliënt is in aanhouding”.

Hy en die staatsaanklaer, adv. Jackie Moabelo, is saam na die landdros.

Met hul terugkeer het dit egter geblyk dat al drie beskuldigdes se sake saam aangehoor moet word weens die pleitooreenkomste.

In die hof het landdros René Venter ook gesê dat die aanklagte teen Van der Merwe op die dag wat die beskuldigdes pleit, teruggetrek sal word.

Die saak is vir dié doel tot Maart uitgestel.

* Intussen het minstens drie van die ander sake teen Leibrandt voortgegaan.

In een is hy onskuldig bevind.

In ’n ander aanrandingsaak is hy skuldig bevind en het hy ’n opgeskorte vonnis en ’n boete gekry.

Die derde aanrandingsaak is ook uitgestel vir ’n moontlike pleitooreenkoms.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.