Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Alterskye in Januarie voor nadat sy regter, speurders glo slegsê
Jolene Alterskye

Die veroordeelde moordenaar Jason Rohde se voormalige vriendin Jolene Alterskye se aanmerkings oor die regter wat hom ’n vonnis van 20 jaar opgelê en die speurders wat die saak ondersoek het, het haar in die sop laat beland.

Alterskye het Maandag in die hof in Kaapstad verskyn op ’n aanklag van crimen injuria vir die aanmerkings wat sy op sosiale media en in ’n teksboodskap gemaak het nadat hy in Februarie vanjaar skuldig bevind en gevonnis is.

Regter Gayaat Salie-Hlophe het hom 18 jaar gevangenisstraf opgelê vir die moord op sy vrou Susan, en vyf jaar vir regsverydeling. Hy het teen die vonnis geappelleer.

Alterskye het vroeër verskoning aan die regter en Louis van Niekerk, die aanklaer, gevra oor die teks wat sy versprei het.

In die dae nadat Jason gevonnis is, het Alterskye op die polisie se Facebook-blad uitgevaar teen die verhoorregter, asook die ondersoekbeamptes, sers. Marlon Appollis en sers. Stephen Adams van Stellenbosch.

Alterskye het onder meer geskryf die staat en die regter is wat haar betref “in dieselfde span en as die staat wederregtelik kan optree wanneer hy onwettig eiendomme deursoek en staatsgetuies omkoop, wat het hulle nie versin om hul Kers­bonus te kry nie”.

“ ’n Korrupte land begin by ’n korrupte polisie en ek hoop die waarheid sal onthul word sodat geregtigheid werklik kan seëvier.”

Alterskye het die inskrywing verwyder nadat mense kommentaar daarop gelewer het.

Sy het verder beweer sy moes Appollis en Adams met whisky omkoop om haar eiendom – ’n selfoon en rekenaar waarop die polisie glo onwettig beslag gelê het – terug te kry.

Luidens haar skrywe “is om omgekoop te word die enigste taal wat dié twee ken”.

Kort nadat sy die inskrywing gedoen en dit toe verwyder het, het sy die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en Salie-Hlophe deur middel van William Booth, haar prokureur, in ’n skrywe om verskoning gevra.

Alterskye het in haar verskoning gesê sy was sedert Rohde se inhegtenisneming, dwarsdeur sy verhoor en selfs ná sy vonnisoplegging onder erge openbare en mediadruk.

Sy het geskryf sy het nie rasioneel gedink toe sy die inskrywing gedoen het nie. Haar persoonlike lewe, insluitend haar familie- en werklewe, het daaronder gely.

Sy het ook geskryf sy het nie gedink haar inskrywing sou soveel reaksie ontlok nie.

“Wanneer ek terugkyk, besef ek my optrede was onaanvaarbaar en ek kan net nederig om verskoning vra aan diegene wat deur my inskrywing geraak is. Ek respekteer die regsproses en die hof.”

William Booth, Alterskye se regsverteenwoordiger, het bevestig regter Salie-Hlophe, Adams en Appollis is die klaers in die saak teen haar.

Booth sê die direkteur van die NVG wil die saak na die hooggeregshof verwys, waarteen hy beswaar gemaak het omdat hy nog nooit van ’n saak van crimen injuria gehoor het wat in die hooggeregshof aangehoor is nie.

Die verhoor is tot 27 Januarie 2020 uitgestel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.