Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Aansoek verwerp om prokureur van rol te skrap

’n Prokureur en oudstadsraadslid van Kimberley het ’n oorwinning in die hof behaal deurdat die hooggeregshof in die stad ’n aansoek om hom van die prokureursrol te skrap, van die hand gewys het.

Die Kaapse Prokureursorde se aansoek om Kobus Steyn van die rol te skrap, is Vrydag deur regters Johann Olivier en Cecile Williams afgewys.

Steyn, ’n gewese ANC-raadslid, werk deesdae in die Noord-Kaapse departement van gesondheid se regsafdeling.

Kobus Steyn gesels met sy regspan. Foto: Charné Kemp

Hy het reeds in 2014 ’n vonnis vir bedrog uitgedien nadat hy die vorige jaar skuldig bevind is aan bedrog wat uit ’n eiendomstransaksie gespruit het.

Steyn was in daardie stadium tydelik van die rol geskrap toe hy geld van die koper en verkoper ontvang het sonder dat hy gemagtig was om dit te doen.

Nadat hy teen sy vonnis geappelleer het, is dit versag tot tronkstraf van vier jaar, waarvan twee jaar vir vyf jaar opgeskort is.

Hy is in 2014 danksy goeie gedrag op parool vrygelaat. Sy vonnis het ook intussen verstryk.

Die regters het bevind dat Steyn nie die dade uit gierigheid gepleeg het nie. Hy het destyds gemeen sy werknemers sou hul werk en inkomste verloor as hy die transaksie staak.

Steyn se praktyk is gesluit en hy het ’n ANC-raadslid geword.

Nadat die feite vorendag gekom het, het hy al die inligting verskaf en verantwoordelikheid daarvoor geneem. Hy het as raadslid bedank.

Hy het berou getoon en is intussen gerehabiliteer. Hy beklee ’n senior pos in die departement. Hy moet ook na sy minderjarige dogter omsien.

Volgens die regters handel die kwessie daaroor of Steyn tans bekwaam en bevoeg is om as regspraktisyn op te tree.

Die aansoek om hom van die rol te skrap wat nou eers, jare ná die gebeure, aangehoor is, is die gevolg van die applikant se eie toedoen.

Geen bewyse is aangebied dat Steyn nie bekwaam en bevoeg is om as prokureur te werk nie.

Die aansoek is verwerp.

Adv. Almé Stanton het in opdrag van Engelsman Magabane vir Steyn opgetree, en adv. Danie Olivier het in opdrag van Van de Wall Ing. vir die Kaapse prokureursorde opgetree.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.