Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Amor appèlhof toe oor Joost se testament

Die sangeres Amor Vittone wend haar nou tot die appèlhof in die taai hofstryd oor watter een van twee testamente haar oorlede man, Joost van der Westhuizen, se laaste testament en wilsbeskikking is.

Sean Hefferman van Hefferman Attorneys, Vittone se prokureur, het bevestig sy kliënt het Woensdag tot die appèlhof gepetisioneer teen ’n vorige uitspraak wat bepaal het dat sy slegs ’n televisiestel erf.

Amor Vittone. Foto: Argief

Haar aansoek om verlof tot appèl op 10 April vanjaar in die hooggeregshof in Pretoria was onsuksesvol.

Vittone wil appelleer teen die beslissing deur regter Hans Fabricius op 12 November 2018 dat Van der Westhuizen se testament van 2015, waarin hy Vittone as ’t ware onterf, geldig is.

Vittone het gehoop die hof sou beslis ten gunste van die gesamentlike testament wat in 2009 opgestel is. In dié testament erf sy alles.

Lees die testamente hier: Hier is Joost se volledige testament

Van der Westhuizen en Vittone se paaie het in 2010 geskei. Motorneuronsiekte is in Mei 2011 by Joost gediagnoseer en hy is op 6 Februarie 2017 dood. Die egskeiding was nie afgehandel voordat hy dood is nie.

In die testament van 2015 meld Van der Westhuizen spesifiek: “Ek bemaak my gehele boedel aan die J9 Trust met dien verstande dat my twee kinders, of hulle afstammelinge, die kapitaal en inkomste begunstigdes (sic) van die trust sal wees. My vrou, Amor, mag geen direkte voordeel uit die J9 Trust ontvang nie.”

Hy benoem ook sy broer Pieter weer as ’n trustee. Pieter is vroeër saam met sy ander broer, Gustav, en Gavin Varejes van SA Rugbylegends in die hooggeregshof in Bloemfontein as die trustees onthef.

Ulrich Roux, prokureur van die Van der Westhuizen-familie, sê hulle het nog nie die hof se kennisgewing ontvang nie en kan daarom nie kommentaar lewer nie.

Vittone voer in haar openingsverklaring aan dat Van der Westhuizen nie self sy 2015-testament kon opstel of onderteken nie, omdat hy in daardie tyd reeds aan die ernstige gevolge van sy siekte gely het.

Pieter en Van der Westhuizen se vorige prokureur, Ferdinand Hartzenberg, was teenwoordig met die ondertekening in 2015.

Die meester van die hooggeregshof het dié testament aanvanklik weens ’n regsfout in die ondertekening nie aanvaar nie. Hartzenberg het die testament as kommissaris van ede én namens Van der Westhuizen onderteken, wat nie volgens die testamentwet toegelaat word nie.

Die Van der Westhuizen-familie het egter voet by stuk gehou dat dié testament aanvaar behoort te word, omdat dit volgens hulle Van der Westhuizen se laaste wilsbeskikking was en Fabricius het hulle gelyk gegee.

Vittone meen egter die regter het fouteer in sy bevinding om Hartzenberg toe te laat om in ’n dubbele hoedanigheid te onderteken.

“Ek stel dit aan die hof dat sodanige (ondertekening) kunsmatig is en tot ’n kunsmatige gevolg lei. Wanneer ’n kommissaris teken, is die handtekening van ’n ander persoon nie nodig nie. Maar wanneer ’n ander persoon, wat nie ’n kommissaris is nie, teken, word die handtekening en beëdiging van ’n kommissaris versoek,” lees Vittone se verklaring.

Sy sê die benadering van Fabricius “is ’n mistasting van die eintlike doel van die handtekening van ’n kommissaris van ede”, want die testamentwet vereis dat waar ’n testateur nie in staat is om sy eie handtekening op ’n testament aan te bring nie, wetgewing die tekenproses moet oorsien om die egtheid van die testament te verseker.

Ulrich Roux, prokureur van die Van der Westhuizen-familie, sê hulle het nog nie die hof se kennisgewing ontvang nie en kan daarom nie kommentaar lewer nie.

* Van der Westhuizen en Amor se twee kinders is die enigste begunstigdes van die J9 Trust, wat twee meenthuise in Fourways, Johannesburg, besit. Die trust betaal maandeliks sowat R17 000 van die huurgeld van die meenthuise vir onderhoud vir die kinders.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.