Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Alles nie wel met Grey-kollege se geldsake

Nie alles verloop so glad met die geldsake van Grey-kollege in Bloemfontein soos wat die Vrystaatse onderwysdepartement wil voorgee nie, blyk uit die betoog van adv. Greta Engelbrecht in die Vrystaatse hooggeregshof in die stad.

Die twee senior amptenare van dié departement wat die finansiële pligte van die skool se beheerliggaam oorgeneem het, is nie altyd beskikbaar om goedkeuring te gee vir projekte bo R20 000 wat buite die begroting aangepak word nie.

Adv. Greta Engelbrecht (middel) en adv. Jerry Merabe (regs) het in opdrag van Marius van Rensburg van Horn en Van Rensburg vir Grey-kollege se beheerliggaam opgetree. Adv. William Mokhari SC het in opdrag van die staatsprokureur vir die Vrystaatse onderwyshoof en sy LUR opgetree. Foto: ALZANE NARRAIN

Daarom het vergaderings daaroor nie plaasgevind nie en die projekte staan nou stil, terwyl geld daarvoor beskikbaar is.

Engelbrecht het voor regters Sharon Chesiwe en Henriëtte Murray betoog in ’n aansoek dat ’n besluit van die Vrystaatse onderwyshoof op 11 April vanjaar om summier die beheerliggaam van die skool van sy “finansiële en verwante pligte” te onthef, onwettig en nietig verklaar moet word.

Uitspraak in die aansoek is voorbehou.

Die besluit van die onderwyshoof het gevolg nadat die hoof van die hoërskool, Deon Scheepers, en sy vakbond, die SAOU, dit onder die onderwyshoof se aandag gebring het dat die beheerliggaam R1,5 miljoen van die skool se geld vir regskoste gebruik het.

Engelbrecht het betoog dié skool se begroting is nie so eenvoudig soos die departement se amptenare wil voorgee dit is nie.

Sy sê veral kommerwekkend is dat die twee senior amptenare nie hul pligte uitvoer nie.

Die ernstigste hiervan is dat hulle nie seker maak die finansiële state word geoudit en betyds by die departement ingedien nie.

Adv. William Mokhari SC het namens die onderwyshoof en sy LUR betoog die beheerliggaam het nog nie die interne prosesse uitgeput voordat hulle voortydig hof toe gehardloop het nie.

Dit was ’n tydelike besluit van die onderwyshoof wat nog verander kon word. Die beheerliggaam het ’n geleentheid gehad om ’n voorlegging aan die onderwyshoof te doen.

Hy het betoog die beheerliggaam het nie met sy eie geld teen Scheepers in die hof baklei nie. Dit is die ouers se geld.

Die onderwyshoof moes dadelik optree, want die moontlikheid het bestaan dat die beheerliggaam nog van dié geld kon gebruik.

As die verdere litigasie deur iemand anders gefinaliseer is, hoekom is die R1,5 miljoen van die skool dan gebruik, het hy gevra.

Engelbrecht het betoog die departement het ’n voorhamer gebruik om ’n muskiet dood te slaan. Dit was nie nodig om al die finansiële pligte van die beheerliggaam weg te neem nie.

“Hoekom is die finansiële pligte ook nie dadelik heringestel toe die departement hoor Fedsas betaal vir die verdere appèl van die beheerliggaam nie?”

Meer oor:  Grey-Kollege  |  Bloemfontein  |  Hof  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.