Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Afspraak-moorde: Meyer-egpaar vir R600 vermoor

Die sogenaamde Krugersdorp-afspraakmoordenaars het in 2015 weer “aktief geraak” want hulle het geld nodig gehad om hul “bediening te onderhou”.

Só het Le Roux Steyn (22), veroordeelde lid van die Electus per Deus- (uitverkies deur God) groep Woensdag in die hooggeregshof in Johannesburg getuig.

“Die bediening moes betaal vir mense wat uit satanisme kom. Ons moes hul kos en blyplek betaal het,” het hy getuig.

Le Roux Steyn (22), veroordeelde lid van die sogenaamde Krugersdorp-afspaakmoordenaars, getuig Woensdag in die hooggeregshof in Johannesburg. Foto: Jana Marx

Die saak teen die groep se vermeende baasbrein, Cecilia Steyn (37), en die lede Zak Valentine (34) en Marcel Steyn (20) het Woensdag voortgegaan.

Die drie ontken dat hulle onder meer 11 moorde tussen 2012 en 2016 gepleeg het. Le Roux getuig vandeesweek teen sy groeplede, wat sy suster insluit.

Electus per Deus (EPD) het afgestig van die bedieningsgroep Overcomers Through Christ, onder leiding van Ria Grunewald. Cecilia se verhouding met Grunewald het versuur, waarna Cecilia en nog lede die groep verlaat het om EPD te stig. Le Roux het vroeër getuig Cecilia het aanvanklik by die Overcomers-groep aangesluit, omdat sy uit die greep van satanisme wou loskom.

Ná vier weerwraakmoorde in 2012 het Electus per Deus dormant geraak, nadat hul plan om Grunewald se seun, Joshua, te vermoor, in die wiele gery is.

Wapens wat Woensdag as bewysstukke by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien is. Foto: Jana Marx

Volgens Le Roux het die groep Jacques de Villiers en twee ander mans ingeneem om Joshua te help vermoor, maar De Villiers wou nie die plan deurvoer nie en het “verdwyn”.

“Ons kon nie voortgaan nie. Hy was nou ’n las. Ons was bang hy gaan polisie toe.”

Die groep het laag gelê tot 2015, toe hul geld opgeraak het.

“Ons het nie geweet wat om te doen nie en John (Barnard, wat reeds gevonnis is) het voorgestel dat ons sy baas (Pieter en sy vrou, Joan Meyer) gaan beroof.”

Meyer het ’n drukkery in Florida besit.

Zak, Marcel en Marinda Steyn (Le Roux se ma, wat ook reeds gevonnis is) het toe ’n afspraak met Meyer by sy huis in Noordheuwel, Krugersdorp, gemaak, nadat die groep hom vir dae lank dopgehou het.

Meyer was glo onder die indruk hulle gaan ’n sakevoorstel met hom bespreek.

Die Meyers se hande is met kabelbinders vasgebind en Marinda het aangedring dat hulle vir haar geld gee.

“Joan en Peter het oor en oor gesê hulle het nie geld by hulle nie. Zak het hulle gesteek en die kabelbinders afgehaal, seker om te verhoed dat vingerafdrukke agterbly,” het Le Roux getuig.

Van die wapens wat Woensdag as bewysstukke by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien is.Foto: Jana Marx

Die Meyers is vir R600 vermoor. Volgens Le Roux was hulle geskok toe hulle terugkom by Cecilia se huis “omdat hulle nie genoeg geld gekry het nie.”

“Al die geld het altyd direk na Cecilia gegaan. Ons het nooit ’n sent daarvan gesien nie.”

Ná die Meyer-voorval het EPD ’n nuwe plan beraam, het Le Roux getuig.

“Die plan was, gaan soek iemand, vermoor hom, laat hom soos Zak lyk en laat Zak se lewenspolis by Discovery uitbetaal,” aldus Le Roux.

Die verhoor duur voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.