Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ace-hofsaak ‘van belang vir alle politieke partye’

Ace Magashule se hofsaak teen die ANC oor sy tydelike skorsing as sekretaris-generaal is nie net van uiterste belang vir die ANC nie, maar vir alle politieke partye in Suid-Afrika.

SOWETO, SOUTH AFRICA - FEBRUARY 03: ANC Secretary
Ace Magashule Foto: Gallo Images

Volgens die politieke ontleder Theo Venter gaan dit nie net oor ’n interne politieke toutrekkery nie, maar “oor die afdwingbaarheid van die grondwet van organisasies met vrywillige lidmaatskap soos politieke partye in gevalle waar daar ’n strydpunt oor reg of verkeerd is”.

“Alle politieke partye sal daarom kennis wil neem van die uitslag van hierdie hofaansoek,” het Venter Woensdag gesê oor dié hofsaak waarin Magashule Donderdag en Vrydag vir pres. Cyril Ramaphosa, Jessie Duarte, die party se adjunk-sekretaris-generaal, en die ANC in die hooggeregshof in Johannesburg pak.

Magashule wil daarmee sy tydelike skorsing, sowel as die ANC se opsystaan-besluit, tersyde laat stel omdat hy glo dat dit teenstrydig met die land se Grondwet is.

Hy en verskeie ander ANC-lede wat weens korrupsie en ander ernstige misdaad in ’n hof teregstaan en nie vrywillig hul poste ontruim het nie, is ingevolge dié besluit geskors.

Die ANC sal die hofaansoek met ’n swaargewig-regspan onder leiding van adv. Wim Trengove, SC, teenstaan.

Alle aanduidings is dat dit aanlyn aangehoor sal word.

Magashule het Woensdagmiddag in ’n onderhoud op sy tuisdorp, Parys in die Vrystaat, aan eNCA gesê dat hy ook by sy regspan, gelei deur adv. Dali Mpofu, SC, sal hoor of dit fisiek of aanlyn sal geskied.

“As dit nie aanlyn is nie, sal jy my by die hof sien.”

Ek het gedink ek was reg. Ek het gesê ek sal om verskoning vra as ek verkeerd is.
Ace Magashule

Magashule het weens die derde vlaag van Covid-19-infeksies, veral in Gauteng, sy ondersteuners afgeraai om Donderdag by die hof saam te trek.

Carl Niehaus, woordvoerder vir die Umkhonto we Sizwe-militêreveteranevereniging en ’n stoere ondersteuner van Magashule en oudpres. Jacob Zuma, het Woensdagmiddag egter gesê dat sommige Magashule-ondersteuners sterk voel daaroor om die hofsaak by te woon en dat sommige selfs daarheen op pad is.

“Daar sal egter baie verantwoordelik en gedissiplineerd opgetree word en streng aan alle Covid-19-regulasies voldoen word, veral omdat Johannesburg die oog van die (Covid-19-)storm is.”

Magashule het in die eNCA-onderhoud volgehou dat hy reg was om Ramaphosa kort ná sy eie skorsing verlede maand ook uit die ANC te “skors”.

Volgens hom het hy net sy werk ingevolge die ANC-grondwet en -resolusies gedoen.

“Ek het gedink ek was reg. Ek het gesê ek sal om verskoning vra as ek verkeerd is.”

Volgens hom moet die hof daaroor uitsluitsel gee.

Hy ontken ook dat hy daarmee die ANC uittart. Hy is ook nie bekommerd dat hy permanent uit die ANC geskop kan word nie omdat hy met die hofsaak sy en ander ANC-lede se grondwetlike regte wil verdedig.

“Ek is daarom oor niks bekommerd nie.”

Intussen het dr. Ntsikelelo Breakfast, politieke ontleder by die Nelson Mandela-Universiteit, Woensdag gesê dat die hofsaak uiteindelik oor meer as net die siel van die ANC sal gaan.

“Dit is omdat die seëvierende faksie uiteindelik ook met die politieke mag én gepaardgaande materiële voordele gaan opeindig. Mense wil hul hande op die spreekwoordelike koekieblik kry.

“Dit is waarom die hofsaak as deel van die voortslepende politieke oorlog in die ANC beskou word,” het Breakfast bygevoeg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.