Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Amor: ‘Ek sal niks doen wat my kinders benadeel’

Amor Vittone se kinders is haar alles. Sy sal “beslis nie tot hul nadeel optree en daarop aandring dat die boedel net vir my nagelaat word en niks vir die kinders nie”.

Só sê die weduwee van Joost van der Westhuizen, oudkaptein van die Springbok-rugbyspan, in haar beantwoordende verklaring wat Maandag in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor sal word.

Vittone en Van der Westhuizen se broer, Pieter, en sy voormalige prokureur spook sake uit oor die geldigheid van die ontslape rugbyspeler se testament.

Die hof moet beslis watter een van twee testamente Van der Westhuizen se laaste, geldige testament is.

In ’n gesamentlike testament van Van der Westhuizen en Vittone, wat in 2009 onderteken is, erf Vittone alles.

In die 2015-testament onterf Van der Westhuizen sy vervreemde vrou as’t ware en bemaak sy boedel aan sy twee minderjarige kinders.

Lees die volledige 2015-testament hier.

“Weens (Vittone) se verskeie dreigemente, soos om die vanne van haar twee minderjarige kinders na Vittone te verander, en deur daarop aan te dring dat die hele gemeenskaplike boedel net aan haar nagelaat word en nie tot voordeel van die minderjarige kinders nie, het Joost my opdrag gegee om sy laaste testament met betrekking tot sy helfte van die gemeenskaplike boedel op te stel,” lui die verklaring van Ferdinand Hartzenberg, Joost se voormalige prokureur. Vittone ontken dié bewerings ten sterkste.

Pieter van der Westhuizen en Hartzenberg doen aansoek om ’n verklarende bevel nadat die meester van die hooggeregshof die 2015-testament weens ’n regsfout in die ondertekening daarvan nie aanvaar het nie. Hartzenberg het dié testament as kommissaris van ede én namens Van der Westhuizen onderteken.

Lees ook: Joost-testament soos stem uit graf oor Amor

Amor VittoneFoto: Cornél van Heerden

Die aansoekers hou egter voet by stuk dat dié testament aanvaar moet word omdat dit volgens hulle Joost se laaste wens was.

Vittone staan weer op haar beurt by die 2009-testament.

Sy voer aan dit is vreemd dat Hartzenberg eers die 2015-testament drie maande ná Joost se dood aan die meester van die hof oorhandig het.

Toe sy agterkom sy dood is nie by die meester aangemeld nie, het sy haar prokureur gevra om dit te doen. Hulle het toe dadelik die 2009-testament ingedien en dié testament is deur die meester aanvaar, sê sy.

Vittone sê ook dat sy tot en met Van der Westhuizen se dood genoegsame toelae ontvang het om die kinders se skoolgeld, buitemuurse aktiwiteite, heffings, belasting en datakontrakte te kan betaal.

Sedert sy dood kry sy glo net R18 000 per maand. Sy beweer Pieter het op dié bedrag besluit.

Sedert ons skeiding en tot en met Joost se dood het hy my verseker dat daar ná sy dood genoegsaam na sy kinders omgesien sal word en dat hy ruim vir hulle voorsiening gemaak het. Dit is nou verkeerd bewys
Amor Vittone

“Sedert ons skeiding en tot en met Joost se dood het hy my verseker dat daar ná sy dood genoegsaam na sy kinders omgesien sal word en dat hy ruim vir hulle voorsiening gemaak het.

“Dit is nou verkeerd bewys, aangesien ek moet raap en skraap met net die helfte van die inkomste wat ek (voorheen) van die J9 Trust ontvang het. Dié geld is hoofsaaklik tot voordeel van die kinders aangewend,” voer sy in haar verklaring aan.

Sy ontken verder dat Hartzenberg Van der Westhuizen se prokureur is “wat na al sy sake omgesien het”, soos wat hy aanvoer, en hou vol die ontslape Robert Klinkenberg het daardie rol vervul.

“Ek sou sê dat tot Desember 2015, Klinkenberg Joost se prokureur van voorkeur was.”

Hartzenberg beweer Van der Westhuizen was “compos mentis” en bewus van die inhoud van sy 2015-testament toe dit onderteken is. Hy kon dit egter nie self onderteken nie. Daarom het Hartzenberg dit namens hom gedoen.

Vittone sê weer in haar verklaring dat Hartzenberg homself “voordoen as ’n neuroloog, neurochirurg en psigiater”.

“Daar is geen kennergetuienis dat Joost ten volle compos mentis was gedurende September 2015 nie en dat motorneuronsiekte nie ’n persoon se geestesvermoë beïnvloed nie,” sê sy.

Sy ontken dit dat Van der Westhuizen nie self sy testament kon onderteken nie.

“Sy spierbewegings is geraak, maar nie tot die mate dat hy nie self sy handtekening of ’n merk op die testament kon maak nie. Joost kon toe nog loop met die hulp van ’n (toestel).”

Dr. Prakash Kathan, ’n neuroloog, sê in ’n brief wat deel is van die hofstukke Van der Westhuizen was by sy volle bewussyn met ’n konsultasie by hom op 1 Julie 2015.

Hoewel die siekte die brein se frontale lob aantas, beteken dit nie “mense wat die simptome toon, kan nie hul eie finansiële besluite neem nie”, lui die dokter se brief.

“Ons vervreemding en skeiding is die gevolg van ’n morsige verhaal van seks en dwelms waarby Joost betrokke was,” voer Vittone aan.

Sy verwys dan na ’n video wat in 2009 aan die lig gekom het waarin Van der Westhuizen saam met ’n ontkleedanser in die bed afgeneem is.

“In 2014 het die ontkleedanser my en Joost in die openbaar om verskoning gevra omdat sy Joost by die sekskapades betrek het.”

Sy sê ook die egskeiding is op Van der Westhuizen se versoek op ys geplaas en was nie ’n “aktiewe” egskeiding tydens sy dood nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.