Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ace hof toe in lang ANC-skeuring

Ace Magashule wil die hofsaak waarin hy sy skorsing as sekretaris-generaal van die ANC betwis, uitrek totdat die ANC sy hoofraadsvergadering hou sodat hy dáár deur afgevaardigdes in sy pos herstel kan word.

“ ’n Skeuring in die ANC is onafwendbaar,” het ’n leiersfiguur in die “radikale ekonomiese transformasie” (RET)-groep, wat Magashule as hul leier beskou, die afgelope week gesê.

“Dis lankal onafwendbaar, want die verskille tussen dié twee groepe het te groot geword om te oorbrug.

“ ’n Versoening of selfs ’n skietstaking is nie meer moontlik nie.

“Die skorsings en die hofsaak wat Ace begin het, is bloot ’n stryd om die naam en bates van die ANC ná die skeuring te probeer beheer,” het die bron gesê.

‘Dis ’n absurditeit in ons howe.’

Geen van die leiersfigure in die RET-faksie sal in dié stadium openlik praat oor skeuring of die stigting van ’n nuwe party nie, maar laer af in die RET-geledere word dit druk bespreek.

Rapport het drie weke gelede reeds gehoor “South African National Congress”, met die afkorting SANC, is die voorkeur-keuse vir ’n naam vir ’n nuwe party. Die afgelope week het ondersteuners selfs ’n logo vir die nuwe party onder mekaar begin rondstuur.

Daarmee saam doen video’s van Magashule die ronde wat in ’n gimnasium ’n slaansak bydam, terwyl hy deur omstanders aangehits word.

Van Magashule se ondersteuners is bekommerd dat sy uitlatings en sy weiering om verskoning te vra vir sy poging om pres. Cyril Ramaphosa te skors aan sy teenstanders in die CR17-groep gronde gee om hom heeltemal uit die ANC te skop.

Die hofstukke waarin hy die hooggeregshof in Johannesburg vra om sy skorsing tersyde te stel en Ramaphosa te skors, laat mense in die ANC se strukture ook frons omdat hofsake die party die afgelope jare enorme skade berokken het.

Magashule het in ’n onderhoud met City Press, susterkoerant van Rapport, gesê hy het Donderdag die hofgeding teen Ramaphosa, Jessie Duarte en die ANC begin omdat hy reeds alle ander interne prosesse van die ANC teen sy skorsing probeer gebruik het; sonder dat hy kans kry om sy kant van die saak te stel.

Hy het by die nasionale uitvoerende komitee (NUK), die party se hoogste gesagsliggaam wanneer die konferensie nie in sitting is nie, teen sy skorsing geappelleer, maar geen antwoord gekry nie. Daarom het hy die hofsaak begin, het hy gesê.

Die hofgeding is ’n dobbelspel, want as hy die saak verloor, gaan hy geen beweegruimte meer hê nie. Die ANC het reeds baie aansien verloor omdat sy interne geskille dikwels in die howe beland. Van ampsdraers in top-poste word verwag om hulle by die interne prosesse van die party te hou.

Snuki Zikalala, president van die MK-veteraneliga en lid van die NUK, het aan City Press gesê Magashule se weiering om verskoning te vra vereis dat ’n tugverhoor teen hom onmiddellik gehou word.

“Die veteraneliga is teleurgesteld omdat hy geweier het om opsy te staan,” aldus Zikalala. “Toe hy verlede jaar voor die integriteitskomitee verskyn het, het hy onderneem om hom by die besluite van die NUK te hou.

“Ons is ook teleurgesteld omdat hy nou hof toe is. Hy sleep die naam van die ANC daarmee deur die modder. Die party het die afgelope tien jaar erg deurgeloop onder dinge soos staatskaping.”

In sy pleitstukke sê Magashule die ANC se ses topleiers het destyds saamgestem die aanklagte van korrupsie en bedrog waarop hy in Bloemfontein tereg sou staan, is nietig en “onsinnig” omdat dit daarop neerkom dat hy skuldig is bloot omdat hy sy toesigrol as destydse Vrystaatse premier nie nagekom het nie.

“Dis ’n absurditeit wat nog nooit in ons howe gebeur het nie,” sê hy.

In teenstelling daarmee was dit deel van sy pligte om Ramaphosa te skors omdat Ramaphosa “na bewering betrokke was by die gebruik van geld om uitkomste van die (ANC-) konferensie in 2017 te beïnvloed”.

Volgens hom word hy geteiken om hom uit die ANC te kan skop sodat Ramaphosa seker kan wees hy sal as president van die ANC herkies word op die volgende nasionale leierskonferensie, wat einde 2022 gehou word.

Magashule sê ook in sy pleitstukke Gwede Mantashe, voorsitter van die party, en Zizi Kodwa, minister van nasionale intelligensie, moet ook opsy staan weens besluite van die ANC se integriteitskomitee ná getuienis voor die Zondo-kommissie.

Dáár het dit aan die lig gekom dat veiligheidstelsels in Mantashe se huise aangebring is deur Bosasa, die korrupte maatskappy wat tamaai staatskontrakte ingepalm het danksy geskenke aan ANC-leiersfigure.

Magashule vra die hof om sy skorsing nietig te verklaar, asook die klousule in die ANC-grondwet wat vereis dat ampsdraers opsy moet staan wanneer hulle van korrupsie beskuldig word. Hy vra die hof ook om sy skorsing van Ramaphosa te bekragtig. ’

* n Nagwaak van die ANC-jeugliga wat Donderdagaand by Luthuli-huis gehou is uit steun vir Magashule is uiteindelik deur minder as 20 mense bygewoon.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Anc  |  Ret-Faksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.