Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Afspraakmoorde: Weerwolf-vampier lei bediening glo

Kan ’n weerwolf en ’n vampier ’n bediening lei wat voormalige sataniste help?

Dit was een van die vrae in die hooggeregshof in Johannesburg aan ’n staatsgetuie in die saak oor die Krugersdorp-afspraakmoorde.

Le Roux Steyn Donderdag in die hof se getuiebank.Foto: Zukhanye Mtebele

Le Roux Steyn (22) is reeds veroordeel weens sy aandeel aan 11 moorde wat met die “Christelike bediening” Electus per Deus (Uitverkies deur God) verbind word.

Le Roux het getuig hy het op 19 jaar die Electus per Deus-tatoeëermerk gekry, want dit het hom “laat deel voel van die bediening”.

Cecilia Steyn (37), die vermeende opperbrein, Zak Valentine (34) en Marcel Steyn (20), Le Roux se suster, word tans verhoor.

Le Roux se ma, Marinda (52), en John Barnard (42) is ook reeds gevonnis.

Hy het die hof ’n tatoeëermerk aan sy linkerarm gewys. “Dit is ’n weerwolf. Ek het dit vir Cecilia gekry. Cecilia het almal in die bediening laat glo sy is ’n vampier en ’n weerwolf.”

Op adv. Amanda Nel, wat vir Valentine verskyn, se vraag of ’n vampier en weerwolf ’n bediening kan lei wat voormalige sataniste help, het Le Roux geantwoord: “Dis die vraag wat ek ook het.”

Hy het getuig hy was in die groep omdat sy ma lid was. “Sy het my laat glo my pa wou my nie hê nie, daarom het ek nêrens heen gehad om te gaan nie,” het Le Roux getuig.

“Cecilia en my ma het verskeie kere op my geskree en vir my gesê ek gaan opeindig soos Mikeila. Dit het my bang gemaak,” het Le Roux getuig.

Le Roux Steyn wys die tatoeëer-merke wat hy as lid van Electus per Deus-groep laat aanbring het. Foto: Jana Marx

Mikeila (23), Valentine se vrou, is vermoor toe sy die groep wou verlaat.

Volgens Le Roux moes groeplede maandeliks hul tiendes aan Cecilia oorhandig. Dié geld sou glo vir die bediening aangewend word. Le Roux het Woensdag getuig groeplede het nooit ’n sent van die geld of die sogenaamde bekeerdes gesien nie.

Le Roux het getuig hy het talle kere van die huis af probeer wegloop, maar besef “hy het nêrens heen om te gaan nie” en dan maar teruggekeer.

Cecilia se man, Dries, was volgens Le Roux ’n adjudant-

offisier in die polisie. Groeplede is glo gereeld herinner: “Moenie na die polisie toe hardloop nie. Ons sal weet.”

Volgens Le Roux het al die groeplede dwelms soos “Cat, Rocks, tik en dagga” gebruik.

Cecilia het glo ook vir hom ’n meisie en vir sy ma ’n kêrel gereël. Hulle mag dié persone egter nooit ontmoet het nie en het net telefonies gekommunikeer, “anders sou die Kerk van Satan hulle doodmaak”. Na verneem word het Le Roux later uitgevind dis Cecilia aan die ander kant.

Cecilia Steyn, die vermeende baasbrein van die groep. Foto: Deaan Vivier

Hy het getuig die groep het gereeld dreigemente van die “hoëpriester” van die Kerk van Satan ontvang.

Die verhoor is verdaag nadat Nel ’n handgeskrewe eedsverklaring van Le Roux wou bekom omdat inligting op die oorgetikte, Engelse weergawe volgens haar ontbreek.

Regter Ellen Jacob Francis het haar egter kortgevat: “Ons vergader nou die dag met die adjunk-regter-president in sy kantoor en bespreek die slae wat ons van die publiek kry omdat ons nie in kantoorure klaar werk nie, maar ek dink nie dis altyd ons skuld nie. Dis julle regsverteenwoordigers.”

Die kruisondervraging gaan vandag voort.

Meer oor:  Le Roux Steyn  |  Krugersdorp  |  Afspraakmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.