Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
AfriForum gereed om weer op EFF-bates beslag te lê

Met die vorige kostebevele wat AfriForum teen die EFF gekry het, was die reëlings vir die veiling reeds aan die gang om van die party se eiendom te verkoop, toe die EFF uiteindelik wel die geld opgedok het.

Nóg ’n kostebevel wat AfriForum teen die EFF gekry het, moet teen eerskomende Vrydag betaal word. As dié uitstaande kostebevel van R109 098 nie deur die EFF betaal word nie, gaan die organisasie weer met ’n proses begin om op die party se bates beslag te lê.

Kallie Kriel Foto: Elizabeth Sejake

Dié bedrag is toegestaan in die kostebevel wat AfriForum op 14 November 2018 teen die EFF en Julius Malema, EFF-leier, bekom het. Dit was nadat die EFF en Malema se poging misluk het om ’n dringende hofbevel te bekom om te verhoed dat AfriForum die party se eiendom verwyder en dit op ’n veiling verkoop.

Die EFF het reeds twee kostebevele, wat R235 000 beloop het, aan AfriForum betaal.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het Maandag gesê met die twee vorige kostebevele het die EFF dit betaal toe daar reeds op van hul eiendom by die party se hoofkantoor in Braamfontein, Johannesburg, beslag gelê is en die veiling daarvoor besig was om gereël te word.

AfriForum het altesaam vyf kostebevele teen die EFF bekom wat spruit uit ’n hofgeding sedert Maart 2017 toe AfriForum ’n interdik teen Malema en die EFF bekom het wat hulle verbied het om mense aan te hits om grond onwettig te beset of betree. Die hooggeregshof in Pretoria het in AfriForum se guns beslis en die interdik met koste toegestaan.

Malema en die EFF het daarna ’n aansoek gebring dat die interdik tersyde gestel word, wat op 12 September 2017 aangehoor sou word. Die hof moes dié saak egter uitstel nadat Malema en die EFF se betooghoofde in hul eie saak laat ingedien is. Die regter het gevolglik ’n bestraffende kostebevel teen Malema en die EFF uitgereik.

Met die hervatting van dié saak op 18 Februarie 2018 het Malema en die EFF se regsverteenwoordigers nie opgedaag nie en is die saak in AfriForum se guns beslis met die afwysing van die tersydestelling-aansoek, en ’n verdere kostebevel is teen Malema en die EFF uitgereik.

In die ander saak het die EFF en Malema probeer om ’n dringende hofbevel te bekom wat verhoed dat AfriForum die EFF se eiendom verwyder en op ’n veiling verkoop om hul regskoste te verhaal. Die hof het beslis dat die EFF en Malema se saak nie dringend is nie en het gevolglik ’n vyfde kostebevel teen Malema en die EFF uitgereik.

Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, het nie Maandag op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Afriforum  |  Julius Malema  |  Kallie Kriel  |  Eff  |  Hof  |  Bates
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.