Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Adjunk kla Hlophe by kommissie aan

Verbale mishandeling, viktimisering en intimidasie is van die bewerings in ’n klag wat die adjunk van John Hlophe, regter-president van die Wes-Kaap, teen hom ingedien het.

Adjunk-regter-president Patricia Goliath beskuldig hom ook in haar beëdigde verklaring daarvan dat hy pro-Zuma in ’n hofsaak was, ongrondwetlik opgetree het deur verdeeldheid te saai en dat hy sy magte in die uitvoering van sy pligte misbruik het.

“Daar heers nou verdeeldheid in die afdeling, en nog erger, ’n klimaat van vrees,” lui die beëdigde verklaring.

Goliath het die klag van “growwe wangedrag” teen Hlophe op 15 Januarie by die Regterlike Dienskommissie (RDK) ingedien.

John Hlophe, die Wes-Kaap se regter-president.Foto: Bongiwe Gumede

In haar verklaring beweer sy dat Hlophe en sy vrou, regter Gayaat Salie-Hlophe, die bestuur van die hooggeregshof in Kaapstad in die gedrang bring en hul afdeling deur vrees en intimidasie bestuur.

Sy beskuldig hom verder daarvan dat hy regters viktimiseer en sy vrou voorkeurbehandeling gee.

Volgens Goliath werk sy as vrou in ’n onveilige, ongesonde en onderdrukkende omgewing en sy vra dringende ingryping sodat sy haar werk as adjunk kan doen.

“My lot, veral as vrou, is onuithoudbaar,” lui die verklaring.

Goliath beweer dat Hlophe die aanstelling van regters in die 2015-kernkragsaak probeer beïnvloed het en by die proses probeer inmeng het.

“In die Earthlife Africa-saak het Hlophe vir my gesê dat die kritiek teen pres. (Jacob) Zuma oor die kernkrag-transaksie onredelik is. Hy het probeer om my te beïnvloed om die saak aan twee regters toe te ken wat die president goedgesind is,” lui die verklaring.

Volgens Goliath het sy onmiddellik geweier.

“Hoewel hy ontevrede was, het hy die saak daar gelaat en ons het ooreengekom met die twee regters wat daarna aangestel is om die saak te verhoor.”

Goliath sê toe sy aangestel is as adjunk het sy al die pligte van ’n adjunk uitgevoer, maar dat dit tot ’n einde gekom het toe sy ná ’n termyn as regter in die konstitusionele hof teruggekeer het.

Volgens haar swaai die egpaar die septer in die hooggeregshof en is verskeie regters glo bang vir Salie-Hlophe.

“Salie-Hlophe het mag en sommige regters is bang vir haar. Ek is bewus daarvan dat sy betrokke is by die bestuur van die hof, die toewysing van sake en die ontstellendste van alles, beheer het oor wie as waarnemende regters aangestel word.

“Sy kry voorkeurbehandeling en bepaal haar eie werkdae en -ure, terwyl ek deur ’n registrateur van Hlophe gemonitor is.”

Adv. Barnabas Xulu, wat Hlophe en Salie-Hlophe verteenwoordig, het nie Netwerk 24 se navrae beantwoord nie, maar het aan News24 gesê dat die klag teen Hlophe slegs met gerugte en hoorsê te make het, en volgens hom onenigheid in die hooggeregshof veroorsaak.

Xulu sê Goliath se klag het niks met regterlike wangedrag te make nie.

“Die adjunk-regter-president stem nie saam met die bestuur van die afdeling nie, wat die regter-president se werk is. Almal weet daar is spanning tussen die twee omdat die adjunk nie saamstem met hoe die afdeling bestuur word nie.

“Ondanks hierdie spanning is die Wes-Kaapse hooggeregshof-afdeling een van die toppresterende afdelings in die land.”

Xulu sê Hlophe is van plan om te bewys dat die klag teen hulle geen meriete het nie.

Sello Chiloane, woordvoerder van die Regterlike Gedragskomitee, het bevestig dat die sekretariaat van die RDK Goliath se klag teen Hlophe en Salie-Hlophe ontvang het.

“Die klag sal aan die Regterlike Gedragskomitee vir oorweging ingevolge die RDK-wet gestuur word,” het Chiloane gesê.

William Booth, voorsitter van die Law Society of South Africa se regskomitee‚ het gesê dat hy nie die feite van die saak het nie, maar dat dit in die belang van die betrokke partye is dat dit so gou as moontlik afgehandel word.

Goliath het by navraag bevestig dat sy ’n klag teen Hlophe by die RDK ingedien het.

“Dit is egter nie in hierdie stadium gepas om kommentaar te lewer nie,” het sy bygevoeg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.