Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
AfriForum staan grondeis teen

Slegs enkele lede van die 39 families waarvoor ’n grondeis in Centurion meer as 20 jaar gelede ingedien is, en wat nou weer geadverteer word, leef nog.

Boonop word net 4% van die grond teruggeëis, terwyl in die ander gevalle finansiële vergoeding gevra word.

“Ek voel jammer vir enigiemand wat sedert 1998 in die omgewing gekoop het en nie van die eis geweet het nie,” sê Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

Ian Cameron. Foto: Nico Gous

Die eis is teen sowat 4 000 ha residensiële grond in Doornkloof, Rooihuiskraal, Tweefontein, Zwartkop, Highveld, The Reeds, Brakfontein, Olievenhoutbosch, Heuweloord, Louwlardia, Kosmosdal, Hoekplaats, Trigaardspoort, Midstream en die Danie Joubert-snelweg (N1).

AfriForum het aangedui dat hy die grondeis, wat sowat 2 000 huishoudings raak, gaan teenstaan.

Die grond se waarde word op R4 miljard geskat.

“Hierdie eis is die ideale geleentheid vir die onteiening van grond sonder vergoeding om wortel te skiet sonder om dit so te noem,” sê Cameron.

“Onwettige grondgrype kan ook plaasvind weens die grondeis en AfriForum sal die eis teenstaan.

“Dit is onregverdig van die grondeisekommissie om ná 20 jaar ewe skielik die eis te adverteer,” meen Cameron.

“So ook is dit onregverdig dat iemand ’n eis sonder enige bewyse kan indien en die onus op die huidige eienaar val om die teendeel te bewys.

“Hierdie eis kan ’n geweldige negatiewe impak op eiendomswaarde hê.”

Ek sidder om te dink hoeveel geld reeds op hierdie eis uitgegee is.
Marnus Kamfer

Baie ontwikkeling het intussen in die omgewing plaasgevind wat die waarde van die grond opwaarts beïnvloed het.

“Die interessantste deel van die eis is dat net 4% van die grond teruggeëis word. In die ander gevalle word ’n gedeelte van die grond en/of finansiële vergoeding gevra.”

Volgens Marnus Kamfer wat vir AfriForum se regs- en risikobestuur verantwoordelik is, het hulle reeds ’n voorlegging by die grondeisekommissie ingedien waarin hulle vir eers vir meer tyd gevra het om behoorlik ondersoek in te stel en kundiges se raad in te win en tweedens alle inligting rondom die eis van die kommissie vra.

“Indien ons voorlegging afgekeur word, sal ons die saak hof toe vat,” sê Kamfer.

“Ek sidder om te dink hoeveel geld reeds op hierdie eis uitgegee is.”

AfriForum het ’n webwerf begin om mense wat geraak word, van inligting te voorsien en hulle die geleentheid te gee om ’n mandaat aan AfriForum toe te staan om namens hulle op te tree. Meer as 600 mense het reeds ’n mandaat aan AfriForum toegestaan. ’n Kaart van die betrokke gebied behoort nog vandeesweek op die webwerf beskikbaar te wees.

Voorts gaan AfriForum op 19 Februarie by die Leriba Lodge ’n vergadering hou waar ’n aantal deskundiges voorleggings sal doen waarna lede van die publiek vrae kan vra.

Die vergadering begin om 19:00. Besoek grondeis.co.za om meer uit te vind.

Meer oor:  Afriforum  |  Ian Cameron  |  Centurion  |  Grondonteieing  |  Hof  |  Grondeis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.