Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
AfriForum, TKAG kry slae in hof oor hidrobreking

Die hooggeregshof in Pretoria het AfriForum en Treasure the Karoo Action Group (TKAG) se aansoek om die regering se regulasies oor hidrobreking ter syde te stel, Woensdag verwerp.

AfriForum en TKAG het in hofstukke aangevoer die minister van minerale bronne, wat die regulasies uitgevaardig het, was nie gemagtig om dit te doen nie en dat dit die taak van die minister van omgewingsake is. Luidens hul hofstukke het die regulasies, soos dit tans daar uitsien, geen regsmag nie.

AfriForum en TKAG het voorts aangevoer die minister van minerale bronne het hom verlaat op Amerikaanse regulasies vir hidrobreking en dat dít nie geskik is vir die Suid-Afrikaanse omstandighede nie.

Waarnemende regter E.F. Dippenaar het AfriForum en TKAG in haar uitspraak daaraan herinner dat samewerkende regering by die opstel van die regulasies ter sprake was.

Sy het gesê die One Environmental System Agreement (OESA) bestaan vir die regulering van die ontginning van minerale en petroleumhulpbronne en dat die ministers van minerale bronne en omgewingsake dus in hierdie opsig saamwerk. Volgens haar is dit dus nie korrek om te meen nét die minister van omgewingsake moet alle omgewingskwessies reguleer nie.

Die regulasies is op 3 Junie 2015 gepubliseer en sy meen die applikante kon toe reeds ’n hersieningsaansoek daarteen gebring het.

Dippenaar het voorts gesê die applikante kon nie bewys dat die regulasies die OESA oortree nie.

Marcus Pawson, AfriForum se hoof van omgewingsake, sê dat AfriForum en TKAG volhou dat die regulasies op verskeie gronde onregmatig is.

Sy het in haar uitspraak verwys na regter Gerald Bloem se uitspraak in Oktober verlede jaar toe hy bepaal het die minister van minerale bronne moet herbesin oor die regulasies vir hidrobreking. Bloem het die regulasies ter syde gestel, maar die department van minerale bronne het daarteen geappelleer.

Volgens Dippenaar is daar ooreenkomste tussen dié twee sake, maar ook verskille deurdat die applikante in die saak wat in die Grahamstadse hooggeregshof aangehoor is, aangevoer het die regulasies is “omgewingskwessies”.

Sy het gesê AfriForum en TKAG se saak was hoofsaaklik daarop gegrond dat die minister van minerale bronne nie die regsbevoegdheid gehad het om die regulasies uit te vaardig nie.

Dippenaar het geen kostebevel gemaak nie.

TKAG en AfriForum het laat Woensdag gesê hulle bestudeer die uitspraak en wag op regsadvies om te bepaal of daar wesentlike gronde is om te appelleer.

Marcus Pawson, AfriForum se hoof van omgewingsake, sê dat AfriForum en TKAG volhou dat die regulasies op verskeie gronde onregmatig is.

Volgens Jonathan Deal, uitvoerende hoof van TKAG, hoop albei die organisasies om teen die uitspraak te appelleer.

Die minister van omgewingsake, sowel as die minister van minerale bronne, het TKAG en AfriForum se aansoek teengestaan.

Meer oor:  Afriforum  |  Pretoria  |  Regulasies  |  Hidrobreking  |  Omgewingsbewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.