Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Amy’Leigh: Vermeende ontvoerders in hof vir borgtog

Amy’Leigh de Jager (6) se vermeende ontvoerders verskyn Donderdag weer in die hof om aansoek om borgtog te doen.

Amy’Leigh de Jager (6)

Tharina Human (27), Laetitia Nel (in haar 40’s), en Pieter van Zyl (in sy 50’s) het ’n week gelede in ’n stampvol landdroshof in Vanderbijlpark, Gauteng, elk voorlopig op ’n aanklag van ontvoering verskyn.

Die polisie skakel nie die moontlikheid van nog inhegtenisnemings uit nie.

Amy’Leigh, ’n graad R-leerling, is op Maandag 2 September glo voor die Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark uit haar ma se hand geruk en by ’n wit Toyota Fortuner ingetrek.

Die meisie was sowat 18 uur op Van Zyl se kleinhoewe in die vuil stoorkamer van ’n watertoring aangehou.

Die vermeende ontvoerders het aanvanklik ’n losprys van R2 miljoen geëis, wat nooit betaal is nie. Amy’Leigh is glo Dinsdag omstreeks 02:00 in ’n gevaarlike straat in Vanderbijlpark afgelaai. Weldoeners het haar huilend maar ongedeerd gevind en aan haar ouers terugbesorg.

Die beweerde ontvoeringsdrama het selfs oorsese nuusblaaie gehaal – veral toe dit aan die lig kom dat Human ’n graad RR-onderwyseres by Amy’Leigh se kleuterskool is.

Die drie beskuldigdes is twee dae later een ná die ander by hul onderskeie huise in hegtenis geneem. Hulle is sedertdien in aanhouding.

Amy’Leigh se ma, Angeline, en Human was volgens hul talle foto’s en ’n “Heksie”-noemnaam vir mekaar op Facebook tot onlangs toe nog boesemvriendinne. ’n Beweerde uitval sowat twee maande tevore het glo dié twee se paaie laat skei.

Tharina Human en klein Amy’Leigh, vir wie se ontvoering Human tereg staan. Die foto was vermoedelik geneem toe Human nog met die meisie se ma bevriend was. Foto: Facebook
Laetitia Nel het haar gesig probeer verberg toe sy vroeër uit die landdroshof in Vanderbijlpark gestap het. Foto: Isabel Venter

Nel en Van Zyl is familie van mekaar en woon op kleinhoewes in dieselfde straat. Van Zyl het onder meer met hoenders geboer en in die week van die beweerde ontvoering sy kleinhoewe verkoop.

Netwerk24 het betroubaar verneem dat hy en sy vrou na Durban sou verhuis.

Nel is volgens berigte Human se naeltegnikus. Albei het glo minderjarige kinders.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.