Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Amy’Leigh se oupa omhels onnie se pa buite hof

Die oupa van klein Amy’Leigh de Jager (6) het die pa van die een beskuldigde in die ontvoeringsaak buite die hof omhels terwyl trane oor die pa se wange gestroom het.

Christo de Jager het ’n bewoë Riaan Botha (66) sterkte toegewens met die saak waarby sy dogter Tharina Human (27) betrek word. Human, Laetitia Nel, in haar veertigs, en Pieter van Zyl, in sy vyftigs, het Maandag in die landdroshof in Vanderbijlpark elk op ’n voorlopige klag van ontvoering verskyn.

Christo de Jager, oupa van Amy’Leigh (6), omhels Maandag Riaan Botha, pa van Tharina Human, een van die verdagtes, buite die landdroshof in Vanderbijlpark. Hulle het mekaar sterkte toegewens nadat die saak tot 19 September uitgestel is. Foto: Isabel Venter

Die sesjarige Amy’Leigh is verlede Maandag voor die Laerskool Kollegepark uit haar ma se hand geruk en in ’n wit Toyota Fortuner ingetrek. Die “ontvoerders” het ’n losprys van R2 miljoen geëis, maar die meisie is Dinsdagnag omstreeks 02:00 in ’n gevaarlike straat in Vanderbijlpark afgelaai, waarna weldoeners haar na die polisiekantoor geneem het. Die losprys is nooit betaal nie.

Botha het ná die hofverskyning in trane aan Netwerk24 gesê hy is net dankbaar sy dogter leef. Hy het ook die polisie se spesiale taakmag geloof vir hul goeie werk. “Dames en here, ons salueer julle. Julle is fenomenaal. Ek dink nie daar is woorde om julle te beskryf nie. “Aanvanklik was ek ’n bietjie omgekrap, maar aan die einde van die dag het ek besef die eerste ding gaan oor die feit dat daai ou kleintjie se lewe in gedrang was en alles is in die stryd gewerp om haar vinnig aan die ander kant uit te kry. En deur die Here se genade het dit gebeur. Sy is ongedeerd terug by haar ouers . . .”

Botha het die gemeenskap van Vanderbijlpark en almal by die Laerskool Kollegepark “wat op een of ander manier betrokke is, of geraak is”, om verskoning gevra. “Dit wat gebeur het, is buite ons beheer, maar ons vra vir julle om verskoning en die goeie groot Geneesheer sal die wonde heelmaak en toemaak en ek weet die uitkoms sal volgens Sy toelaatbare wil wees.”

Botha is ondersteun deur Anneke Taljaard, ’n familievriendin.

In die hof was daar nie plek vir ’n muis nie. Ma’s van Amy’Leigh se maats het in wit klere by die hof aangekom. “Amy’Leigh het gevra ons moet wit aantrek – soos engele,” het een ma anoniem gesê.

Wynand en Angeline de Jager, Amy’Leigh se pa en ma, was ook in die hof. Hulle het heel voor in die hof gesit en Angeline het in ’n stadium haar kop op Wynand se skouer laat rus. Die De Jager-familie wou nie met Netwerk24 praat nie.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, praat Maandag in die hof in Vanderbijlpark met Wynand en Angeline de Jager, Amy’Leigh se ouers. Foto: Felix Dlangamandla

Media-herrie in die hof

Joernaliste en fotograwe is aanvanklik gevra om elkeen ’n individuele vorm in te vul om die hof te oortuig hoekom hulle toegelaat behoort te word. Hulle is toe die hof verbied hangende die bestudering van die vorms.

Die staatsaanklaer, adv. Luanda Ngcobo, het ’n media-aansoek deur Netwerk24 se prokureur, Willem de Klerk, geopponeer. Ngcobo het gesê die saak word nog ondersoek en die publisering van foto’s van die beskuldigdes kan die polisieondersoek benadeel.

De Klerk het hierop gesê om die media te verbied om foto’s van die beskuldigdes in die ope hof te neem “druis in teen die media se reg op vryheid van spraak”.

Landdros Hussain Khota het die media daarop toestemming gegee om in die hof te wees en om soos gebruiklik in die normale verloop van sake foto’s van die beskuldigdes voor en ná die hofverrigtinge te neem.

Ná die mediabevel is die beskuldigdes ingebring.

Human se lang blonde hare was in ’n los bolla agter haar kop vasgemaak. Sy het in ’n stadium met Nel gesels. Nel het net voor haar uitgestaar. Van Zyl het heeltyd kop onderstebo gestaan en net opgekyk toe landdros Khota hom aanspreek.

Angeline en Human was volgens hul talle foto’s en ’n “Heksie”-noemnaam vir mekaar op Facebook tot onlangs nog boesemvriendinne. ’n Beweerde uitval sowat twee maande gelede het glo dié twee se paaie laat skei. Nel en Van Zyl is familie van mekaar en woon naby mekaar op kleinhoewes. Volgens berigte is Nel Human se naeltegnikus.

Stoffel Venter verteenwoordig Nel, en Jaco van Heerden vir Human. Van Zyl gebruik Regshulp SA se diens.

Human het haar pa omhels toe die hof tot 19 September verdaag is vir die formele borgtogaansoeke. Die beskuldigdes bly in aanhouding.

Pieter van Zyl, Laetitia Nel en Tharina Human verlaat Maandag die beskuldigdebank in die landdroshof in Vanderbijlpark. Hulle is nie gevra om te pleit nie en die saak is tot 19 September vir ’n borgtogaansoek uitgestel. Foto: Felix Dlangamandla

LUR vir onderwys in hof

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR van onderwys, het ook Maandag by die hof opgedaag.

“Ons het groot waardering vir hul (Amy’Leigh se ouers se) besluit om nie hul kind uit die skool te haal nie,” het Lesufi aan joernaliste gesê.

Binne die hof het Lesufi die paartjie, wat styf langs mekaar gesit het, ’n drukkie gegee.

Hy het hulle ook verseker dat hy met hulle in verbinding sal wees oor die departement se ondersoek na die voorval.

Die departement het gesê die skool het Human geskors. Sy is ook onderhewig aan ’n tugverhoor, hangende die misdaadsaak.

“Ons sal hulle op die hoogte hou van wat gebeur het, hulle het die reg om te weet wat die uitkoms is,” het Lesufi gesê.

“Dit is onaanvaarbaar dat ons kinders geteiken word, en veral as hulle skool toe gebring word. Wat sê dit van ons samelewing,” het Lesufi gevra.

Meer oor:  Amy’Leigh De Jager  |  Tharina Human  |  Verdagtes  |  Hof  |  Ontvoering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.