Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
ANC-LP Bongani Bongo vas op nog ’n korrupsie-klag

Die Valke het Dinsdag ’n lasbrief vir die inhegtenisneming van die ANC-LP Bongani Bongo uitgereik, enkele ure nadat hy as voorsitter van ’n virtuele vergadering van die parlement se portefeuljekomitee oor binnelandse sake opgetree het.

Bongo het Dinsdag aan News24 bevestig dat hy saam met die Valke na Mbombela onderweg is waar hy na verwagting in die hof sal verskyn.

Bongani Bongo, ANC-LP, is Dinsdag deur die Valke in hegtenis geneem. Foto: Gallo Images

Volgens News24 se inligting hou die saak verband met aantygings van korrupsie teen Bongo toe hy as ’n amptenaar by die departement menslike nedersettings in Mpumalanga gewerk het. Hoewel lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, nie name bekend gemaak het nie, het hy gesê “ ’n senior staatsamptenaar” tel onder die 11 mense wat van bedrog en korrupsie aangekla word “in verband met twyfelagtige grondtransaksies ter waarde van byna R124 miljoen”.

Die beskuldigdes sal na verwagting Woensdag in die landdroshof in Mbombela verskyn.

“Daar word beweer dat ’n klag in Februarie 2012 ingedien is dat die Msukaligwa-munisipaliteit in 2011 ’n plaas by Ermelo ter waarde van R11 miljoen teen sowat R36,4 miljoen gekoop het om ’n nedersetting te ontwikkel terwyl die munisipaliteit reeds ’n plaas besit het wat vir dieselfde doel gebruik kon word,” sê Nkwalase.

“ ’n Fluitjieblaser het ondersoekers oor twee ander transaksies ingelig waarby twee plase betrokke was – ’n plaas van 70 ha in Malelane van R44 miljoen wat na bewering in 2011 teen R50 miljoen aan die munisipaliteit verkoop is, en ’n plaas van 74,2 ha in Naauwpoort, Emalahleni, van R16 miljoen wat glo vir R37,5 miljoen verkoop is,” sê hy.

Volgens Nkwalase was die gesamentlike waarde van die drie plase sowat R70 miljoen, maar “deur die beweerde samespanning van die verdagtes” het die departement van menslike nedersettings in Mpumalanga ’n verlies van net minder as R124 miljoen gely.

Bongo staan ook tereg op aanklagte van korrupsie en omkopery in ’n afsonderlike saak, waarvoor hy na verwagting op 27 November in die landdroshof in Kaapstad sal verskyn.

Hy word daarvan beskuldig dat hy ’n parlementêre ondersoek na staatskaping by Eskom op 10 Oktober 2017 probeer ontwrig het.

Luidens ’n beëdigde verklaring van adv. Ntuthuzelo Vanara, wat die getuienisleier in dié ondersoek was, het Bongo hom gevra om te maak asof hy siek is en siekteverlof te neem omdat die ondersoek nie in die getuienisleier se afwesigheid sou kon voortgaan nie.

Hy het glo aangebied om omkoopgeld aan Vanara te betaal.


Meer oor:  Bongani Bongo  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.