Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
'n Weerwolf, vampier en oudsataniste
Le Roux Steyn, staatsgetuie en veroordeelde lid van die groep wat as die sogenaamde Krugersdorp-afspraakmoordenaars bekend staan. Foto: Felix Dlangamandla

Kan ’n weerwolf en ’n vampier ’n bediening lei wat voormalige sataniste help?

Dit was een van die vrae in die hooggeregshof in Johannesburg aan ’n staatsgetuie in die saak oor die sogenaamde Krugersdorp-afspraakmoorde.

Le Roux Steyn (22) is reeds veroordeel vir sy aandeel in 11 moorde wat met die “Christelike bediening” Electus per Deus verbind word.

Le Roux Steyn, veroordeelde lid van die Electus per Deus bedieningsgroep van Krugersdorp, Gauteng wat glo elf mense vermoor het wys die tatoeëermerke wat hy as lid aangebring het. Naby sy pols is die weerwolf-tatoeëring wat hy glo laat aanbring het omdat die beweerde leier van die groep, Cecilia Steyn, hulle laat verstaan het dat sy 'n weerwolf en 'n vampier is. Foto: Jana Marx

Le Roux het getuig hy het op 19-jarige ouderdom die Electus per Deus (Uitverkies deur God)-tatoeëermerk gekry “om deel te voel van die bediening”.

Volgens hom was Cecilia Steyn die leier van die bediening. Cecilia (37), Zak Valentine (32) en Marcel Steyn (20), Le Roux se suster, word tans verhoor.

Le Roux het die hof ’n tatoeëermerk op sy linkervoorarm gewys.

“Dit is ’n weerwolf. Ek het dit vir Cecilia gekry. Cecilia het almal in die bediening laat glo sy is ’n vampier en ’n weerwolf. Ek het vir haar die merk gekry.”

Dit is ’n weerwolf. Ek het dit vir Cecilia gekry. Cecilia het almal in die bediening laat glo sy is ’n vampier en ’n weerwolf. Ek het vir haar die merk gekry.

Op adv. Amanda Nel, namens Valentine, se vraag of ’n vampier en weerwolf ’n bediening kan lei wat voormalige sataniste help, het Le Roux geantwoord: “Dis die vraag wat ek ook het.”

Nog twee lede van Electus per Deus is reeds gevonnis. Hulle is Marinda Steyn (52), die ma van Le Roux en Marcel, asook John Barnard (42).

“Ek was daar, want my ma was daar. Sy het my laat glo my (biologiese) pa wou my nie hê nie daarom het ek nêrens heen gehad om te gaan nie,” het Le Roux verder getuig.

“Cecilia en my ma het verskeie kere op my geskree en vir my gesê ek gaan opeindig soos Mikeila. Dit het my bang gemaak,” het Le Roux getuig.

Mikeila (23), Valentine se vrou, is vermoor toe sy die groep wou verlaat.

Volgens Le Roux moes groeplede maandeliks hul tiendes aan Cecilia oorhandig. Dié geld sou glo vir die bediening aangewend word. Le Roux het Woensdag getuig groeplede het nooit ’n sent van die geld of die sogenaamde bekeerde sataniste gesien nie.

Volgens Le Roux was Valentine die hoofbroodwinner van die groep.

“Hy het groot somme geld betaal om die kinders (voormalige sataniste) te help. Hy het kos gekoop en hulle versorg.”

“Kan jy bevestig dat jy en Zak Cecilia se skoothondjies was?” het Nel gevra.

“Ja, ons sou enigiets vir haar doen,” het Le Roux beaam.

Volgens Le Roux het hy male sonder tal van die huis af probeer wegloop.

“Dan besef ek ek het nêrens heen om te gaan nie en gaan maar terug.”

Hy sê die groep het nooit besef hy probeer hulle verlaat nie.

“Hulle het gedink ek gaan ‘doen’ dwelms buite die huis. Ek het in groot moeilikheid hieroor gekom.”

Volgens Le Roux was Cecilia se man, Dries, ’n adjudantoffisier in die polisie. Hy het saam met Cecilia gebly. Groeplede is glo gereeld herinner: “Moenie na die polisie toe hardloop nie. Ons sal weet.”

Moenie na die polisie toe hardloop nie. Ons sal weet.

Le Roux het verder vertel al die lede van die groep het gereeld dreigemente van die “hoëpriester” van die Kerk van Satan ontvang.

“Die SMS’e het gelui: ‘As julle nie vir Cecilia los nie, gaan ons julle doodmaak,’ of ‘Ons sal jou R5 000 betaal om Cecilia uit te los’,” het hy getuig.

Cecilia het Le Roux volgens sy getuienis gedwing om ’n lewenspolis op sy eie lewe en dié van sy pa uit te neem. Le Roux getuig hy was toe reeds in aanhouding in Krugersdorp en sy ma en Cecilia het die administrasie behartig.

Op Nel se vraag of hy besef het dat hy vermoor kon word, het Le Roux geantwoord: “Ja, deur Cecilia of my ma.”

Meer oor:  Afspraakmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.