Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Alles gaan oor faksies, sê Ace se regsman

Faksionalisme.

Ace Magashule met sy hofverskyning in die hooggeregshof in Bloemfontein op 13 November 2020. Foto: Reuters

Dít is volgens adv. Dali Mpofu, SC, glo die hoofmotief waarom die faksie van pres. Cyril Ramaphosa in die ANC dié party se grondwet én opsystaan-resolusie “onwettig gedokter” het om sy kliënt, Ace Magashule, tydelik as sekretaris-generaal te kan skors.

So het Mpofu Donderdag aangevoer op die eerste dag van die twee dae lange virtuele verhoor voor regters Jody Kollapen, Edwin Molahlehi en Sharise Weiner in die hooggeregshof in Johannesburg.

Die beleërde Magashule wil met dié aansoek sy tydelike skorsing, asook die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) se nuwe opsystaan-resolusie, ongrondwetlik laat verklaar en ter syde laat stel.

Ramaphosa, Jessie Duarte, die ANC se adjunk-sekretaris-generaal, en die ANC staan die aansoek teen.

Adv. Wim Trengove, SC, ANC-regsverteenwoordiger, argumenteer Vrydag sy kliënte se saak.

Intussen is die aansoeke van ander ANC-lede wat met drie verskillende aansoeke probeer het om ter ondersteuning van Magashule tot die aansoek toegelaat te word, Donderdag almal met koste van die hand gewys.

Van hulle was ook onder die groep mense wat Donderdag voor die hooggeregshof in die Johannesburgse middestad hul steun vir Magashule getoon het.

Mpofu het in die hof ook sy ontevredenheid teenoor Ramaphosa, Duarte en die ANC uitgespreek, wat hul hofstukke laat ingedien het, en die regters versoek om sulke “arrogansie en selfgeregtigheid” met ’n streng kostebevel te bestraf.

Adv. Mpati Qofa het namens Magashule versoek dat talle “irrelevante” dokumente wat Ramaphosa en Duarte oor die omstrede CR17-veldtog in hul hofstukke ingedien het, geskrap word omdat dit Magashule net “uittart, teister en irriteer”.

Wat dit vererger, is dat dit om faksie-doeleindes gedoen is. Die (Nasrec-)opsystaan-resolusie was om korrupsie in al sy lelike vorme uit te roei.
Adv. Mpati Qofa

Magashule het Ramaphosa weens dié CR17-fondsinsamelingsveldtog uit die ANC “geskors”. Hy wil nou hê die hof moet sy “skorsing” van Ramaphosa bevestig.

Mpofu het verder betoog dat Reël 25.70 van die ANC se grondwet, ingevolge waarvan Magashule geskors is, onwettig is omdat dit Suid-Afrika se Grondwet en Magashule se grondwetlike regte skend.

Magashule en verskeie ander ANC-lede wat in ’n hof teregstaan op aanklagte van korrupsie en ander ernstige misdaad en nie vrywillig hul poste ontruim het nie, is in Mei vanjaar tydelik ingevolge dié reël geskors.

Mpofu het aangevoer dat die reël Magashule sy grondwetlike regte ontneem het om aan politieke aktiwiteite deel te neem, sy kant van die saak te stel of om teen sy skorsing te appelleer. Dit skend ook sy reg om as onskuldig beskou te word totdat hy skuldig bevind word.

“As ons reg is, en ek neem aan ons is, is dit die einde van dié aansoek en skorsing.”

Volgens Mpofu het die ANC se NUK ook nie die mag om die Nasrec-konferensie se aanvanklike opsystaan-resolusie te wysig nie.

Sommige NUK-lede het egter iewers op Zoom besluit dat korrupsie net in sommige vorme teen ’n sekere faksie uitgeroei moet word.

“Wat dit vererger, is dat dit om faksie-doeleindes gedoen is. Die (Nasrec-)opsystaan-resolusie was om korrupsie in al sy lelike vorme uit te roei.

“Sommige NUK-lede het egter iewers op Zoom besluit dat korrupsie net in sommige vorme teen ’n sekere faksie uitgeroei moet word.”

Mpofu het daarmee verwys na NUK-vergaderings wat aanlyn gehou word.

“Dit is verkeerd. Geen hof kan sulke gedrag duld óf kondoneer nie.”

Mpofu meen daarom is die NUK se opsystaan-resolusie ’n “klug en bedrogspul”. Dit is self korrupsie teen die ANC-afgevaardigdes se Nasrec-opsystaan-resolusie wat ook lui dat diegene teen wie daar beweringe van korrupsie is, wat daarby betrek word en wat geld gebruik om stemme by ANC-konferensies te koop, ook opsy moet staan.

Volgens Mpofu het laasgenoemde kategorieë uit die nuwe NUK-opsystaan-resolusie verdwyn om lede van die ander faksie te beskerm.

Die aansoek duur Vrydag voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.