Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
AfriForum vat Lesufi hof toe oor hy sê Kallie wil moor

AfriForum en sy uitvoerende hoof, Kallie Kriel, dagvaar Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, weens beweerde laster.

Die LUR het onder meer beweer AfriForum het probeer om hom te vermoor. Lesufi het dié en ander opmerkings verlede jaar gemaak op ’n nuuskonferensie waar hy belangegroepe toegespreek het oor die stand van skooltoelating in die provinsie.

Panyaza Lesufi

Luidens die hofstukke het Lesufi AfriForum by dié geleentheid op 24 November 2019 van ’n “agterbakse poging” beskuldig om ’n Afrikaanse universiteit op te rig.

Hy het gesê nierassigheid is vreemd vir dié organisasie en dat AfriForum die Grondwet misbruik, rassistiese neigings bevorder en dat lede van die organisasie – onder wie Kriel – probeer het om hom te vermoor.

Dit, sê Afriforum en Kriel, is vals en lasterlik.

Hulle het in ’n formele brief ’n verskoning van Lesufi geëis, maar hy het geweier. Nou vra hulle die hooggeregshof in Johannesburg om hom te beveel om verskoning te vra.

Luidens ’n tran­skripsie van die nuuskonferensie wat by die hofstukke ingesluit is, het Lesufi verklaar: “Hulle (AfriForum) het my agtervolg, asook my familie. Hulle het my kinders agtervolg en probeer om my aan te val en probeer om my dood te maak. Hulle het probeer om deur al my bankrekeninge te gaan . . . ”

Hy het bygevoeg hy het drie klagte by die Valke ingedien, maar die sake het verval. “So, ek is op my eie . . . ”

Lesufi het die voorblad van die hofstukke Vrydag getwiet en daarby gesê sy sonde was om hom teen #Orania uit te spreek. “Soos vorige pogings sal dié een (hofsaak) ook misluk. Ek haat rassisme met ’n passie, maar ek is verslaaf aan nie-rassigheid.”

Hy het later aan Eyewitness News gesê AfriForum teiken hom as individu omdat hy hom teen rassisme uitspreek. “Hulle het die kwessie byna ’n jaar gelede geopper en die rede is omdat ek oor Orania gepraat het. Hulle wil relevant wees en my stilmaak.”

Kriel het Saterdagmiddag gesê dis “blatante leuens”. Hy het gesê Lesufi probeer die aandag van die werklike kwessie aflei.

Lesufi het Maandag in ’n toespraak gesê Orania “moet val” en dit is tyd dat alle Suid-Afrikaners toegelaat word om te bly waar hulle wil.

Kriel sê toe hy dié uitsprake gemaak het, was AfriForum se hofstukke reeds ingedien.

Oor Lesufi se aantygings dat AfriForum hom agtervolg en wil doodmaak, sê Kriel die LUR moet met bewyse vorendag kom. “Ons gaan hof toe ook ter wille van ons reputasie. Ons is trots dat ons op nie-gewelddadige wyse veg vir ons demokratiese regte.”

Meer oor:  Panyaza Lesufi  |  Kallie Kriel  |  Orania  |  Afriforum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.