Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Amy’Leigh was haar Plan C,’ hoor hof oor ontvoering
Tharina Human
Tharina Human het glo die hele ontvoeringsdrama haarfyn beplan omdat ’n Nigeriër vir wie sy geld skuld, blykbaar gedreig het om haar eie dogter te vat as sy nie hom nie terugbetaal nie. Foto: Felix Dlangamandla

Die blonde onderwyseres wat van Amy’Leigh de Jager (6) se ontvoering beskuldig word, het glo die hele ontvoeringsdrama haarfyn beplan, omdat ’n Nigeriër vir wie sy geld skuld, blykbaar gedreig het om haar eie dogter te vat as sy hom nie terugbetaal nie.

Só het Tharina Human (27) se medebeskuldigde, Laetitia Nel (40), blykbaar vir die polisie gesê oomblikke nadat sy vasgetrek is.

Nel staan saam met Human en Pieter van Zyl (50) tereg op die sesjarige se ontvoering en ’n klag van afpersing. Die drie het Donderdag in die landdroshof in Vanderbijlpark met borgtogaansoeke begin.

Tharina Human
Tharina Human Donderdag in die hof. Foto: Felix Dlangamandla

Die ondersoekbeampte, konst. Clayton Motloung, het Donderdag getuig die polisie het eers op Nel toegeslaan, nadat hulle ’n selfoon met haar verbind het. Nel het volgens Motloung toe met die hele sak patats vorendag gekom. Sy het die polisie selfs na Van Zyl en Human se huise vergesel en later ’n bekentenis voor ’n landdros afgelê.

Amy’Leigh is Maandagoggend 2 September voor die Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark ontvoer. Sy is uit haar ma, Angeline, se hand gegryp en in ’n wit Toyota Fortuner ingetrek. Haar “ontvoerders” het ’n losprys geëis. Sowat 18 ure later is sy ongedeerd in ’n straat gevind en aan haar ouers terugbesorg. Die losprys is nooit betaal nie.

Die drie is een ná die ander die Woensdagaand ná die ontvoering Maandag vasgetrek. Nadat Nel in hegtenis geneem is, het sy die polisie geneem na die kleinhoewe van Van Zyl, ’n familielid van haar. Die huis was leeg omdat die kleinhoewe toe pas verkoop is. Die polisie het egter ’n versteekte vuurwapen opgespoor.

Hulle is daarna na Human se huis waar sy glo voor haar eie kind in hegtenis geneem is. Van Zyl is laaste vasgetrek.

In Motloung se getuienis het dit aan die lig gekom Amy’Leigh was nie die eerste prys nie. Volgens Nel se inligting aan Motloung wou Human haarself glo eers laat ontvoer en dan ’n losprys by haar eie familie laat eis.

Sy het volgens Motloung toe besluit om liewer ’n familielid van Nel te teiken. Toe plan A en B nie uitwerk nie, het Amy’Leigh die plan C geword. Toe dié getuienis aangehoor is, het Human se pa, Riaan Botha, én Angeline in die hof gesit en huil.

Tharina Human, Laetitia Nel en Pieter Zyl verlaat die hof en stap af na die selle. Foto: Felix Dlangamandla

Die ontvoering

Volgens Motloung is die polisie steeds op soek na ’n vierde verdagte wat die hasepad gekies het. Hy was ’n werker op Van Zyl se kleinhoewe, waar Amy’Leigh in ’n stoorkamer aangehou is. Hy was volgens Motloung ook saam met Van Zyl in Nel se wit Fortuner, toe die meisie ontvoer is.

Die werker het volgens Motloung eers Amy’Leigh se jonger boetie gegryp, hom weer laat gaan en toe vir Amy’Leigh gevang.

Human, ’n graad RR-onderwyseres, was op daardie oomblik soos gebruiklik besig met haar klassie by Amy’Leigh se skool. Tog kon die polisie vasstel sy en Nel het mekaar drie minute ná die voorval vir 40 sekondes lank gebel.

Human het Donderdagoggend in trane uitgebars toe Motloung sê dat die minimum vonnis vir ’n skuldigbevinding in dié saak van 15 jaar tot lewenslank kan wees.

Volgens Motloung is Human die enigste van die drie beskuldigdes wat die De Jager-familie ken.

Laetitia Nel
Laetitia Nel staan saam met Human en Pieter van Zyl tereg op ’n aanklag van ontvoering en afpersing. Foto: Felix Dlangamandla
Pieter van van Zyl het saam met Laetitia Nell en Tharina Human Donderdag om borgtog aansoek gedoen. Foto: Felix Dlangamandla

David Mey, Human se regsverteenwoordiger, het tydens Motloung se kruisondervraging gesê Motloung “blaas” die storie “op” en dat hy geen tasbare bewyse het waarom Human nié borgtog behoort te kry nie. Hy het volgehou Amy’Leigh is nie in die proses beseer nie.

Motloung het op sy beurt getuig die misdryf is baie ernstig en het genoem dat ’n gebrek aan fisieke beserings nie beteken die meisie het nie sielkundige letsels opgedoen nie. Hy het die hof afgeraai om borgtog toe te staan, want hy meen Human is onder meer ’n vlugrisiko en kan dalk staatsgetuies beïnvloed.

Human en Nel is eerste oortreders, maar Van Zyl is voorheen skuldig bevind aan diefstal. Nel en Van Zyl sal Vrydag om borgtog aansoek doen.

Coenie Herbst, skoolhoof van die Laerskool Kollegepark, die adjunkhoof, Juanita Louw, en 'n lid van die beheerraad, Johan van den Berg, was Donderdag by die verrigtinge. “Dit gaan baie goed by die skool, dinge het genormaliseer,” het Herbst gesê. Die skool het volgens Herbst ’n wag aangestel en is besig om nog veiligheidskameras by die ingange aan te bring.

Botha het agterna die hofdag as “taai” beskryf. Hy het hom voorgestel as “Tharina se pa – ek is baie trots op haar en lief vir haar en ek staan by haar.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.