Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
AfriForum wil hof toe oor ‘haglike kwarantyn-kamp’

AfriForum bring Woensdag ’n aansoek in die hooggeregshof in Pretoria om die gesondheidsdepartement te probeer dwing om mense wat glo in haglike omstandighede in Mpumalanga in kwarantyn gehou word, vir Covid-19 te toets.

Dr. Leon Nel, sy vrou, Melanie, en hul twee kinders. Foto: Verskaf

“As hulle negatief toets, vra ons hulle moet toegelaat word om huis toe te gaan,” sê Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum.

“Ons vra ook dat die hof die departement dwing om die gerief op standaard te bring as mense positief toets en daar moet aanbly.”

107 mense is tans onder kwarantyn by die Zithabiseni Oord- en Konferensiesentrum in Mpumalanga, naby Groblersdal in Limpopo.

Talle mense daar is desperaat om getoets te word. Onder hulle is Shaun Smit, Sarie Palm, Nico van Staden, Santa Prinsloo, Douw Swart, Craig Hardie en Nial Hardman. Hulle, dr. Leon Nel, ’n veearts van Midrand in Gauteng, sy vrou, Melanie, en nóg mense wat daar onder kwarantyn is, is ná byna ’n week by die oord nog nie getoets nie.

“Net ons koors is gemeet en ons word uitgevra oor hoe ons voel,” het Melanie Vrydag vertel.

“Pres. Cyril Ramaphosa se opdrag was dat mense uit hoë risikolande outomaties vir 14 dae onder kwarantyn geplaas word. Ons was in Mosambiek met vakansie, ’n laerisikoland met geen sterftes nie en was reeds vyf weke in selfkwarantyn daar. Ons vra net om getoets te word. By ander kwarantyngeriewe word mense binne tussen een en drie dae daar getoets.”

Intussen vrees die bekommerdes hulle weens die beweerde onhigiëniese en vervalle toestand by die oord, ander siektes behalwe Covid-19 opdoen. Hulle sê veral bobbejane en ape wat vryelik naby en selfs in die chalets rondbeweeg, kan siektes oordra en oppervlaktes besmet.

So lyk die chalets waarin die mense onder kwarantyn moet woon. Foto: Verskaf

Die diere ontlas ook in waterputte op die perseel. Volgens die mense daar het hulle omtrent ’n dag lank water gedrink uit krane wat vermoedelik water uit dié putte kry, voordat hulle toevallig gehoor het die water is nie geskik vir menslike gebruik nie.

Leon sê die nasionale gesondheidswet verplig die eienaar of inwoners van ’n perseel om sover moontlik siektedraende entiteite (soos diere) te stuit.

Mpumalanga se Toerisme- en Parke Agentskap het in ’n mediaverklaring wat saam met die provinsiale gesondheidsdepartement opgestel is, gesê die oord is ’n geskikte, goedgekeurde kwarantyngerief en dat dit “in ’n bevredigende toestand” is.

Die agentskap ontken ook ’n ashoop sowat 1,9 km van die chalets is ’n gesondheidsgevaar. Melanie sê egter die ape en bobbejane krap rond en eet uit die vullishoop, waar onder meer mediese en ander afval gestort word. Die diere kom daarna in die chalets en vat aan alles.

Volgens die agentskap is die oordbestuur besig om die ashoop op te ruim.

Die agentskap sê ook gebottelde water word van die eerste dag aan die mense onder kwarantyn verskaf, maar die inwoners sê dit is nie dadelik verskaf en hulle kry steeds sporadies en te min gebottelde water.

Die putte met water waarin bobbejane en ape in die omgewing ontlas. Foto: Verskaf
‘n Halfgaar stuk hoender wat een van die inwoners gekry het. Foto: Verskaf

Die toerisme-agentskap ontken dat die mense nie genoeg maskers en ontsmetmiddels ontvang het of dat chroniese pasiënte nie voldoende medikasie ontvang nie.

Melanie sê egter daar word nie behoorlik medies na hulle omgesien nie, en dat die dokter sommige dae glad nie daar is nie.

Die gekwarantyndes wil nou die oord sê sertifikaat van goedkeuring sien. Melanie vertel daar is net een chalet wat behoorlik op standaard is omdat dit glo as ’n skouhuis vir beleggers voorberei is, maar die ander se toestand wissel van aanvaarbaar tot gemiddeld na uiters swak en onbewoonbaar.

“Van die kaste is verrot. Swart mos groei in van die badkamers. Hier was kakkerlakke, van die toilette het nie bakke nie en is vuil, krane en storte is stukkend en die badkamers is onhigiënies. Op dag vyf het van die chalets nog geen handdoeke gehad nie, party het steeds nie.

“Die plek kwalifiseer nie eens vir een ster gemeet aan die toerismegraderingsraad van Suid-Afrika se standaarde nie. Ek het self met Jik en Dettol wat ek saamgebring het, skoon geskrop.”

Een van die ape wat vryelik in die oord rondbeweeg. Foto: Verskaf
Dis hoe ’n lig in een van die hutte lyk. Foto: Verskaf
Dis hoe dit by een van die toilette in die oord lyk. Foto: Verskaf
Een van die verrotte kaste in ‘n hut by die oord. Foto: Verskaf

Die Toerismeagentskap gee toe daar is “kleiner instandhoudingskwessies” waaraan deurgaans aandag gegee word, en dat dit toiletbakke en die herstel van stukkende storte insluit. Melanie meen egter daar is so baie probleme dat dit “beslis nie binnekort reggemaak sal kan word om aan die minimumstandaarde te voldoen nie”.

Die beswaardes sê die agentskap se bewerings dat almal toiletpapier, handdoeke en skoonmaakmiddels gekry het, is leuens. Die agentskap se bewering dat inwoners toegang tot ’n wassery het, is volgens hulle ook onwaar.

Hoewel die agentskap volhou die etes is op standaard, sê die groep dit is “walglik”. Daar was glo vals oogwimpers en hare in van die kos wat verskaf is, en hoender was nog half rou. ’n Diabeet wat gevra het vir spesiale kos, is glo uitgelag. Melanie sê personeel het tot onlangs nie handskoene gedra nie en die ingang na die kombuis tot onlangs vuil en met voëlmis bespat was.

“Die oord kon nog nie ’n sertifikaat verskaf wat bewys die kombuis voldoen aan nodige standaarde nie. Ons gesin eet maar noedels en tuna wat ons nog uit Mosambiek saamgebring het.”

Die agentskap sê hy sal die bewerings ondersoek oor die vals oogwimpers en diabeet wat uitgelag is en sê alle personeel het beskermende drag gekry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.