Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Alles gereed vir eis teen Springbok ná skietongeluk

Die tafel is gedek vir die verhoor oor ’n eis van R9 miljoen teen Johan Goosen, ’n voormalige Springbok- en Cheetah-losskakel. Die eis is ná ’n skietongeluk deur sy eertydse boesemvriend, Armandt Stoman, ingestel.

Johan Goosen en Armandt Stoman, sy eertydse boesemvriend. Foto: Facebook

Die eis is gereed om verhoor te word, het regter Corné van Zyl in ’n voorverhoor in die hooggeregshof in Bloemfontein beslis.

Die eis spruit uit gebeure op 24 Januarie 2017 in die plaashuis van Lila Flanders in die distrik Aliwal-Noord. Stoman, wat die plaasvoorman was, het daar gewoon. ’n Skoot het afgegaan uit ’n nuwe jaggeweer in die hande van Goosen en die onderkant van Stoman se linkerbeen is vergruis.

’n Datum vir die verhoor moet nog bepaal word, maar dit sal waarskynlik later vanjaar of vroeg volgende jaar begin. Die meriete is by ooreenkoms tussen die partye van die kwantum van die eis geskei.

Die verhoor sal dus waarskynlik begin met ’n spesiale pleit van Goosen dat Stoman sy eis teen die ongevallekommissaris moes ingestel het en nie teen hom (Goosen) en die maatskappy G10 Bonsmara Stoetery, as eienaar van die plaas, nie.

Goosen is ’n direkteur van die maatskappy.

Stoman se regspan sê in sy hofstukke die ongeluk het nie in die uitvoering van sy pligte op die plaas gebeur nie. Die gebeure wat die skoot voorafgegaan het, was nie deel van sy werk op die plaas nie. Dié jaggeweer was ook nie ’n werktuig wat Stoman in sy werk gebruik het nie.

Armandt Stoman Foto: Facebook

Luidens die hofstukke was Goosen besig om die jaggeweer, wat hy en Stoman die vorige naweek in Kimberley gaan haal het, aan ’n ander vriend, James Rheeders, te wys toe die skoot afgaan.

As die skoot nie afgegaan het nie, was die drie van hulle van plan om in die Wimpy in Aliwal-Noord te gaan eet.

In antwoord op vrae van Stoman, sê Goosen hoewel die geweer nog nie in sy naam geregistreer was nie, het hy oor die nodige wettige permitte beskik om dit by hom te hê.

Hy sê ook dat Stoman, as werknemer, by die ongelukkekommissaris en by die Werkloosheidsversekeringsfonds geregistreer was.

In die eis sê Stoman se regspan in Junie 2017 is ’n mondelingse ooreenkoms tussen die partye aangegaan waarin ooreengekom is oor betaling van Stoman se salaris en skadevergoeding en koste wat Goosen sou betaal.

In hul verweerskrif ontken Goosen en die maatskappy die bestaan van die ooreenkoms en sê dit was blote skikkingsamesprekings sonder benadeling van hul regte.

Hulle het Stoman se salaris tot einde Augustus 2019 en van sy mediese onkoste betaal, maar dit is net uit welwillendheid gedoen.

• Stoman het reeds 11 operasies en verskeie ander prosedures vir die rehabilitasie van sy been ondergaan. Hy loop kruppel en dra ’n opgeboude skoen. Hy was ’n belowende rugbyspeler wat in 2010 saam met Goosen in die Vrystaatse Cravenweek-span ingesluit was. Hy het voor die ongeluk nasionale kleure in perdesport verwerf en het ook aan krieket en waterpolo deelgeneem.

• Goosen moet in Julie by die Blou Bulle in Pretoria aanmeld, waar hy gekontrakteer is om rugby te speel. Hy het in Mei op Twickenham in Londen in die eindstryd van die Europese Uitdaagbeker-reeks teen Leceister Tigers die wendrie gedruk vir sy Franse klub, Montpellier.

Hugo Janzen van Vuuren van Rosendorff Reitz Barry-prokureurs is Stoman se prokureur en Leon Strating van Symington en De Kok-prokureurs is Goosen en die maatskappy se prokureur.

Meer oor:  Johan Goosen  |  Bloemfontein  |  Hooggeregshof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.