Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Afspraak-moorde: ‘Ons leer moor op varkkop’

Die vermeende Krugersdorp-moordenaars het op ’n varkkop, wat hulle by die slaghuis gekry het, “geoefen om met ’n mes te steek en met ’n byl te kap”.

Dié oefensessie het glo in die slaapkamer van Cecilia Steyn (38), die vermeende baasbrein in die Krugersdorp-moordsaak, plaasgevind.

So het Marcel Steyn (21) Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg getuig. Dit was haar tweede en laaste dag in die getuiebank.

Marcel Steyn getuig Dinsdag in die hof.Foto: Deaan Vivier

Marcel staan saam met Cecilia en Zak Valentine (34) tereg op 11 moorde en ’n rits ander aanklagte wat met bedrog en rampokkery verband hou.

Die helfte van haar donkerrooi hare was in ’n poniestert agter haar kop vasgebind. Sy het ’n silwerkruis om haar nek gedra, met ’n stel bypassende oorbelle.

Marcel het die hof Maandag onkant betrap toe sy besluit het om met die hele sak patats vorendag te kom nadat sy vir maande aaneen skuld op al die aanklagte teen haar ontken het.

“Ek wil nie langer leuens vertel nie. Ek wil die waarheid praat,” het sy Maandag gesê.

Marcel is Dinsdag gekruisondervra oor die skrikbewind wat sy en ander na bewering tussen 2012 en 2016 gevoer het.

Sy het volgehou sy wou nie deel wees van die beweerde moordgroep nie, maar dat haar ma, Marinda Steyn (52), wat reeds gevonnis is, haar met die dood gedreig het en sy toe te bang was om Cecilia en haar ma teë te gaan.

Adv. André Coetzer, namens Cecilia, het dit aan haar gestel dat sy glad nie so “passief” was soos wat sy voorgee nie. Marcel het dit ontken.

Op ’n vraag van adv. Amanda Nel, namens Valentine, oor wat Marcel van haar ma se getuienis voor die hof dink, het Marcel geantwoord dit was ’n “desperate poging om my en Cecilia te red”.

Zak Valentine en Cecilia Steyn in die hof se beskuldigdebank.Foto: Deaan Vivier

Marinda het verlede jaar vir Cecilia getuig en volgehou syself was die baasbrein agter die moorde, nie Cecilia, soos wat die staat beweer nie. Sy het Cecilia en haar dogter heeltemal uit haar getuienis geskryf en die blaam vierkantig voor haar eie deur, dié van Valentine en ander veroordeelde lede van die beweerde moordgroep geplaas.

Marcel het aan adv. Paul Schutte SC, namens die staat, gesê sy het eers in Januarie vanjaar besluit om “die waarheid” te praat.

Op Schutte se vraag of Marcel, nou dat sy tot nuwe insigte gekom het, in Cecilia se bonatuurlike magte glo, het sy gesê: “Dis een ding waarmee ek nog sukkel. Soveel soos ek nou weet dat wat sy gesê het nie waar is nie, was ek soms by waar (bonatuurlike) goed gebeur het . . .”

Marcel het op ’n vraag van regter Ellem Jacob Francis gesê sy was gebreinspoel.

“Wie sou jou dan breinspoel?” het die regter gevra.

Marcel Steyn het met haar getuienis besluit om haar verweer handomkeer te swaai en met die hele sak patats vorendag te kom. Foto: Deaan Vivier
Cecilia Steyn Dinsdag in die hof.Foto: Deaan Vivier

“Cecilia,” het Marcel geantwoord.

Regter Francis het later weer gevra: “Wie het julle aangemoedig om op ’n 'killing spree' te gaan?”

Weer was Marcel se antwoord “Cecilia”.

Marcel sê Cecilia het graag gesê “God sê vir haar” dat hulle sekere onwettighede moet pleeg.

Hoewel dit strydig met Marcel se Bybelkennis was, het hulle Cecilia, as “uitverkorene van God”, geglo, het sy getuig.

“Regsgewys was dit (die moorde) verkeerd, maar Cecilia het volgehou dis reg op ’n geestelike vlak.”

Regter Francis het aan die einde van haar getuienis benadruk dat sy nie ’n amptelike bekentenis voor die hof afgelê het nie, want die klagte is nie een-een aan haar gestel sodat sy daarop kan pleit nie.

Hierop het adv. Sharon Johnson, haar regsverteenwoordiger, gesê sy sal in haar slotbetoog daaroor praat.

Die saak is uitgestel tot Donderdag 23 Mei vir slotbetoë.

Meer oor:  Afspraak-Moorde  |  Marcel Steyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.