Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Agrizzi se siekte ‘kom lang pad’

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa en fluitjieblaser, het nie gedink hy sal dié week agter tralies wees nie.

Só het adv. Mannie Witz, wat deel is van Agrizzi se regspan, Vrydag aan Netwerk24 gesê.

Patrick Gillingham, voormalige finansiële hoof van die DKD, het Vrydag vlugtig in die handelshof in Pretoria verskyn saam met sy medebeskuldigdes. Die saak is uitgestel tot later. Foto: Isabel Venter

Agrizzi is Woensdag nie op borgtog vrygelaat in die landdroshof in Palm Ridge nie waar hy teregstaan op aanklagte van korrupsie nadat hy glo R800 000 namens Bosasa aan Vincent Smith, voormalige ANC-LP, oorbetaal het.

Die saak sal weer op 3 Desember voorkom.

Donderdag moes Agrizzi inderhaas oorgeplaas word van die tronk na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal nadat sy gesondheid versleg het. Tydens sy hofverskyning het hy ’n ’n nasale suurstofmasjien by hom gehad.

Volgens Witz is hy hospitaal toe omdat die tronk nie die regte suurstofmengsel vir die masjien kon verskaf nie.

Linda Mti (agter), voormalige kommissaris van die DKD, verlaat die handelshof in Pretoria. Foto: Isabel Venter

Hy het Agrizzi se toestand Vrydag as stabiel beskryf. Die regspan het ook aan News24 bevestig dat Agrizzi intussen negatief getoets is vir Covid-19 en in die hospitaal sal bly.

Weens Agrizzi se swak gesondheid kon hy nie Vrydag in die handelshof in Pretoria verskyn nie. Die staat het ook aangedui hulle wag op sekere dokumente.

In dié saak hou die klagte van sameswering, bedrog, geldwassery en korrupsie verband met vier tenders van R1,8 miljard wat die departement van korrektiewe dienste (DKD) glo aan Bosasa toegestaan het tussen 2004 en 2005.

Agrizzi se medebeskuldigdes in die saak, Andries van Tonder, voormalige finansiële hoof van Bosasa, Linda Mti, voormalige kommissaris van die DKD, en Patrick Gillingham, voormalige finansiële hoof van die DKD, was wel in die hof.

Die saak is uitgestel tot 26 November.

Witz het die hoop uitgespreek dat Agrizzi weer gesond genoeg sal wees om dan in die hof te wees.

Die feit dat hy nou in aanhouding en nog ernstig siek in die hospitaal is, was ’n groot skok vir die regspan.

“Watter boodskap word hierdeur gestuur aan voornemende fluitjieblasers? Ek sal nie na vore wil kom as fluitjieblaser as ek weet ek gaan borgtog geweier word nie. En as Agrizzi sterf weens die feit dat hy nou afhanklik is van die tronk se mediese stelsel, gaan dit ’n negatiewe impak hê op al die ander sake van die Zondo-kommissie,” het Witz gesê.

Volgens Witz was daar ’n informele verstandhouding tussen die staat en verdediging dat borgtog toegestaan sal word. Juis daarom het hy hom vrywillig oorgegee.

“Ons het rondom 1 Oktober al verneem Agrizzi is ernstig siek toe ons hom probeer bel het om te sê die staat soek hom ook in die hof omdat hulle Smith gaan arresteer,” sê Witz.

Hy het dit duidelik gemaak dat Agrizzi nie nou skielik siek is omdat hy in aanhouding is nie.

Volgens Witz ly Agrizzi aan ’n chroniese siekte, wat “al ’n lang pad kom”. Sy gesondheid het sedert 2016 nadat ’n gewas op sy hart verwyder is in so ’n mate agteruit gegaan dat hy al in Desember 2019 permanent afhanklik geraak het van ’n suurstofmasjien, sê Witz.

Die span gaan intussen voort met ’n appèlaansoek teen die borgtoguitspraak.

Meer oor:  Mannie Witz  |  Staatskaping  |  Bosasa  |  Angelo Agrizzi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.