Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
AfriForum hof toe oor grondgrypers op De Wildt
Vermeende grondbesetters het Saterdag in luukse voertuie by De Wildt in Noordwes opgedaag. Foto: VERSKAF

Die kwessie oor beweerde grondgrype op De Wildt in Noordwes gaan waarskynlik volgende week in die hooggeregshof in Pretoria draai.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê regshulp is reeds ingewin nadat vermeende grondbesetters 16 dae gelede begin het om erwe op private grond vir hulle uit te meet.

De Wildt is sowat 40 km buite Pretoria, maar val binne die grense van Noordwes.

Cameron was Vrydagoggend op die stuk grond waar strukture met sinkplate opgerig is. Daar was toe nie enige van die vermeende grondbesetters nie.

“Hulle meet die erwe uit en rig strukture so stuk-stuk op,” sê Cameron.

Sowat 200 mense het Saterdag in luukse motors opgedaag en begin om die erwe uit te meet nadat die eerste groep vroeër vandeesmaand begin het.

Die stuk grond waarop die erwe uitgemeet word, beslaan sowat 50 ha.

Dit behoort aan twee private grondeienaars, wat om veiligheidsredes nie hul name genoem wil hê nie.

Cameron sê pres. Cyril Ramaphosa sê daar is nie grondgrype in Suid-Afrika nie, “maar dit gebeur op verskeie plekke”.

’n Sinkhuis wat deur ’n vermeende grondgryper buite De Wildt opgerig is. Foto: VERSKAF
Ian Cameron, hoof van AfriForum se gemeenskapsveiligheid, by een van die sinkhuise buite De Wildt. Foto: VERSKAF

Verlede jaar het mense onwettig grond beset buite Burgersfort in Limpopo en ook buite Pretoria.

Cameron sê die grondeienaars op De Wildt het die polisie om hulp gevra toe die eerste groep mense by die grond opgedaag het.

Die Mmakau-polisiekantoor het glo nie gereageer om die vermeende besetters te verwyder nie.

Marius Kamfer, AfriForum se regsbestuurder, sê dit is onaanvaarbaar.

“Die polisie maak ’n bespotting van grondregte in die land,” sê Kamfer.

Niemand het Vrydag die telefone in die Mmakau-polisiekantoor geantwoord nie.

Volgens kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder in Noordwes, sal ’n ondersoek gedoen word na die bewerings dat die Mmakau-polisiekantoor glo traag is om op te tree.

AfriForum beplan om volgende week ’n dringende aansoek in die hooggeregshof in Pretoria te bring om die vermeende besetters van die grond te verwyder.

Meer oor:  Afriforum  |  Grondgrypers  |  Grondbesetters  |  Grondbesetting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.