Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘AfriForum gebruik my’

Hierdie berig is aangepas om meer van Afriforum se kommentaar by te voeg. 

Mieke en AJ sit by hul ma terwyl sy gesels oor die pad wat sy geloop het sedert haar man, Johann, se dood. Foto: Christiaan Kotze/C&CPA
Sy het alleen haar man se lyk gaan uitken en alleen deur die hofsaak geworstel, maar nadat een van haar man se moordenaars die afgelope week tot lewenslange tronkstraf gevonnis is, gebruik AfriForum haar soos ’n advertensie, sê Mariandra Heunis.

Die 36-jarige Heunis se man, Johann, is in 2016 by hul huis op ’n kleinhoewe in Kameeldrift, Pretoria, voor Mariandra en haar oudste dogter, Mieke (nou 10), doodgeskiet. Sy was hoogswanger met hul seuntjie, AJ (nou 3).Sy het nog twee dogters, Mischa (8) en Majandré (5).Mariandra het twee jaar gelede by die bekendstelling van Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum, se boek Kill the Boer in ’n toespraak oor die aanval gepraat.

’n Video van dié optrede is derduisende kere op Facebook gekyk. Sy het ook in 2019 saam met AfriForum na die VSA gereis om bewusmaking oor plaasmoorde te doen, waar sy media-onderhoude gedoen het en ook nog video’s gemaak het. So het sy een van die gesigte geword van AfriForum se veldtog teen plaasmoorde. 

Nadat die video wat by die boekbekendstelling opgeneem is verskyn het, het sy rassistiese haatpos en selfs doodsdreigemente gekry. Daarom het sy nee gesê toe AfriForum haar verlede jaar vra om ter steun van hul saak te getuig in die haatspraaksaak teen Black First Land First (BLF) se leier, Andile Mngxitama.

“Ek het in ’n e-pos gesê ek gaan dit nie doen nie, ek weet nie hoe ek gaan reageer as Andile my aanvat in die hof nie en vir my eie veiligheid wil ek nie betrokke wees nie,” sê Mariandra.Sy het gedink dis die einde van die storie. Maar in November verlede jaar sien sy toe toevallig op Twitter die hofsaak is aan die gang en Roets skryf daar was ’n woordewisseling in die hof nadat AfriForum ’n video vertoon het waarin ’n slagoffer vertel hoe haar man vermoor is.Mariandra sê sy het Roets gebel om te vra of dit háár video is, en toe hy nie sy foon antwoord nie, het sy vir hom in ’n WhatsApp herinner dat sy nie by die saak betrokke was nie.

“Die bedreiging was so real met die BLF en ek het advies gekry om heeltemal te stop, te verdwyn, om nie te adverteer nie en net my Facebook-rekening te sluit tot die stof gaan lê het. Hulle (BLF) was ontstoke oor hierdie wit vrou,” sê sy.

Mariandra het Johann se as vroeër in ’n skildery laat verewig.
Roets sê egter Mariandra het in haar e-pos gesê sy wil as getuie by die saak onttrek, omdat sy nie in die teenwoordigheid van Mngxitama wou wees nie en geglo het die hofervaring kon tot post-traumatiese stres lei. “Dit het nie oor ’n veiligheidsrisiko gegaan nie. Die kommer wat Mariandra gehad het, was dat “direkte kontak” vir haar ’n sneller kan wees. Dit is waarom AfriForum haar nie as getuie geroep het nie, maar wel ’n video gespeel het wat reeds sedert 2018 op YouTube beskikbaar was.” Volgens Roets het sy nie gesê sy wil totaal van die saak onttrek nie. “As dit die geval was sou ons hoegenaamd nie die video vertoon het nie.”

Dit was haar laaste kontak met AfriForum, sê Mariandra. Tot die afgelope week, toe haar man se moordenaars gevonnis is. Tot haar verbasing het AfriForum ’n mediaverklaring uitgereik waarin hulle sê hulle het haar sedert 2017 emosioneel ondersteun en gehelp met traumaberading vir Mariandra en haar kinders.

“ ’n Verteenwoordiger van AfriForum het haar daagliks na die hof vergesel en AfriForum het haar met hofvoorbereiding ondersteun omdat sy gedagvaar was om in die saak te getuig,” lui die verklaring.Mariandra sê hul verklaring is niks meer as ’n advertensie vir AfriForum nie. “Ek het nie berading by hulle ontvang nie en hulle was nie betrokke by die saak nie. Daar was nie hofvoorbereiding nie. Ek het die uitkenning alleen gaan doen, alleen die ondersoekbeampte en staatsaanklaer ontmoet wanneer hulle wou.”

Die enigste ondersteuning by die hof deur AfriForum was toe hulle in 2018 vir twee dae ’n veiligheidsbeampte gestuur het om haar na die hof te vergesel toe sy moes gaan getuig, sê sy.“Ek het nooit vir hulle gewerk nie. Ek het die plaasmoorde-veldtog vir hulle gedoen. Maar hulle bly hierdie golfie ry, hulle bly my saak gebruik,” sê sy.

Roets sê egter Mariandra het deurlopend kontak met AfriForum gehad en het nog tot in Februarie 2020 per Whatsapp met van sy werknemers gekommunikeer. Sy was ook in kontak met ander slagoffers wat op Afriforum se onkoste die hofsaak bygewoon het, voeg Roets by.Volgens hom het Afriforum Mariandra op verskeie maniere bygestaan voor en tydens die hofsaak. Onder meer deur “dokumente te stuur om haar by te staan om voorbereiding vir die saak te doen”, nadat sy hulle gekontak het om te sê die saak gaan voorkom. Vier mense van hul organisasie het haar bygestaan by die hof, “hoewel nie in die afgelope jaar nie” en haar verskeie kere vir koffie ontmoet.

“AfriForum het (ook) ’n veiligheidsoudit by Mariandra se huis gedoen en betaal vir ’n alarmstelsel wat by haar huis geïnstalleer is,” voeg Roets by.“Die veiligheidspersoon wat AfriForum gestuur het om Mariandra te vergesel was op Mariandra se versoek aan AfriForum. Dit is so dat Mariandra haar eie traumatoloog gehad het…Ten spyte daarvan was daar steeds gereelde kontak tussen Mariandra en AfriForum se traumahuis, asook met verskeie ander rolspelers in AfriForum.”

Hy sê dit is vir hulle baie sleg dat Mariandra hul ondersteuning nie ervaar het soos hulle dit in die verklaring uiteensit nie.Johan Kloppers, ’n trauma-ondersteuningsbeampte by AfriForum, het Vrydag gesê hy glo hy het aan Mariandra emosionele ondersteuning gegee. Sy het wel later gesê sy wil heeltemal van AfriForum wegbreek.

Mariandra was nie Donderdag in die hof toe Justice Sethlangu (39) gevonnis is vir die moord op Johann nie. Dit was Mieke se tiende verjaardag en sy wou eerder die dag saam met haar kinders deurbring, sê sy.Sethlangu is gevonnis tot lewenslange tronkstraf plus 42 jaar.


Meer oor:  Andile Mngxitama  |  Ernst Roets  |  Justice Sethlangu  |  Moord  |  Afriforum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.