Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Aftreeoord-moorde: 2 skuldig aan geldwassery

Twee mans wat by die moordsaak van twee bejaarde vroue in ’n aftreeoord betrek word, het Vrydagmiddag skuld beken.

Craig Madiro (middel) en Panganai Mabiwe (regs) verlaat Vrydagmiddag die landdroshof in Port Elizabeth nadat hulle skuld op ’n aanklag van geldwassery beken het. Foto: Lulama Zenzile

Panganai Mabiwe (27) en Craig Madiro (28) het in die Port Elizabethse landdroshof skuld beken op ’n aanklag van geldwassery nadat hulle erken het dat hulle van die gesteelde goedere gekoop het wat aan die oorledenes behoort het.

Agnes Elaine Burns (91) en Rosemary Langton (89) is vroegoggend op 10 Oktober vanjaar in die St. John Stella Londt-sentrum vir bejaardes in Sundridge Park beroof en vermoor.

Die slagoffers se lyke is in hul onderskeie kamers op die eerste verdieping in die sentrum aangetref. Hul voete en hande was vasgebind, terwyl hul monde ook toegebind was.

Krugerrande, duur horlosies, juwele en ’n selfoon is by die twee slagoffers gesteel.

Mabiwe en Madiro is net meer as ’n week ná die moorde saam met drie ander aangekeer. Hulle is Nomgebisi Slangveld (34), wat agt jaar by die betrokke sentrum gewerk het, Mkhuseli Dananet (30), wat glo met haar bevriend is, en Nyasha Nayange (33).

Mabiwe het Vrydagmiddag erken dat hy ’n Samsung- selfoon vir R5 000 by Nayange gekoop het, terwyl hy daarvan bewus was dat die selfoon deur ’n misdryf bekom is. Die selfoon het aan Langton behoort en is gesteel die aand toe sy vermoor is.

Volgens Mabiwe was Madiro by terwyl hy die selfoon gekoop het en hy het die foon daarna aan hom (Madiro) oorhandig.

Madiro het op sy beurt aan die hof erken dat ook hy geweet het dat die selfoon onwettig bekom is, maar dit steeds gevat het en aan ’n vrou in Kuyga, ’n nedersetting aan die buitewyke van die stad, verkoop het.

Madiro het op sy beurt aan die hof erken dat ook hy geweet het dat die selfoon onwettig bekom is, maar dit steeds gevat het en aan ’n vrou in Kuyga, ’n nedersetting aan die buitewyke van die stad, verkoop het.

Landdros Ramona van Vuuren het albei beskuldigdes se pleite aanvaar en hulle ingevolge die pleitooreenkoms gevonnis.

Mabiwe is ’n boete van R5 000 of 12 maande tronkstraf opgelê, plus ’n bykomende 24 maande gevangenisstraf wat vir drie jaar opgeskort is.

Madiro is tot 24 maande tronkstraf gevonnis, wat ook vir drie jaar opgeskort is.

Slangveld, Dananet en Nayange is steeds in aanhouding en sal Maandag weer vir ’n aansoek om borgtog in die landdroshof verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.