Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
ANC dreig DA met hof oor ‘laster’

Die ANC is gereed om die DA vir laster te dagvaar indien die party nie onmiddellik verskoning vra en sy lasterlike sosialemediaveldtog teen Khaya Magaxa, die ANC se waarnemende Wes-Kaapse voorsitter, staak nie.

Dit hou verband met die beweerde rassistiese uitlatings wat Magaxa glo teen bruin mense sou gemaak het.

Khaya Magaxa, die ANC se waarnemende Wes-Kaapse voorsitter. Foto: Melinda Stuurman

“Ons het vasgestel dat Magaxa nooit hierdie uitlatings gemaak het nie,” het Faiez Jacobs, die ANC se Wes-Kaapse sekretaris, gesê.

“Ons het ’n prokureursbrief gestuur aan die DA, waarin ’n openbare verskoning geëis word, asook dat die lasterlike uitlatings teruggetrek word.”

Jacobs het gesê die party is geweldig ontsteld oor die volgehoue pogings deur Sammy Claassen, ’n ANC-raadslid van die Bergrivier-munisipaliteit, asook die DA in die provinsie om Magaxa te beswadder deur te beweer dat hy neerhalende uitlatings teen bruin mense gemaak het.

Claassen het die herrie ontketen toe hy beweer het dat Magaxa op 26 Augustus op die party se Weskus-streekkonferensie na bruin mense as ’n “klomp honde” verwys het.

Magaxa het die bewerings uit die staanspoor ten sterkste ontken.

Sammy Claassen, ’n ANC-raadslid van die Bergrivier-munisipaliteit, wie se lidmaatskap intussen opgeskort is.Foto: Verskaf

Volgens Jacobs het die party ná gesprekke met die Weskus se streekleiers wat op die konferensie was en nadat Magaxa se skriftelike toespraak nagegaan is tot die slotsom gekom dat hy nooit die uitlatings gemaak het nie.

“Ons het beëdigde verklarings deur Neville Delport, Danville Smith, Billy Claassen en Francois Kamfer wat ontken dat sulke opmerkings ooit deur die waarnemende voorsitter gemaak is,” het Jacobs gesê.

Hy het bygevoeg dat die party se provinsiale werkkomitee (PWC) ’n eenparige besluit geneem het om Claassen se lidmaatskap summier ingevolge reël 25.6 van die ANC se grondwet op te skort.

“Tugstappe sal nou teen Claassen gedoen word,” het Jacobs gesê.

Indien die DA nie aan die ANC se eise voldoen nie, sal formele regstappe vir laster teen die party ingestel word.

Op sy beurt het Claassen gesê hy sal hom nie van stryk laat bring nie, omdat die ANC “desperaat” is en nie die bewering van rassisme teen hom, die Khoisan-mense of die bruin mense ondersoek het nie.

“Ek sal nie swyg voor politieke kleuters nie.”

Hy het gesê hy voel uiters beledig omdat op die nuuskonferensie beweer is dat hy Magaxa valslik en kwaadwillig beskuldig het.

“Die feit dat daar ’n politieke bespreking in die werkkomitee en onder amptenare was om my lidmaatskap op te skort, is ’n bewys van die party se onregverdigheid en die politieke heksejag op my.”

Claassen het gesê dis ’n “desperate poging” om hom stil te maak en klagtes van rassisme onder die mat in te vee.

“Ek sal aanhou veg vir geregtigheid en gelykheid.”

Meer oor:  Faiez Jacobs  |  Khaya Magaxa  |  Sammy Claassen  |  Hofgeding  |  Politiek  |  Da  |  Laster  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.