Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Alexandra-man se familie gaan eis teen staat instel

Die familielede van die man van Alexandra wat glo deur lede van die weermag doodgemaak is, gaan ’n siviele eis teen die staat instel.

Wikus Steyl van Ian Levitt Attorneys het gesê Collins Khoza se familie gaan finansiële vergoeding eis vir ’n verlies aan steun, trauma, skok, sielkundige ondersteuning en enige mediese koste wat hulle weens sy dood moes aangaan.

“Hulle is verslae. Boonop is ander familielede ook op dieselfde dag (Paasvrydag) in die huis aangerand. Collins is voos geslaan,” het Steyl gesê.

Hulle wil reeds volgende week die eis teen die weermag, die minister van polisie, die hoof van die Johannesburgse metropolisiediens (JMPD), die polisiekommissaris en die hoof van die leër by die hof indien.

’n Moordklag is in die Alexandra-polisiekantoor aanhangig gemaak.

Hulle is verslae. Boonop is ander familielede ook op dieselfde dag in die huis aangerand. Collins is voos geslaan.
Wikus Steyl

In ’n brief aan pres. Cyril Ramaphosa het die familie ’n volledige verslag geëis oor die voorval wat tot Khoza se dood gelei het. Hy moes ook sê watter stappe gedoen gaan word teen die soldate wat na bewering by die voorval betrokke was.

Die familie wou teen Donderdag ’n antwoord van die president gehad het.

Steyl sê Ramaphosa het op die brief gereageer, maar gesê hy is nie in ’n posisie om kommentaar op die voorval te lewer nie.

Volgens die Khoza-familie is hy deur lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, bygestaan deur lede van die JMPD, aangerand.

Khoza is daarvan beskuldig dat hy die inperkingsregulasies oortree het nadat drie weermaglede glo ’n kampstoel en ’n beker halfvol alkohol by sy huis gesien het. Lede van die SANW het die erf glo met sambokke betree en by sy huis ingegaan. Hulle het na bewering bier oor sy kop uitgegooi, hom gewurg en teen ’n sementmuur gegooi en hom glo ook met die kolf van ’n masjiengeweer geslaan.

Kol. Louis Kirstein, SANW-woordvoerder, het gesê die polisie ondersoek die saak en hulle gee hul volle samewerking.

Volgens hom is die SANW-lede ingelig oor die inperkingsregulasies en is hulle dus vertroud met die wet. “Daar is elke dag inligtingsessies en hulle weet wat die opdragte is.”

Wayne Minnaar, woordvoerder van die JMPD, het navrae na die kantoor van die minister van polisie verwys. Reneilwe Serero, woordvoerder vir Bheki Cele, was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Meer oor:  Inperking  |  Collins Khoza  |  Alexandra  |  Koronavirus  |  Covid-19-Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.