Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Amy’Leigh se ouers in hof toe 4de verdagte verskyn

Bofokeng Molemohi (24), wat daarvan beskuldig word dat hy gehelp het om Amy’Leigh de Jager te ontvoer, het strak na die vloer van die landdroshof in Vanderbijlpark gestaar toe hy Woensdag vlugtig in hof A voor landdros Milla Kgobane verskyn het op aanklagte van ontvoering en afpersing.

Molemohi se saak is tydens sy verskyning saam met dié van sy drie medebeskuldigdes gevoeg.

Tharina Human (27), ’n gr. RR-onderwyseres by Amy’Leigh se skool, en Laetitia Nel (40), ’n familielid van die derde beskuldigde, Piet van Zyl, het reeds in die hof op aanklagte van ontvoering en afpersing verskyn.

Bofokeng Molemohi (24) het Woensdag baie vlugtig in die landdroshof in Vanderbijlpark verskyn. Hy het die heel tyd strak na die vloer gestaar. Foto: Felix Dlangamandla

Amy’Leigh se ouers, Wynand en Angeline, was in die hof tydens die verskyning. Angeline het afgekyk toe Molemohi in ’n stadium verby haar moes loop terug na die aanhoudingselle.

Die paartjie het ná die hofverrigtinge vinnig opgestaan en uitgeloop. Hulle wou nie met die media praat nie.

Molemohi, wat van Lesotho afkomstig is, se saak is uitgestel tot 2 Oktober om die staat kans te gun om seker te maak van sy immigrasiestatus in Suid-Afrika en ook om sy woonadres te bevestig. Eers hierna sal ’n datum bepaal word vir ’n borgtogaansoek.

Molemohi het gesê hy het nie geld nie en sal gebruik maak van Regshulp Suid-Afrika se prokureur.

Volgens getuienis wat gelewer is tydens Human, Van Zyl en Nel se borgtogaansoeke, het Molemohi glo op Van Zyl se kleinhoewe gewoon.

Molemohi was na bewering die persoon wat Amy’Leigh uit haar ma se hande gegryp het, is in die hof getuig.

Hy het tot en met sy inhegtenisname Maandag in Muvhango, die informele nedersetting sowat 3 km van Van Zyl se hoewe, gaan wegkruip.

Wynand en Angeline de Jager, Amy’Leigh se ouers, het Woensdag styf langs mekaar gesit vir die verskyning van Bofokeng Molemohi, die vierde verdagte wat betrek word by die ontvoering van hul dogter.Foto: Felix Dlangamandla

Rethabile Kweshe (24), Molemohi se vriendin, het Dinsdag aan Netwerk24 gesê hy was bang hy word doodgemaak, daarom het hy gevlug.

Sy en Molemohi het saam met hul babadogter in ’n klein kamertjie op Van Zyl se kleinhoewe gewoon. Die kleinhoewe is intussen verkoop.

Dié dag toe Amy’Leigh ontvoer is, het Van Zyl glo vir Molemohi gevra om saam met hom iewers heen te gaan. Dit is nie duidelik waarheen hulle op pad was nie. “Hy (Van Zyl) het nooit vir hom gesê waar hulle gaan nie,” sê Kweshe.

In die tyd wat Amy’Leigh weg was, het sy ’n “wit meisie” op die kleinhoewe gesien, het Kweshe gesê.

Dit was nie vir haar vreemd nie, want Van Zyl is ook ’n wit man. Sy het eers later uitgevind ’n kind is ontvoer.

Intussen kon Netwerk24 vasstel dat omstandighede in die tronk nou beter is vir die ander drie beskuldigdes. Die bron, wat nie sy naam wou noem nie, sê dit gaan beter as toe hulle die hof gevra het om hulle oor te plaas polisieselle toe.

Human en Nel het tydens hul laaste verskyning gevra om van die tronk oorgeplaas te word na polisieselle “omdat hulle vrees vir hul lewe”. Dié aansoek is van die hand gewys.

Die twee sal saam met Van Zyl op 1 Oktober weer in die hof verskyn waarna hulle na verwagting eedsverklarings sal indien om die hof te oortuig om borgtog toe te staan.

Al drie se families wou teen Dinsdag nie met die media praat oor die saak nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.