Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
ANC se Danny Msiza wen hofgeding oor Motau-verslag

Danny Msiza, ANC-tesourier in Limpopo, moes die geleentheid gekry het om sy kant van die saak te stel voordat verdoemende bevindings teen hom in die omstrede VBS-verslag gepubliseer en openbaar gemaak is.

Danny Msiza

Dít was Dinsdag een van regter Vivian Tlhapi se sleutelbevindings toe sy Msiza se aansoek teen die bevindings teen hom in adv. Terry Motau se The Great Bank Heist-verslag hersien en tersyde gestel het.

Die regter het bevind dat Motau se versuim om aan Msiza “prosedurele regverdigheid” te bied voordat hy sy verslag uitgereik het, was “onwettig en ongrondwetlik”.

Msiza het die bevindings teen hom deur Motau en die Reserwebank in die hooggeregshof in Pretoria betwis.

Msiza het Dinsdag in reaksie gesê die uitspraak stuur ’n “duidelike boodskap dat die howe altyd daar sal wees om die regte van onskuldige mense te beskerm”.

“Ek is diep verlig en diep nederig daaroor. Die uitspraak bevestig die oppergesag van die Grondwet en die onafhanklikheid van die regbank,” sê hy.

Vroeër is berig dat die ANC se onlangse besluit om hom en Florence Radzilani, oudburgemeester van die Vhembe-munisipaliteit, ná twee jaar weer in hul poste aan te stel nadat hulle weens Motau se bevindings geskors is, tot erge ontevredenheid in die party gelei het.

Die verslag is op 5 Oktober 2018 uitgereik en het in totaal 53 mense geïdentifiseer wat betalings van gesamentlik sowat R1,8 miljard ontvang het.

Ek is diep verlig en diep nederig daaroor. Die uitspraak bevestig die oppergesag van die Grondwet en die onafhanklikheid van die regbank.

Luidens hofstukke het Msiza die Motau-verslag onder meer as “skandalig” beskryf omdat dit sy reputasie as politieke figuur, sakeman en getroude man erge skade berokken het. Dit terwyl dit ook “ongekende ellende” vir sy vrou, kinders, familie, vriende en kollegas veroorsaak het wat deur die valse en lasterlike bewerings “gemartel” is.

Hy het ook vir sy veiligheid gevrees.

Msiza het aangevoer dat die bevinding in die verslag dat hy die “sogenaamde meesterbrein” was wat sy “politieke invloed op verskeie geleenthede misbruik het” en ook dat hy sonder empiriese bewyse die omkoop van munisipale amptenare gefasiliteer het om munisipaliteite se geld by VBS te belê, is vals en skend sy grondwetlike regte.

Hy het ook aangevoer dat hy weens die verslag en mediaberigte daaroor ook polities aangeval en persoonlik ondersoek is.

Hy het aangevoer dat hy sy kant van die saak sou kon stel as Motau hom voor die publikasie van die verslag genader het om kommentaar op die bewerings teen hom te lewer.

Tlhapi het gesê die aansoek het “regtig gegaan oor die skending van ’n reg tot regverdige prosedure deur Motau en dat Msiza die kans gebied moes word om sy kant te stel voordat die verslag gepubliseer is”.

Volgens haar is sy nie versoek om “die waarheid of nié in die beëdigde verklarings te evalueer of om die regverdigheid van die inhoud van die verslag” te oorweeg nie.

Sy het gesê die bewyse wat die verslag ontrafel het, sal “heel waarskynlik antwoorde gee oor die ongerymdhede by VBS” wat op strafregtelike en siviele stappe teen die oortreders kan uitloop.

Meer oor:  Danny Msiza  |  Limpopo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.