Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Affies ‘jag’ meisie oor foto

Tientalle matriekleerlinge van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria was só ontsteld dat ’n meisie durf waag het om hul skoolpet op te sit, dat hulle haar glo met geweld gedreig en in eksplisiete terme verkleineer het.

Juané Slabbert (20)

Nou draai die saak in die gelykheidshof teen 25 van die jong mans. Die laaste 19 van hulle het hul dagvaarding die afgelope week ontvang.

Juané Slabbert (20), nou ’n student in die regte aan Tukkies, eis R100 000 vergoeding, asook onvoorwaardelike verskonings en strukturele ingryping soos opleiding vir geslagsensitiwiteit by die seunskool.

Die skool wou haar prokureurs nie help om die inligting van die betrokke seuns te kry om hulle te dagvaar nie.

Daarom moes sy eers die hof se toestemming kry om hulle per Whats­App, in koerantadvertensies en op kennisgewingborde rondom die skool te dagvaar.

Die seuns, wat in 2015 in matriek was, het luidens hofstukke in Augustus daardie jaar ’n WhatsApp-groep begin waarin Slabbert uitgekryt is.

Slabbert, toe self in matriek, se “sonde” was dat sy die trotse Affies-pet by ’n partytjie saam met oud-Affies gedra het.

Haar matriekuitslae het onder die voorval gely, sê sy.

Die betrokke matrieks het ’n foto van haar met die pet op gesien.

Die dreigemente het glo op ’n klein WhatsApp-groep begin, maar later oorgespoel na nóg ’n groep waar sowat 90 leerlinge én Slabbert tot die groep gevoeg is sodat sy kan sien wat hulle sê.

Sy dagvaar 25 van hulle omdat hulle haar glo met geweld gedreig en vuil­ taal teen haar gebruik het.

Een van die seuns wat onder die skuilnaam “P**s haar” ingeklim het, het losgetrek: “juane ek ken jou rrg van geen c**t af nie . . . ma ek verstaan jy kry nie aandag by enige ou nie (well duh jyhs v*kken lelik) . . . so as jy weer biqi aleen voel, los net ons pet uit en v*kkof” (sic).

Nog een het bygevoeg: “F****n t**f. Ek sal haar met my kop d***.”

’n Seun het gesê dat “haar ouers haar nie liefhet nie” en nog een dat sy ’n “soenmoer” is – “van ver af wil j ha soen, ma van naby wil j ha moer”.

Die “uitk**sessie”, soos een van die seuns in die gesprek daarna verwys het, het vinnig ontaard in “tropgedrag”, sê sy in hofstukke.

Slabbert was destyds 17 jaar oud en sê in hofstukke sy het vir haar veiligheid gevrees – soveel so dat sy haar eie matriekvakansie gekanselleer het omdat sy bang was dat sy een van die Affies daar sou raakloop. Haar eie matriekuitslae het onder die voorval gely omdat sy getraumatiseer was, sê sy.

Haar pa, Juan, het Affies se skoolhoof, dr. Pierre Edwards, in Augustus 2015 gaan sien, maar dié was glo “vyandiggesind”. Edwards het gesê niemand sal hom vertel hoe om sy skool te bestuur nie, lui haar hofstukke.

Edwards het luidens die hofstukke vir die ontstoke pa gesê die skool kan nie verantwoordelikheid aanvaar vir wat Affies “buite skoolverband” op sosiale media sê nie.

Die skool sê in hofstukke hulle het 26 leerlinge geïdentifiseer wat aktief aan die gesprek deelgeneem het en vir dié leerlinge detensie-sessies en waarskuwings gegee.

Die skool het ook ’n kenner gekry om die skool te kom toespreek oor die gevare van sosiale media.

Een leerling se voorreg om die skoolklok te lui op die matrieks se laaste skooldag is teruggetrek. Nog een is as skooldirigent onthef.

Slabbert het al ’n skikking met een oudleerling bereik, wat haar om verskoning gaan vra het.

Sanja Bornman, ’n prokureur van Regslui vir Menseregte wat namens Slabbert optree, sê die oud-Affie met wie die skikking bereik is “het eenvoudig die regte ding gedoen, verantwoordelikheid geneem en uit sy eie” om verskoning gaan vra. Geen geld is in dié geval betaal nie.

Sy sê die saak gaan egter nie oor die geld nie. Hul kliënt wil hê daar moet aanspreeklikheid aanvaar word vir individuele vrouehaatlike gedrag en wat duidelik ’n sistemiese, institusionele skoolkultuur is wat ander vroue en meisies in die toekoms kan beïnvloed as dit nie uitgedaag word nie.

Dit spreek boekdele dat die skool liewers die leerlinge ingelig het oor die “gevare van sosiale media”, pleks van oor geslagsgelykheid en geweld, sê Bornman.

Peregrine Joynt, adjunkhoof, het aan Rapport gesê hy verwerp dié stellings van Bornman oor die skool “ten sterkste”.

“Die skool distansieer homself geheel en al van die beweerde optrede van die individuele respondente en keur ook enige vorm van geweld of intimidasie, en veral teenoor vroue en kinders, ten sterkste af.”

Hy sê die skool is “reeds in gesprek met die klaer se regsverteenwoordigers om ’n konstruktiewe oplossing vir die pad vorentoe te vind”.

Die oudleerlinge Jonathan Lotter, Stefan Stofberg, Ronald Mothola, Armin Ehmke, Charl van Rensburg, Tsepo Skosana, Louis Meyer en ene Drikus het aan Rapport gesê hulle gaan nie kommentaar lewer op die eis nie.

Stefan Zerwick, Estehan Terblanche, Ivan Viviers, Henco Jordaan, André Rautenbach, Corné de Swardt, Divan Vermaak en ene Bev het nie op boodskappe gereageer nie.

Ene Billy het aan Rapport gesê hy het gedink die saak is twee en ’n half jaar terug al afgehandel. Hy was nou “net so verbaas soos almal” toe hulle gedagvaar is.

Die res kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Hulle het 30 dae om aan te dui of hulle Slabbert se dagvaarding teenstaan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.