Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Aanval op Adlam-egpaar: 3 skuldig aan roof

’n Plaasaanvaller se DNS is aan ’n jogurtbakkie in die slagoffers se huis gevind.

Nog ’n beskuldigde was in besit van die geroofde haelgeweer en die derde een het later erken dat hy ingebreek het by die plaashuis deur ’n venster oop te maak.

Daarby het getuies vir Lucky Mabona, David Sibanyoni en Sam Thabethe later met die twee geroofde voertuie gesien, en, het landdros Adriaan Bekker Dinsdag in die streekshof in Pretoria bevind, was die drie beskuldigdes leuenagtige, ontwykende getuies.

Leslie (nou 72) en Gail (69) Adlam vroeër by die hof nadat hulle die aanval van Mei 2013 oorleef het. Foto: Hanti Otto

Hy het die driestuks skuldig bevind op ’n aanklag van roof met verswarende omstandighede.

Die hof het, ná ’n verhoor van etlike jare, Dinsdag bevind dat die drie wel op 17 Mei 2013 vir Gail (toe 62) en Leslie (destyds 65) Adlam op hul plaas naby Bronkhorstspruit, oos van Pretoria, aangeval het.

Die egpaar het net gaan slaap toe Gail wakker word en drie mans in hul slaapkamer sien.

Haar man is met PVC-pype oor die kop geslaan. Toe hy val, het een van die aanvallers op sy kop gespring.

Gail, wie se getuienis deur die hof aanvaar is, is self so erg aangerand dat sy in ’n stadium in haar eie bloed gegly het.

Die hof het vroeër gehoor dat sy en haar man albei met ’n warm strykyster gebrand is en dat sy met ’n kabel gewurg is.

Gail Adlam het in Januarie 2014 vir Lucky Mabona op ’n uitkenningsparade uitgewys. Dié foto is as ’n bewysstuk by die hof ingehandig. Foto: Verskaf

Sy is geslaan en geskop, maar het verbete terugbaklei totdat sy uiteindelik gemaak het of sy haar bewussyn verloor.

Die drie beskuldigdes is later in hegtenis geneem en in Januarie 2014 het Gail vir Mabona op ’n uitkenningsparade uitgewys as een van die aanvallers.

Dié uitwysing is deur die hof aanvaar.

Bekker het Dinsdag ook tydens sy uitspraak bevind dat die beskuldigdes met ’n gemeenskaplike oogmerk opgetree het toe hulle die Adlams aangeval en beroof het.

“Hulle het voorwerpe (die PVC-pype) gehad om enige teenstand (van die slagoffers) af te weer,” het die landdros gesê.

Hy het ook vir Sibanyoni, wat toegang tot die huis deur die venster verkry het, skuldig bevind op ’n aanklag van huisbraak met die doel om te roof.

Thabethe is skuldig bevind aan die onwettige besit van Adlam se haelgeweer.

Die saak is tot April uitgestel vir ’n slagofferimpak-verslag. Die beskuldigdes bly in aanhouding.

Meer oor:  Egpaar  |  Dns  |  Slagoffers  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.